Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldgehalte platvorm vir Wingerdopleiding en -navorsing bekendgestel
Outeur: Jana Loots
Gepubliseer: 18/04/2021

Die Universiteit Stellenbosch en Vinpro het sopas ʼn wêreldgehalte platform vir wingerdopleiding en -navorsing by die Welgevallen-proefplaas in Stellenbosch bekendgestel.

“Die Welgevallen Opleidings- en Navorsingswingerde, wat in samewerking met die US se Departement Wingerd- en Wynkunde staangemaak is, sal nie net aan studente en navorsers van die universiteit ʼn uitnemende opleidings- en navorsingsplatform bied nie, maar is ook ʼn uitstekende platform vir kennisoordrag na die breër wynbedryf," het prof Danie Brink, dekaan van die US se Fakulteit AgriWetenskappe, tydens die amptelike bekendstelling in Stellenbosch vandag gesê.

Die US se Fakulteit AgriWetenskappe befonds die projek en het die wynbedryfliggaam Vinpro aangestel om dit oor die volgende drie jaar te implementeer as deel van die organisasie se Gen-Z-wingerdprojek, wat ten doel het om kennisoordrag in die Suid-Afrikaanse wynbedryf te bevorder deur praktiese demonstrasies en wingerdproewe.

Ses doelgerigte wingerdblokke

Nagenoeg 4.5 ha van die US se voormalige opleidingswingerde is in 2019 uitgekap en in 2020 met ses uiteenlopende wingerdblokke vervang, wat onderskeidelik op wynbereiding, prieelstelsels, tradisionele en nuwe wyndruifsoorte, klone en onderstokke, besproeiing, snoeistelsels en tafel- en droogdruifverbouing fokus.

Die wynbereidingsblok bestaan uit 19 wit en rooi wyndruifkultivars wat deel vorm van die voorgraadse wingerd- en wynwetenskapstudente se kurrikulum om prakties wyn van te maak. In die prieelstelselblok word een druifsoort, naamlik Chenin Blanc, op 19 verskillende prieelstelsels opgelei en as bosstok verbou om die onderskeie prieelstelsels en die effek van stokspasiëring op wortelverspreiding te demonstreer.

'n Wingerdblok toegewy aan besproeiingsbestuur is noukeurig deur die projek- en navorsingspan van die Departement van Wingerd- en Wynkunde ontwerp spesifiek met die oog op waterbestuurnavorsing. Die wynbedryfligaam Winetech gaan hierdie projek in die toekoms befonds. Die kultivarblok, wat uit meer as 80 druifsoorte bestaan, vertoon die uiteenlopende kenmerke van verskillende kultivars, klonevariasies en onderstokke.

Nog ʼn wingerdblok demonstreer 10 uiteenlopende snoeistelsels, insluitend die Guyot-,    kortdraer-, Cazenave-, boks-, gemeganiseerde en die Italiaanse Simonit & Sirch-snoeistelsels. Laastens, ʼn tafel- en droogdruifblok is die eerste in sy soort op dié perseel en beskik oor meer as 20 tafel- en droogdruifvariëteite wat op ses verskillende prieelstelsels opgelei word.

“Die nuwe opleidings- en navorsingswingerde, wat in oorleg met die Departement van Wingerd- en Wynkunde se kurrikulum ontwerp is, stel studente aan soveel moontlik wingerdbestuurspraktyke bloot en bied uitstekende navorsingsgeleenthede," sê Talitha Venter, dosent aan die departement wingerd- en wynkunde wat die projek saam met die Gen-Z-span oorsien. “Huidige studente ervaar alle prosesse verbonde aan wingerdvestiging eerstehands, terwyl generasies vorentoe voordeel sal trek uit goed beplande, goed ontwikkelde wingerde waarin hulle waardevolle praktiese ervaring sal opdoen."

Die wingerde sal ook in die toekoms benut word vir opleiding en kennisoordrag aan produsente en wingerdwerkers, en aan insetverskaffers die geleentheid bied om nuwe tegnologie of produkte by hierdie perseel te evalueer en demonstreer.

Nuwe, toekomsgerigte fase

“Die vestiging van hierdie wêreldgehalte perseel vir wingerdopleiding en -navorsing het voortgevloei uit die US en Fakulteit AgriWetenskappe se eeufeesvieringe in 2019, en simboliseer die oorgang na ʼn volgende fase van vernuwing, innovasie, tegnologie en kennisoordrag," sê prof Brink.

“Die US sal slegs as ʼn wêreldgehalte instansie kan bly voortbestaan deur vennootskappe. Deur met ons vennote in die wynbedryf – Vinpro, Winetech en hul netwerk van kundiges – hande te vat, het ons dit reggekry om die brug tussen die akademici en die privaatsektor te oorkruis, en terselfdertyd 'n platform vir vindingrykheid en kreatiewe leer staan te maak. Ons bou hiermee ook ons intellektuele kapitaal op en daag die volgende generasie studente en navorsers uit om geleenthede soos hierdie perseel aan te gryp om vorentoe ʼn merkbare verskil in die bedryf te maak."

“Vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf om internasionaal mededingend te bly, moet ons voortdurend innoveer en ons mense met die regte vaardighede toerus. Dis daarom baie belangrik dat die bedryf en akademiese instansies nou saamwerk," sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson. “Die vennootskap tussen die wynbedryf en die US strek oor meer as 100 jaar, en ons is daarom opgewonde om deel te hê aan hierdie mylpaal wat as boublok vir innovasie en talentontwikkeling vir generasies vorentoe dien.

“Die Gen Z-wingerdprojek het ten doel om demo-persele regoor die wynbedryf te vestig waarvan die tegnologie-oordrag in die langtermyn vir die wynbedryf wesenlike waarde sal inhou," sê Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se Gen Z-projek. “Ons betrokkenheid as projekleiers by die vestiging van hierdie doelgerigte wingerdblokke by Welgevallen was daarom ʼn natuurlike volgende stap om studente en navorsers van die onderskeie akademiese instansies, maar ook die breër wynbedryf – insluitend wyndruifprodusente, wingerdboukundiges, wynmakers en wingerdwerkers – aan die nuutste tegnologie, wingerdpraktyke en plantmateriaal bloot te stel en sodoende ons gesamentlike kundigheid na ʼn volgende vlak te neem."

“Hierdie projek sou nie moontlik wees sonder waardevolle ondersteuning van die bedryf in terme van die skenking van plantmateriaal, pale, draad, besproeiingsmateriaal en meer, asook hul kundigheid en tyd nie. Ons bedank elkeen vir hul bydrae en moedig graag enige ander instansies aan om betrokke te raak," sê Francois.

​Buiten die opleidings- en navorsingswingerde, word 16 ha wingerde vir kommersiële doeleindes oor die volgende drie jaar gevestig, waarvan die aanplantings later vanjaar afskop.