Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch ontvang memorandum van DAK Netwerk
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 09/04/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) het vandag (9 April 2021) 'n memorandum van die DAK Netwerk in ontvangs geneem. Die memorandum hou verband met die Universiteit se hersiening van die Taalbeleid, en spesifiek met die posisie van Afrikaans wat vir die organisasie van belang is.

Dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, het die memorandum namens die Universiteit in ontvangs geneem. Die oorhandiging van die memorandum was deel van 'n optog wat deur die DAK Netwerk gereël is.

Die organiseerders het vooraf goedkeuring vir die optog ontvang en het met die Universiteit en die Stellenbosch Munisipaliteit geskakel oor die toepaslike protokols, veral in verband met COVID-19.

Van Rooi het gesê die US verwelkom insette en kommentaar op die konsep Taalbeleid. Hy het bygevoeg dat hy daarna uitsien om op ander maniere met belangegroepe saam te werk om die toekoms van Afrikaans as 'n taal van ons land, en as deel van 'n multikulturele en veeltalige universiteit, te verseker.

Prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, (in wie se portefeulje die Taalbeleid val), sê daar heers groot belangstelling in die hersiening van die Universiteit se Taalbeleid. “Die Universiteit verwelkom uiteenlopende menings en sienings en 'n robuuste debat. Dit is duidelik dat verskeie belangegroepe veral die posisie van Afrikaans op die hart dra, soos vandag se optog deur die DAK Netwerk ook bewys."

Die Universiteit moedig weer eens alle belangstellende partye en individue aan om aan die hersieningsproses deel te neem deur hul insette oor die eerste konsep van die hersiene Vertaalbeleid te verskaf. Dit moet op die digitale platform wat op die taalwebblaaie, www.sun.ac.za/language of www.sun.ac.za/taal beskikbaar is, ingedien word. Dit is die enigste formele kanaal wat die taakspan vir die Hersiening van die Taalbeleid sal oorweeg. Stuur tegniese navrae oor die indieningsproses per e-pos aan taal@sun.ac.za.

Die sluitingsdatum vir die indiening van insette is 12 April 2021.

  • Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het Woensdag bevestig dat hy COVID-19 opgedoen het. Hy was dus nie beskikbaar om die memorandum in ontvangs te neem nie, aangesien hy tans tuis in afsondering aansterk. Ander lede van die US se bestuurspan is ook in gevolge die toepaslike protokols tans in self-afsondering. 
  • Foto deur Anton Jordaan