Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Risiko van ʼn 'derde golf'
Outeur: Prof Stan du Plessis: ICBC Chair
Gepubliseer: 22/04/2021

​22 April 2021

Beste kollegas en studente

Die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) van die Universiteit Stellenbosch het Woensdag, 21 April 2021 vergader. Hier het die mediese advieskomitee en die sewe werkstrome (vir studentedienste; personeel; leer en onderrig; kommunikasie, sosiale impak en eksterne betrekkinge; kampusbedrywighede; finansies en regsaangeleenthede; en navorsing) wat gesamentlik die US se reaksie op die koronaviruspandemie (COVID-19) bestuur, terugvoer gegee. Lees asb verder vir meer inligting.

Risiko van 'n derde golf

Prof Juliet Pulliam, Direkteur van die DWI-NNS Suid-Afrikaanse Sentrum vir Epidemiologiese Modellering en Analise (SACEMA) wat by die US gesetel is, het die vergadering toegelig oor die vooruitsig van 'n moontlike derde golf koronavirusinfeksies in Suid-Afrika.

Hoewel ons moed kan skep uit die feit dat relatief min mense tans positief toets vir die virus, is daar nogtans rede tot kommer as 'n mens na die “tydswisselende reproduksiegetal" kyk, waarna verwys word as R.

Epidemioloë gebruik hierdie getal om die vermoë van 'n siekte om onder 'n bevolking te versprei, te meet. 'n R-waarde van 1 beteken elke mens wat die siekte opdoen, sal gemiddeld nog een persoon aansteek; en indien hierdie waarde bo 1 styg, sal die siekte waarskynlik vinnig versprei.

Sedert Februarie het die R-waarde van COVID-19 in Suid-Afrika geleidelik gestyg tot waar dit nou naby aan 1 in alle provinsies is. Dit het prof Pulliam genoop om te waarsku dat “daar 'n aansienlike moontlikheid" is dat die pandemie weer kan opvlam.

Kollegas en studente, gegewe die stygende R-waarde, moet ons baie versigtig wees en dubbel seker maak ons tree veilig op.

Volgens prof Pulliam, is die grootste aandrywer vir 'n moontlike derde golf riskante gedrag, veral toenemende kontak tussen mense en die verontagsaming van gesondheidsprotokols. Met die verloop van tyd word mense moeg om versigtig op te tree en verslap hulle hul waaksaamheid. Dit kan daartoe lei dat nie-farmaseutiese intervensies om die siekte te bekamp nie meer gevolg word nie, en ook nie openbare gesondheids- en sosiale maatreëls nie.

Dit sal 'n fout wees wat ons nie kan bekostig nie. Hoe meer kontak daar is, hoe groter die kans om die siekte op te doen. Dit is waarom ons so min as moontlik moet rondbeweeg en by ons reëls moet hou om 'n masker te dra, op 'n veilige afstand van ander te bly, en om ons hande te was en oppervlakke ontsmet.

Skole en universiteite speel veral 'n belangrike rol, omdat die gedrag van jongmense potensieel die pandemie kan laat versprei. 'n Gevallestudie oor die tweede golf in die Oos-Kaap het byvoorbeeld getoon dat dit voorafgegaan is deur 'n toename in infeksies onder jonger mense tussen die ouderdomme van 10 en 25 jaar.

COVID-19 by US

Volgens ons Kampusgesondheidsdiens (KGD) is daar tans gelukkig geen aanduiding van kluster-uitbrekings of brandpunte in koshuise nie. Die aantal positiewe gevalle bly redelik laag en is oor ons kampusse versprei. Gedurende die week van 12–18 April het een personeellid (uit 3 498) en 19 studente (uit 31 540) positief getoets.

Let asb daarop dat dit nie 'n omvattende weerspieëling van die COVID-19-status van alle US-personeel en -studente is nie, aangesien ons nie self enige toetsing doen nie. Hierdie syfers is saamgestel uit inligting wat die KGD op ons kampusse versamel het, asook uit inligting wat deur plaaslike owerhede verskaf is en die toetsuitslae van sowel staats- as private laboratoriums weerspieël.

Ek wil elkeen bedank wat die afgelope paar weke aan ons COVID-19-protokols gehoor gegee het. Ek is egter baie bekommerd oor nuus van studentebyeenkomste op ons kampusse en omstreke waar protokols nie nagekom word nie. Dit is onverantwoordelik en stel ons hele instelling in gevaar.

Eerstens kan COVID-19 dodelik wees. En tweedens weet ons uit ondervinding dat indien die infeksiekoers sou styg, inperkings heel waarskynlik as 'n voorkomende maatreël ingestel sal word. Ons heg groot waarde aan die ervaring om op kampus te wees. Om dit te kan aanhou geniet, moet ons almal ons deel doen om te voorkom dat die siekte versprei. ​

Ek wil ons studente graag aan die US se COVID-19-gedragskode herinner. Die dokument gee leiding oor die maatreëls wat ons almal moet nakom. Die gedragskode geld vir alle US-studente.  

