Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vroeë opsporing van verhoogde risiko vir kolorektale kanker moontlik
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 06/04/2021

'n PhD-student van die Universiteit Stellenbosch (US) het vasgestel dat die vroeë opsporing vir die vatbaarheid vir die ontwikkeling van kolorektale kanker aansienlik sal verbeter deur 'n holistiese benadering te volg wat die komplekse wisselwerking tussen chroniese inflammasie, abnormale bloedstolling en die betrokkenheid van 'n bakteriële teenwoordigheid in ag neem.  

Kolorektale kanker, ook bekend as kolonkanker, is tans die kanker wat wêreldwyd die derde meeste gediagnoseer word. Wanneer dit vroeg gediagnoseer word, het ongeveer 90% van die pasiënte 'n lewensverwagting van vyf jaar. Hierdie persentasie verminder tot 13% met 'n laat of vertraagde diagnose.

Dr Greta de Waal wat op 1 April 2021 haar doktorsgraad by die Fakulteit Natuurwetenskappe  se gradeplegtigheid ontvang het, beklemtoon dat kolorektale kanker 'n multifaktor- en heterogene kanker is met verskeie bydraende faktore en drywers wat betrokke is in die patogenese daarvan. “Die meeste gevalle van kolorektale kanker omvat 'n verskeidenheid van bydraende risikofaktore, bykomend tot genetiese kenmerke. As gevolg van die heterogene aard van die siektetoestand, is dit noodsaaklik om 'n holistiese benadering te volg ten einde vas te stel hoe al die verskillende faktore betrokke by die karsinogeniese proses, verband hou met mekaar (en dit selfs aanwakker)," verduidelik sy.

In haar navorsing het sy beide die sistemiese omgewing en lokale tumoromgewing van pasiënte met kolorektale kanker analiseer en beskryf. Sy het 'n nuwe fluoresserende teenliggaamgebaseerde tegniek ontwikkel en verfyn vir die opsporing van bakteriële endotoksien, lipopolisakkariede (LPS), in die bloed. Met behulp hiervan kon sy toe aantoon dat die sirkulerende vlakke van hierdie komponent van die bakteriële wand, aansienlik verhoog is in pasiënte met kolorektale kanker, in vergelyking met die vlakke hiervan in gesonde individue. Hierbenewens kon sy ook by hierdie pasiënte 'n bakteriële teenwoordigheid in die tumor self aantoon.  Sy het dus gevind dat die teenwoordigheid van 'n bakteriële komponent 'n hoof kenmerk is van die algehele profiel van pasiënte met kolorektale kanker, tesame met sistemiese inflammasie en verhoogde hiperstolbaarheid wat ook kenmerkend is.

Dr De Waal sê daar is 'n ingewikkelde verwantskap tussen 'n disfunksionele dermmikrobioom en 'n pro-inflammatoriese profiel by hierdie pasiënte: “Veranderinge aan die samestelling van die dermmikrobiota kan bydra tot die ontwikkeling van 'n disfunksionele dermskans, en daardeur die oordrag van bakterieë en hulle endotoksiene-molekules fasiliteer. Sulke dermlek-toestande kan sistemiese inflammasie aanwakker, waarvan abnormale bloedstolling 'n kenmerk is".

Chroniese inflammasie en hiperstolling word beide by die ontwikkeling van tumors geïmpliseer. Die navorsers glo dat hierdie toestande – die verhoogde voorkoms van sekere sirkulerende bakteriële en ander inflammatoriese merkers, en die voorkoms van abnormale bloedstolling – as biomerkers gebruik kan word in bloedgebaseerde siftingsinstrumente wanneer pasiënte siftingstoetse ondergaan om hul vatbaarheid vir die ontwikkeling van kolorektale kanker te bepaal.

“Al hierdie inligting kan verkry word deur 'n bloedmonster te neem en dan te weet waarna om te kyk," voeg Prof Resia Pretorius, haar studieleier en 'n fisioloog in die Departement Fisiologiese Wetenskappe by die US by.

Prof Pretorius sê die werk is die resultaat van 'n vrugtevolle samewerking tussen haarself en spesialiste van die US se Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe op Tygerberg, tesame met die US rektor, Prof Wim de Villiers, wat 'n gasteroënteroloog is en as medestudieleier opgetree het.

“Terwyl ons by Prof de Villiers se ekspertkennis van die kliniese kant en die behandeling van kolorektale kanker kon baat, kon ons weer op ons beurt ekspertkennis toevoeg van wat op molekulêre vlak plaasvind," verduidelik sy.

Medianavrae

Prof Resia Pretorius

Hoof: Departement Fisiologiese Wetenskappe, US

E-pos: resiap@sun.ac.za

 

Dr Greta de Waal

Nadoktorale genoot, Departement Fisiologiese Wetenskappe, US

E-pos: 18340164@sun.ac.za

Op die foto bo: Dr Greta de Waal (middel) saam met haar studieleiers, Prof Resia Pretorius en Prof Wim de Villiers na afloop van die gradeplegtigheid op 1 April 2021. Foto: Stefan Els