Soos baie taalwetenskapdepartemente oor die wêreld heen het ons Pieter Muysken se werk gelees en aan ons studente voorgeskryf – en maak ons steeds so. Ons het egter ook tot ons vreugde vir Pieter persoonlik leer ken, eers in 2004 as PhD-studieleier van een van ons kollegas en later (van 2011 af) as buitengewone professor in ons departement. Sy periode as fellow van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) was vir die departement 'n aangename geleentheid om saam met Pieter tyd deur te bring – akademies en sosiaal.
Pieter was 'n interessante mens, maar ook 'n geïnteresseerde een. Hy was natuurlik geïnteresseerd in Afrikaans en die geskiedenis daarvan, asook in taalkontak en kodewisseling in Suid-Afrikaanse kontekste, maar die geskiedenis van Suid-Afrika en haar uiteenlopende mense, plaaslike gebeure, die natuurerfenis van ons land en minder bekende besienswaardighede het hom ook aangegryp. Hy het byvoorbeeld tydens sy besoek aan Grahamstad om as gasspreker op te tree by die jaarlikse linguistekonferensie wat daardie jaar by Rhodes Universiteit gehou is, daarna uitgesien om die dorp se sterrewagmuseum te besoek – dit terwyl die meeste Suid-Afrikaanse konferensiegangers salig onbewus van die bestaan van die museum was. Dit het gelyk asof die idee van 'n besoek aan hierdie klein museumpie hom net so opgewonde maak as die walvisse wat hy by Hermanus sien baljaar het. Pieter was geen plesiersoeker nie, maar hy was beslis 'n plesiervinder, en hy het die gawe gehad om beide groot en klein dinge terdeë te geniet.
Pieter het tydens sy besoeke voorlesings en seminare vir personeel en studente gelewer oor taalkontakverskynsels, maar hy het ook 'n merkwaardige tradisie ingestel: Op sy versoek is daar navorsingsvoordragdae gereël. Meestersgraad- en doktorale studente het dan die geleentheid gekry om hul navorsingsvoorstelle (en hul studie soos dit op daardie tydstip gestaan het) aan Pieter, ander personeellede van die departement en mekaar voor te dra. Die studente het ryklik gebaat by Pieter se diep kennis, skerp insig en sinvolle kommentaar en voorstelle. Maar wat ons as personeel sal bybly, is die opregte belangstelling van Pieter (een van die wêreld se heel beste sosiolinguiste) in die werk van beginnernavorsers, selfs al het hul werk nie eens oor taalkontak- of taalstruktuurverskynsels gehandel nie. Dit getuig vir ons van Pieter se wye belangstellingveld, maar ook van sy nederigheid ten spyte van sy statuur as akademikus.
Hoe sal ons vir Pieter onthou? As 'n akademiese superster sonder aanstellerigheid – een wat vrygewig was met sy tyd, kennis en geld, wat ewe gemaklik met voorgraadse studente as met rektore gesels het, wat lewenslustig was en wat altyd gelag het. Toekomstige generasies taalwetenskaplikes in ons departement en elders sal baat by sy baanbrekerswerk, maar hulle sal nie Pieter die Energieke Mensemens leer ken nie – ons is spyt daaroor, maar dankbaar vir die voorreg wat ons gehad het om hom deel van ons departement te kon hê. Vir baie van ons het hy verander hoe ons deur die werkslewe loop.