Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gaan Covid-19 die outomatisering van werk versnel?
Outeur: Daniel le Roux
Gepubliseer: 06/04/2021

Gaan Covid-19 die outomatisering van werk versnel? Dit is die vraag wat dr Daniel le Roux van die Departement Inligtingwetenskap probeer beantwoord het in ʼn onlangse artikel wat op Mail & Guardian se ThoughtLeader-platvorm verskyn het.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

​Daniel le Roux*

Namate besighede regoor die wêreld begin sin maak van die nuwe werkpatrone wat in die nadraai van Covid-19 ontstaan het, is daar baie onsekerheid oor hoe dinge gaan uitspeel. Ek glo egter dat 'n sentrale tema te bespeur is en dat dit die produk van twee gewaarwordings is.

Eerstens het ondernemings besef dat 'n verspreide werksmag wat sy aktiwiteite virtueel kommunikeer en koördineer, nie net moontlik is nie, maar in baie gevalle ook optimaal is. Tweedens, deur deel te word van die leerkurwe wat met die vinnige verandering van gesentraliseerde na verspreide organisasies verband hou, het besighede in 'n kort tyd aangepas by 'n reeks digitale tegnologieë.

Hierdie transformasie was ongetwyfeld nie maklik nie en as dit nie vir 'n wêreldwye pandemie was nie, sou dit dalk nog baie jare geduur het voordat hierdie veranderinge plaasgevind het. Twee belangrike vrae moet nou oorweeg word. Eerstens, tot watter mate sal hierdie patrone stabiliseer sodra beperkings op beweging iets van die verlede is? En tweedens, wat is die implikasies van hierdie nuwe werkpatrone vir die groter ekonomie?

Natuurlik sal dit dwaas wees om te beweer dat 'n mens die toekomstige toestande van komplekse, selforganiserende stelsels kan voorspel, en antwoorde op hierdie vrae is dus ten beste 'n ingeligte raaiskoot. Desondanks blyk daar 'n breë ooreenkoms te wees dat ons waarskynlik, ongeag die presiese aard van nuwe vorms van organisasering en werkpatrone, eenvoudig nie na die ou manier van doen sal terugkeer nie. Die werk-van-die-huis-genie is uit die bottel, en in ag genome die uitdagings van pendel in stede soos Kaapstad en Johannesburg, sal dit waarskynlik nie weer terug gesit word nie. Daarbenewens glo ek dat daar twee spesifieke aspekte van tradisionele organisatoriese werk is wat al opgegradeer moes gewees het en in die nadraai van Covid-19 sal dit aansienlike transformasie ondergaan.

Die eerste is administratiewe -en klerklike werk. Gedurende die afgelope twee dekades het 'n wye verskeidenheid tegnologieprosesse van inligtingversameling, -verwerking en -verslaggewing, wat algemeen in alle organisasietipes voorkom, baie vereenvoudig. Hierdie tegnologieë bied, gratis of teen minimale koste, 'n wye verskeidenheid funksies wat maklik gebruik kan word. Aangesien millenniërs steeds die arbeidsmag betree, is daar baie min weerstand teen die implementering en aanvaarding van hierdie tegnologieë. Jonger werkers wat met rekenaartegnologie grootgeword het, is voortdurend op soek na maniere om hierdie tegnologieë aan te wend ten einde die administratiewe of klerklike gedeeltes van hul verskillende take te vergemaklik.

Die tweede aspek van tradisionele organisatoriese werk wat waarskynlik drasties gaan verander, is rekeningkunde en die verwante funksies daarvan. Namate organisasies na geïntegreerde sagtewareplatforms soos ERP's (Enterprise Resources Planning systems) beweeg, word inligting in die organisasie so gestruktureer dat groot dele van die werk wat tradisioneel deur boekhouers en rekenmeesters gedoen word, geoutomatiseer word. Onder die vaandel van Business Process Automation (BPA) is hierdie transformasies al 'n geruime tyd aan die gang, maar Covid-19 het aan besighede die stukrag verleen om hul toepassing van hierdie tegnologieë en praktyke ten einde verspreide bedrywighede te bestuur, te versnel.

Dit bring ons by die tweede vraag, naamlik wat is die ekonomiese implikasies van hierdie transformasies? Die idee dat die outomatisering van werk tot groter ekonomiese ongelykheid sal lei, was die fokus van baie vooraanstaande geleerdes. Kortom, hul argument is dat die beroepe wat die meeste vatbaar is vir outomatisering met ons huidige tegnologieë, gewoonlik deur lede van die middelklas uitgevoer word (bv. kantoor-, voorraad- en administrasieklerke, boekhouers, sekretaresses, agente by inbelsentrums, data-invoerders, verkoopspersone, ens.). Die vervanging van hierdie werkers sou impliseer dat die gaping tussen diegene wat in staat is om hoër onderwys te betree en meer gespesialiseerde beroepe te teiken en diegene wat basiese arbeid verrig, verder sal vergroot.

Aangesien 'n groot deel van die Suid-Afrikaanse arbeidsmag lae onderwysvlakke het en bereid is om vir 'n minimum loon te werk, is die outomatisering van basiese arbeid dikwels nie ekonomies nie. Natuurlik is dit waar dat die gebruik van outomatiseringstegnologieë ook 'n reeks nuwe werksgeleenthede sal skep. Hierdie beroepe benodig egter waarskynlik tegniese kundigheid en as sodanig 'n mate van verdere opleiding in 'n tegniese rigting.

Teen hierdie agtergrond is een belangrike aanduiding van Suid-Afrika se paraatheid vir hierdie veranderinge die mate waartoe diegene wat hoër onderwys betree, studierigtings kies met die doel om hulself vir veranderinge in die arbeidsmark te posisioneer. ʼn Onlangse studie deur my navorsingsgroep het hierdie kwessie ondersoek. Die bevindinge toon dat hoewel die meeste studente oortuig is dat masjiene arbeid sal vervang, hierdie oortuiging nie ʼn groot impak op hul studie- en loopbaankeuses het nie, met 78% van die respondente  wat aangedui dat dit nie ʼn rol gespeel het in die keuse van hul studierigting nie. Die studie sluit af met die waarskuwing dat onkunde oor die implikasies van outomatisering vir die vraag na arbeid baie studente kan laat misluk. In die nadraai van Covid-19 kan hierdie waarskuwing uiters relevant wees.

*Dr Daniel le Roux is hoof van die Kognisie- en Tegnologienavorsingsgroep in die Departement Inligtingwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.