Die somber Covid-19-narratief het baie meer positief geword danksy die ontwikkeling van etlike entstofopsies. Dit is ʼn ontwikkeling wat gevier moet word, het prof Jimmy Volmink, Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch, gesê tydens ʼn webinaar wat die kollig laat val het op die dringende behoefte aan inenting om die pandemie hok te slaan.
Etlike FGGW-kundiges het aan dié alumni-geleentheid onder voorsitterskap van Dr Therese Fish, FGGW Vise-dekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak, deelgeneem.
“Ná veilige water is entstowwe die doeltreffendste openbare gesondheidsingryping wat vir ons beskikbaar is. Dit het miljoene lewens gered," het dr Jantjie Taljaard, Hoof van die Afdeling Aansteeklike Siektes, gesê.
Hy het die belangrike bestaande gebruik van entstowwe geskets, insluitende kinderinentings; die voorkoming van infeksie ná beserings, soos hondsdolheid en tetanus; die voorkoming van infeksie met siektes soos geelkoors en hepatitis A tydens reise; en die beheer van uitbrekings van dodelike siektes soos Ebola en meningitis.
Taljaard het benadruk dat Covid-19-entstowwe die enigste veilige roete terug is na enige vorm van normaliteit, die herstel van toegang tot hospitale en klinieke en na vryheid van beweging en ekonomiese aktiwiteite.
Ofskoon ongekende versnelling van Covid-19-entstofontwikkeling, -registrasie en -produksie plaasgevind het, wat die gewone tydsverloop van die ontwikkelingsfases van meer as tien jaar tot minder as ʼn jaar verkort het, het veiligheidskriteria onveranderd gebly, het Taljaard gesê. Die data van die meeste van die beskikbare entstowwe kan vertrou word omdat hulle veiligheid en doeltreffendheid deeglik getoets is. Die duur van die toetsing is verkort, maar nie wat die toetsingsgehalte betref nie. Dit is moontlik gemaak deur aansienlike hoeveelhede geld in toetsingsprogramme te stort en die samewerking van wetenskaplikes en tegnici wêreldwyd.
Hy het die voor- en nadele van die beskikbare entstowwe na aanleiding van etlike kriteria bespreek, soos stoorvereistes (veral belangrik vir landelike gebiede), geraamde koste, doseringskedule en doeltreffendheid teen die normale virus versus die Suid-Afrikaanse variant. Die J&J-, Pfizer- en Novavax-entstowwe voldoen aan die meeste van die vereistes.
Volgens prof Gerard Walzl, Hoof van die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika, is die bespoediging van die entstowwe ʼn merkwaardige prestasie vir die wetenskap, maar hou dit ook inherente risiko's in. “Ons moet dit egter as relatiewe risiko's beskou, soos die risiko-voordeel-ratio wat met enige entstof of middel in ag geneem moet word. Hier is die risiko van nie-inenting ʼn dodelike pandemie wat kan voortduur; miljoene siek of dooie mense; gesondheidsorgdienste wat heeltemal oorweldig word; ʼn wêreldekonomie wat aan flarde is; en die werklike potensiaal van langtermyn- sosiaal-ekonomiese onstabiliteit.
“As hierdie ʼn entstof teen gewone verkoue was, sou die proses onaanvaarbaar en die risiko's heeltemal te hoog gewees het, maar dit is teen Covid-19 wat die planeet verniel het. Die risiko-voordeel-ratio is duidelik grootliks ten gunste van die aanvaarding van die relatief klein risiko van die uitrol van bespoedigde entstowwe."
Volgens Walzl bestaan die risiko van newe-effekte op lang termyn wel, maar is dit baie klein en uiters seldsaam. Die entstowwe blyk oor die algemeen veilig te wees, met kortstondige newe-effekte soos pyn om die inentingsarea, koors, spierpyne, kopsere en allergiese reaksies. Hierdie newe-effekte was ten ergste lig tot matig.
Oor variante en moontlike verdere dodelike mutasies het prof Wolfgang Preiser, Hoof van die Afdeling Geneeskundige Virologie, gesê die verskyning uit die niet van die SA variant in Desember “het regtig ʼn stok in ons wiel gesteek, maar Suid-Afrika moet trots wees dat hy een van die min netwerke in die wêreld in plek gehad het om dit te tipeer en alarm te maak.
“Die genomiese oorsigeenheid wat in April 2020 tot stand gebring is, bring verskeie institute, universiteite en die Nasionale Gesondheidslaboratorium byeen. Hierdie konsortium het ons in staat gestel om agter te kom dat ʼn variant in die Oos-Kaap te voorskyn gekom en langs die kus versprei het. Dit is werklik iets om op trots te wees, aangesien ander lande gespook het om dieselfde vlak van oorsig te bereik wat ons in plek het.
“Die virus het gedoen wat ons weet virusse doen – dit het gemuteer en so by die omstandighede aangepas. Evolusie sal aanhou plaasvind, maar ons kan die waarskynlikheid van verdere verrassings verminder deur die sirkulasie daarvan te beperk. Dit sal nie muteer as dit nie kans kry om te repliseer nie. Dit laat werklik die noodsaak insink om inentingsprogramme so gou en so groot as moontlik uit te rol."
Volgens prof Hassan Mahomed, openbare gesondheidsgeneeskunde-spesialis van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en ook verbonde aan die FGGW se Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid, is gelyke toegang tot entstowwe op globale, nasionale en plaaslike vlak ʼn ideaal wat aktief nagestreef moet word.
Oor die huidige uitrol van die entstof onder gesondheidswerkers het hy gesê die Wes-Kaap het ʼn puntestelsel wat blootstelling rakende die plek waar gewerk word en individuele kwesbaarheid rakende ouderdom en onderliggende siektes in ag neem. Die gewilligheid van gesondheidswerkers om ingeënt te word, het toegeneem van ʼn aanvanklike 50% tot meer as 80%. Nuwe strategieë is nodig om fopnuus oor inenting aan te pak.
Prof Helmuth Reuter, Hoof van die Afdeling Kliniese Farmakologie, het die belangstelling in die doelmaking van middels soos Ivermektien ter voorkoming van ernstige siekte bespreek. Ivermektien word algemeen teen parasiete en ʼn siekte bekend as rivierblindheid gebruik, maar het nie in kliniese studies oortuig nie. “Ons het groter studies nodig en proewe vind tans plaas. Ek dink daar is ʼn plek vir Ivermektien, maar ons weet nie wat die regte dosering, die regte roete, die lengte van behandeling, of die hoeveelheid dosisse is nie. Daar is riglyne, maar dit is nie op sterk bewyse gegrond nie."
Taljaard het gesê ʼn derde Covid-19-golf is onafwendbaar. “Maar ek is optimisties dat dit minder erg sal wees omdat die meeste blootgestelde mense reeds geraak is en met die inentingsveldtog begin is."
Die kundiges het ten slotte benadruk dat niemand veilig is as álmal nie veilig is nie.
“Ons is beslis nog nie buite gevaar nie, maar die ontwikkeling van etlike entstofopsies het hoop gebied waaraan ons kan vashou en wat ons kan help om deur hierdie donker tyd te kom," was Volmink se slotsom.