Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-akademikus ontvang vername Vlaamse poësieprys
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 07/04/2021

​Die gevierde digter en dosent aan die Universiteit Stellenbosch (US), dr Alfred Schaffer, is as die 2021-wenner van die toonaangewende Herman de Conink-prys vir sy versameling poësie getiteld Wie was ik (“Wie was ek") aangewys.

Hierdie jaarlikse letterkundige prys wat ter nagedagtenis van die Vlaamse digter, essayis en joernalis, Herman de Conink (1944–1997), toegeken word, is daarop gemik om die beste poësieversameling van die jaar te bekroon.

“Dit is 'n groot eer en 'n wonderlike verrassing. Die lof van die jurie toon dat hulle werklik aansluiting gevind het by die poësie en by die doelwit van die gedigte," sê Schaffer.

Hy het die volgende oor sy werk te sê: “Ek het probeer om oor herinnering en om die verlede te memoriseer, en oor die onvermoë om dit wat vir altyd verlore is, te herleef en weer voor te stel, te skryf. Ek het my ma, wat op die Karibiese eiland Aruba (een van die Nederlandse Antilles) gebore is, as die hooffiguur gebruik. Dit is min of meer 'n toe-eiening, my interpretasie van haar ondervindings.

“My ma het net soos baie ander jong vroue in die vyftigerjare in Nederland as verpleegster kom werk. Ek het probeer om my haar lewe as 'n swart vrou in 'n land voor te stel wat in daardie stadium hoofsaaklik wit was. Uiteraard onthou ek van die stories, maar baie daarvan is vaag en onverifieerbaar. Sy het net ná my 18de verjaardag gesterf. My suster het verdrink toe sy nog baie klein was en my Nederlandse pa is 16 jaar gelede oorlede. Daar is dus 'n groot leemte ten opsigte van my begrip van my eie geskiedenis. Ek hoop die leser sal die breër konteks van migrasie, herinneringe en geskiedenis kan raaksien.

“Ek weet dit is uiters sentimenteel, maar ek kan nie anders nie as om te dink: 'Ek hoop my ouers en my suster sal hierdie raaksien, sal sien wat met Wie was ik gebeur'," voeg hy hunkerend by.

Schaffer, wat as een van die talentvolste Nederlandse digters van sy tyd beskou word, was ook die jongste wenner van die gesogte Nederlandse literêre prys, die PC Hooft-prys, toe hy as die 2021-ontvanger aangekondig is.

Daar het deur die jare talle poësie- en prosaversamelings uit Schaffer se pen verskyn. Dit sluit in Zijn opkomst in de voorstad (Sy opkoms in die voorstad; 2000); Dwaalgasten (Swerwers; 2002), wat vir die gesogte VSB-poësieprys benoem is; Geen hand voor ogen (Geen hande voor jou oë), Schuim (Skuim; 2006); and Kooi (Hok; 2008). Sy werk is ook al na Afrikaans, Engels, Frans, Duits, Masedonies, Turks, Indonesies en Sweeds vertaal.

Ander gesogte prys wat hy al vir sy werk ingepalm het, sluit in die gesogte Jo Peters-poësieprys, die Hugues C Pernath-prys, die Ida Gerhardt-poësieprys en die Jan Campert-prys.  

“Wanneer ek op die oomblik probeer om my laaste drie boeke te beskryf, neig ek na die idee van poësie as 'n gefragmenteerde storie – gefragmenteerd, maar nog steeds 'n vertelling – eerder as net 'n versameling individuele gedigte," sê Schaffer.

Schaffer het in Den Haag in Nederland grootgeword. Hy was die seun van 'n Arubaanse ma en 'n Nederlandse pa. Hy het Nederlandse taal- en letterkunde, asook Film- en Teaterkunde in Leiden in Nederland gestudeer. Hy het in 1996 na Suid-Afrika verhuis om sy nagraadse studie aan die Universiteit van Kaapstad voort te sit.

By sy terugkeer na Nederland in 2005 het hy as 'n redakteur by 'n Nederlandse uitgewer gewerk voordat hy in 2011 na Suid-Afrika teruggekeer het. Hy is tans as 'n dosent by die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch verbonde.

Afgesien van sy eie poësie en prosa, het Schaffer ook deur die jare 'n belangrike bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde gelewer deur plaaslike poësie aan 'n breër gehoor bekend te stel deur werke van onder andere Antjie Krog, Ronelda Kamfer en Koleka Putuma na Nederlands te vertaal.​