Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US kry nuwe Skool vir Klimaatstudie
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 22/04/2021

​In wat beloof om 'n baanbrekersinisiatief in die stryd teen klimaatsverandering te wees, staan die Universiteit Stellenbosch (US) op die punt om 'n nuwe Skool vir Klimaatstudie van stapel te stuur. Die amptelike bekendstelling vind in Junie 2021 plaas.

Die Skool sal transdissiplinêre vermoë bou om die klimaatsverwante kennisstelsels van US-fakulteite, die klimaatsbeleide en -inisiatiewe van die openbare sektor, die klimaatsherstel-en-innovasievermoëns van die privaat sektor sowel as die US se missie van sosiale impak op akademiese én praktiese maniere te integreer – alles ter ondersteuning van die oorgang na 'n klimaatsveerkragtige samelewing en 'n laekoolstof-ekonomie.

Visie

Die visie van die Skool is om 'n wêreldklasinstelling vir inter- en transdissiplinêre klimaat- en verbandhoudende studie in en vir Afrika te wees, en om navorsingsvennootskappe met ander entiteite, sowel nasionaal as internasionaal, te ondersteun en aan te moedig. Die nuwe struktuur het 'n wye opdrag om oor alle US-fakulteite, -sentrums en -institute heen én saam met ander nasionale en internasionale hoëronderwysinstellings en openbare en privaat ondernemings te werk.

Volgens prof Eugene Cloete, die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, is dít die eerste skool van sy soort in Suid-Afrika wat oor fakulteitstatus beskik.

Hy voeg by: “Suid-Afrika dra aansienlik tot kweekhuisgasse op die Afrikavasteland by. Dit het noodsaaklik geword om na 'n groener ekonomie te begin beweeg. Die Universiteit Stellenbosch het die kundigheid om leiding te neem deur navorsing en innovasie, en het byvoorbeeld reeds voorpuntnavorsing oor hernubare energie gedoen. Stellenbosch gee ook reeds die toon aan in die strewe na 'n koolstofneutrale universiteit."

Samewerking

Die Skool sal navorsing onderneem, kurrikulumontwikkeling koördineer en nagraadse opleiding, advies- en konsultasiedienste sowel as tegnologieoordrag op die verskillende terreine van klimaatstudie fasiliteer. Dít sal gedoen word deur 'n netwerk navorsers by die US en ander universiteite, instellings en organisasies binne en buite Suid-Afrika te betrek by aktiewe samewerking aan studies oor die klimaat en die toepassing daarvan. 'n Voorbeeld van die tipe samewerking waarby die Skool betrokke sal wees, is die Globale Universiteitsalliansie oor die Klimaat (GUAC), wat die universiteite van Oxford en Cambridge, Massachusetts Instituut vir Tegnologie (MIT), die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, en ander toonaangewende universiteite oor die hele wêreld insluit. Die US is tans die enigste Afrikalid van GUAC.

Die pad vorentoe

Volgens Cloete het die ontwikkeling van nuwe voor- en nagraadse kurrikula (modules) oor klimaatstudie reeds 'n aanvang geneem. “Ons glo elke student wat aan die US gradueer, moet die belang van die klimaat verstaan, en weet hoe om in hulle onderskeie werkplekke besluite te neem om klimaatsverandering teen te werk deur 'n groen ekonomie te skep. Die US werk ook tans aan 'n magistergraad in klimaatstudie om hoëvlakvermoë op hierdie gebied te bou.

“Suid-Afrika en die Afrikavasteland het 'n dringende behoefte aan menslike vermoë om klimaatsverandering die hoof te bied, van beleidvormers op regeringsvlak tot persone wat praktiese oplossings teen klimaatsverandering kan implementeer. Die verskuiwing na 'n groen ekonomie sal vele nuwe loopbane op die gebied van ingenieurswese, vervaardiging, landbou, hernubare energie sowel as navorsing oor die vernaamste dryfvere van klimaatsverandering skep. Feitlik elke bedryf sal geraak word."

Meer oor die Skool vir Klimaatstudie

Die Skool vir Klimaatstudie by die US sal aan die volgende kernbedrywighede deelneem:

1.       Navorsing en ontwikkeling

  • Konsolidasie en integrasie van huidige denke oor die klimaat, veral in Afrika, waaronder klimaatsveranderlikheid en -verandering, en die vele interaksies tussen menslike sosio-ekonomiese en ekologiese stelsels en die klimaatstelsel
  • Ontwikkeling en implementering van 'n vernuwende, Afrikagerigte navorsingsprogram wat op bestaande én nuwe kwessies reageer om klimaatsinvloede en aanpassing- sowel as temperingsreaksies te verstaan, en sodoende menslike klimaatsveerkragtigheid ondersteun
  • Beskikbaarstelling van navorsingsbevindinge deur middel van publikasies, navorsingsreferate, seminare, kortkursusse en verspreiding onder tersaaklike belanghebbendes, wat die algemene gemeenskap insluit
  • Verkryging en bestuur van gespesialiseerde klimaatstudietoerusting, -sagteware en -fasiliteite om die vereiste platforms vir data-intensiewe navorsing en innovasie te skep

2.       Leer en onderrig

  • Fasilitering en ontwikkeling van kurrikula, kennisuitruiling oor klimaatsopleiding en -leer oor verskillende US-fakulteite deur voor- en nagraadse modules, en die koördinering van klimaatsopleiding tussen fakulteite. Die gehalteversekering van voor- en nagraadse modules sal die onderskeie fakulteite se verantwoordelikheid wees.
  • Vaardigheidsontwikkeling met betrekking tot die klimaat (monitering, impak en aanpassing) deur studente se navorsingsprojekte
  • Aanbieding van klimaatsverwante werksessies, kortkursusse, opleidingsgeleenthede, kongresse en ander gepaste geleenthede, soos somer- en winterskole

3.       Samewerking, vermoëbou en konsultasiewerk

  • Versterking en uitbreiding van huidige klimaatstudiesamewerking by die US
  • Fasilitering van nuwe klimaatsnavorsingsvennootskappe en -samewerking tussen die US se fakulteite
  • Vestiging van nuwe klimaatsverwante strategiese vennootskappe en samewerking met ander navorsers en instellings in Suider-Afrika, die res van Afrika en die wêreld
  • Ontwikkeling van nuwe akademiese vermoë, loopbane en infrastruktuur vir klimaatstudie by die US
  • Skep van geleenthede vir studente om werksondervinding op te doen by toonaangewende nasionale en internasionale openbare en privaat entiteite wat met fundamentele en toegepaste klimaatstudie gemoeid is, terwyl die entiteite op hulle beurt toegang tot begaafde studente ontvang

4.       Kommersialisering en sosiale impak

  • Voorsiening van konsultasiedienste aan ander departemente en afdelings by die US sowel as aan kliënte en vennote buite die US, sover die Skool se vermoë en die US-beleidsraamwerk dit toelaat
  • Voorsiening van klimaatskundigheid aan die bedryf en ander privaat en openbare organisasies
  • Deelname aan die ontwikkeling en toepassing van klimaatsverwante tegnologieë wat algemener maatskaplike kwessies soos diversiteit, inklusiwiteit, armoedeverligting en werkskepping bevorder