Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Eugene Cloete as voorsitter van EOHO-inisiatief verkies
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 12/04/2021

Prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, by die Universiteit Stellenbosch (US), is as voorsitter van die Entrepreneurskapsontwikkeling in Hoër Onderwys (EOHO) se Gemeenskap van Praktyk (GvP) vir Ondernemende Universiteite verkies.

Die EOHO-program is die departement Hoër Onderwys en Opleiding (DHOT) se reaksie op die hoë vlakke van werkloosheid in Suid-Afrika. Die program is 'n vennootskap met die Universiteit Suid-Afrika (USAf) met die doel om studente-entrepreneurskap te ondersteun en om entrepreneuriese akademici en universiteite te ontwikkel.

“Dit is vir my 'n groot eer om as voorsitter verkies te word van so 'n belangrike inisiatief in die hoëronderswyssektor waaraan al 26 openbare universiteite in Suid-Afrika sal deelneem. Dit is 'n betekenisvolle erkenning van my kundigheid en passie vir entrepreneurskap," sê Cloete.

“Die Universiteit Stellenbosch word nie net as 'n navorsingsintensiewe universiteit nie, maar ook as een van die voorste entrepreneuriese universiteit in die land erken. As voorsitter sal ek die geleentheid kry om beste praktyke met ander universiteite in Suid-Afrika en ook in die res van die wêreld te deel," voeg Cloete by.

Cloete sal as voorsitter van die EOHO GvP vir Ondernemende Universiteite 'n belangrike rol speel om die navorsings- en wetenskaplike vermoëns van deelnemende universiteite en organisasies se kennis- en navorsingsekostelsels as invloed aan te wend. Die GvP sal deelnemende universiteite en organisasies se kennis- en navorsingsekostelsels in verbinding met ander kennis- en navorsingsekostelsel in Suid-Afrika en die res van Afrika plaas.  

Sy ander prioriteite volgens die GvP se strategiese plan sluit in welvaartskepping, inklusiewe vooruitgang en getransformeerde bestaan en die uitbouing van transformerende vermoëns en omgewingsvolhoubaarheid.

Dr Norah Clarke, die direkteur van Entrepeneurskap by die EOHO, sê die EOHO-span voel geëerd om saam met iemand van prof Cloete se statuur en ondervinding te werk. “Ons sien uit daarna om hierdie GvP te in hul leidende rol te ondersteun. Ons sien ook uit daarna om te sien hoe hierdie samewerking universiteite vir hul veranderende rol in die land en in ons wêreld toerus."

Hy het baanbrekerswerk op die toepassings van nanotegnologie in die waterbedryf gedoen en het die toepassing van nanotegnologie getoon deur 'n watersuiweringsfiltreerder te ontwikkel en te patenteer wat op funksionele nanovesels gegrond is, wat veral toepaslik is in landelike gebiede. Die Scientific American-vaktydskrif het hierdie uitvindsel is as een van tien wêreldveranderende idees in 2010 beskryf.

Van sy ander belangrike waterbehandelingtegnologieë sluit in Rotoscope, 'n klein toestel om biofilm of slym wat in water en ander nat omgewings voorkom, te monitor, asook 'n bioreaktor vir die behandeling van wynkelders se afvalwater. Hy het ook baanbrekerswerk op die gebied van sonpasteurisasie gedoen as 'n metode om geoesde reënwater te ontsmet.

Sy navorsing oor die toepassing van nanotegnologie in die waterbedryf het tot nege patente gelei.

Cloete is ook die stigtersdirekteur van twee suksesvolle waterinstitute, onderskeidelik by die Universiteit van Pretoria (2004) en die US (2010). Hy het ook namens die Afrika-unie 'n netwerk van Watersentrums van Uitnemendheid in Suider-Afrika op die been gebring. Cloete se ministeriële aanstellings in die rade van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) in 2012 en die Waternavorsingskommissie (2014) gee duidelik erkenning aan sy bydrae tot beleidsvorming.

​Van die ander toekennings wat Cloete deur die jare ontvang het, sluit in 'n goue medalje van die Wetenskapakademie van Suid-Afrika, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Havengaprys vir Biologie en 'n silwer medalje van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Mikrobiologie. Hy is ook 'n genoot van die Amerikaanse Akademie vir Mikrobiologie, die Internasionale Watervereniging, die Waterinstituut van Suid-Afrika en die Koninklike Vereniging van Suid-Afrika. ​