Na aanleiding van die onlangse katastrofale brand op Tafelberg het dr Alanna Rebelo, nadoktorale navorser by die Universiteit Stellenbosch (US), en prof Karen Joan Esler, hoof van die US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie, 'n artikel gepubliseer oor waarom dié brand juis so verwoestend was. Die artikel het op die platform The Conversation verskyn.
Die brand wat vandeesweek verwoesting gesaai het teen die hange van Tafelberg in Kaapstad het opnuut die aandag gevestig op die bestuur van 'n ikoniese bergreeks waar van die mees biodiverse plantegroei ter wêreld voorkom. En op wat gedoen moes – en kon – word om die risiko te verlaag van 'n katastrofe wat kultuurerfenis van onskatbare waarde vernietig het.
Tafelberg Nasionale Park is oortrek met fynbos – 'n kenmerkende tipe plantegroei wat slegs in Suid-Afrika voorkom – en is in die hartjie van die Kaapse metropool geleë.
Fynbos is 'n hoogs brandbare struik wat oor millenniums ontwikkel het om vir oorlewing op vuur staat te maak. Dit móét brand. Volgens die wetenskap sal die meeste fynbos in natuurlike omstandighede gemiddeld elke 12 tot 15 jaar brand.
Daarom beteken fynbosbestuur ook brandbestuur.
Brandgevaar word deur drie faktore beïnvloed: die weer, 'n ontbrandingsbron en brandstofhoeveelhede.
Die weer kan 'n invloed op brande hê deurdat sterk wind dit vinniger kan laat versprei, of deur droë kolle plantegroei te skep nadat dit 'n ruk lank warm was. Weerlig of brandstigting is moontlike ontbrandingsbronne.
Sowel die weer as ontbrandingsbronne is moeilik om te keer en te beheer; nietemin ontvang dit dikwels die meeste aandag in die media. Die een faktor wat wél moontlik is om te beheer, is brandstofhoeveelhede. Brandstofhoeveelhede by fynbos kan beperk word deur ekologiese brande uit te voer en uitheemse indringerbome van die berg te verwyder.
Verskeie kwessies kan die skuld kry vir die onlangse wegholveldbrand op Tafelberg: brandonderdrukking, uitheemse bome, beperkte begrotings, en beleid wat nie juis die saak ondersteun nie. Gesamentlik skep dit 'n ontembare probleem. Klimaatsverandering het moontlik ook 'n rol gespeel in die hoë temperature en sterk wind in die tyd toe die brand uitgebreek het, hoewel oorsaaklikheidstudies dít sal moet bevestig.
Klik hier vir die volledige artikel:
*Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp: Fire fighters are seen after a fire, which started on table mountain.