Veiligheidsmaatreëls

Dit mag dalk soms ongerieflik wees, maar veiligheid kom eerste. Dit is waarom ek nie omgegee het toe ek onlangs nie toegelaat is om 'n gebou op kampus binne te gaan alvorens ek nie bewys kon lewer dat ek die nodige goedkeuring op my selfoon van Higher Health se daagliks risiko-assesseringsinstrument, HealthCheck (https://healthcheck.higherhealth.ac.za), gehad het nie.

Die IKBV het ook sy waardering teenoor ons studenteveiligheidsambassadeurs uitgespreek. Hulle is op verskillende plekke op kampus gestasioneer en kan aan hul heldergroen veiligheidspette en -baadjies uitgeken word. Ons is ook dankbaar vir die werk wat die COVID-19-voldoeningsbeamptes regoor die Universiteit doen.

Die IKBV het bevestig dat die dra van maskers verpligtend is – in enige openbare ruimte, insluitende lesinglokale. Dit geld nie net studente nie, maar ook dosente, selfs terwyl hulle klasgee. 'n Gesigskerm is nie voldoende nie. Ons besef dit is dalk moeiliker om hulle goed te hoor, maar die gebruik van 'n weggooibare chirurgiese masker kan moontlik hiermee help. Dit is wel nie ideaal nie, maar ons moet veiligheid eerste stel.

2021-akademiese jaar

Dit is vir my aangenaam om te kan aankondig dat die nuwe riglyne oor 'n nasionale raamwerk en kriteria vir die bestuur van die 2021-akademiese jaar by openbare en private hoëronderwysinstellings (Directions on a National Framework and Criteria for the Management of the 2021 Academic Year in Public and Private Higher Education Institutions) op 29 Maart in die Staatskoerant gepubliseer is. Ons besluit om al ons studente op die kampus toe te laat, is in ooreenstemming met hierdie riglyne.

Die Viserektor vir Leer en Onderrig, prof Deresh Ramjugernath, het aangedui dat die inwerkingstelling van ARTLA (aangevulde afstandsonderrig, -leer en -assessering wat aanlyn sessies met soveel as moontlik onderrig in persoon binne die beperkings van COVID-19 behels) redelik glad verloop. Die meeste van die probleme wat aanvanklik ondervind is, is opgelos.

Lokale waar studente op kampus kan werk en toegang tot WiFi het sodat hulle lesings kan volg wat regstreeks op die internet uitgesaai word, is geïdentifiseer en studente is daarvan ingelig (klik hier). Studente is ook na die interaktiewe kaart van die US-kampus verwys wat inligting oor lokale met WiFi-toegang bevat.

Die voorsitter van die US se Studenteraad, Xola Njengele, het die IKBV ingelig oor gevalle van onstabiele WiFi-verbindings. Ons kollegas by die Afdeling Informasietegnologie werk aan die inwerkingstelling van 'n WiFi-plan vir die kampus om die situasie te verbeter.

Ek het ook fakulteite en steundiensafdelings versoek om te kyk of hulle meer fasiliteite oor naweke kan oopstel en aan studente beskikbaar kan stel.

Ek wil hierdie geleentheid gebruik om ons studente alle sterkte toe te wens vir die eerste rondte assesserings van die jaar (A1). Ons koester hoë verwagtinge vir julle en is seker julle sal sukses behaal. Maar ek weet dit is nie altyd maklik nie. Enigeen wat hulp benodig, moet asb nie huiwer om by ons Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling aan te klop nie (skakel 021 808 4707 of stuur 'n e-pos na studysuccess@sun.ac.za).

Werks- en verlofreëlings vir personeel

Die Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, prof Nico Koopman, het die IKBV ingelig dat die buigsame reëling waarvolgens omgewings besluit of personeellede kan voortgaan om van die huis af te werk, of na die werksplek moet terugkeer op grond van wat vir die behoorlike funksionering van die Universiteit verlang word, insluitende spesifieke omgewings, meestal glad verloop. (Klik hier vir 'n vorige skrywe).

Personeellede word ook aan die veranderinge aan verlofreëlings herinner wat op 26 Maart aangekondig is (klik hier). Daar is 'n paar aanpassings, maar let asb spesifiek daarop dat verlof vir die 2019-siklus wat nie voor die einde van Julie 2021 gebruik word nie, verbeur sal word; en verlof van die 2020-siklus wat nie voor die einde Desember vanjaar gebruik word nie, sal ook verbeur word.

Ter wille van ons personeel se gesondheid en welstand, moedig ons personeel en lynbestuurders aan om te verseker dat verlof op geskikte tye geneem word.

Ten slotte

Kollegas en studente, ons vorder goed, maar kom ons bly waaksaam, want die gevaar wat die pandemie inhou, is nog glad nie verby nie. Ons lewe in onseker tye en dinge kan vinnig verander. Indien ons nie versigtig is nie, kan ons 'n opvlamming van infeksies beleef, en die gevolge hiervan kan die akademiese projek en ons eie lewens erg ontwrig. Ons bestuur 'n hoogs ongewone situasie en ek is dankbaar vir die goeie samewerking wat ons ontvang. Maar ons moet op koers bly om die huidige akademiese jaar suksesvol te voltooi, terwyl ons terselfdertyd die beste moontlike ervaring en ondersteuning aan ons studente bied, en ook as 'n instelling volhoubaar bly.

Wees asb versigtig en veilig,

Prof Stan du Plessis
Voorsitter: IKBV