Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jong PhD-graduant in fisiologiese wetenskappe spog met 15 publikasies
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 01/04/2021

Dr Martin Page se 15 navorsingsartikels is reeds 250 keer aangehaal, en boonop het hy sy doktorsgraad behaal slegs drie jaar nadat hy sy BScHons-graad in Fisiologiese Wetenskappe voltooi het.

Dr Page sal vandag, 1 April 2021, oor die verhoog stap om sy doktorsgraad te ontvang. Hy het in 2017 met sy BScHons-graad begin, onder die leiding van Prof Resia Pretorius, 'n fisioloog en uitgelese professor in die Departement Fisiologiese Wetenskappe in die Fakulteit Natuurwetenskappe. Teen die einde van 2019 is sy MSc opgegradeer na 'n PhD.

Dr Page sê sy studies was beslis nie maklik nie, maar dat hy gekies het om te fokus op sy navorsing en die impak daarvan op biomedikasie: “Ek werk in die veld van inflammasie en bloedstolling. Inflammasie is onderliggend tot verskeie siektes. Dit is die liggaam se normale reaksie op beserings en infeksies, maar in pasiënte met nie-oordraagbare siektes soos tipe 2 diabetes, Parkinson se siekte en rumatoïde artritis, is die reaksie aanhoudend en wangereguleer. Dit het verskeie skadelike gevolge, waaronder abnormale bloedstolling," verduidelik hy.

Sy navorsing het gefokus op die karakterisering van die meganismes van bloedstolling en die onderliggende strukturele veranderings in die bloed van pasiënte in 'n inflammatoriese toestand. Hy het ook die effek van individuele inflammatoriese middels op gesonde bloed getoets om die komplekse wisselwerking van die inflammatoriese omgewing op bloedstolling te verstaan.

Sy bevindings toon dat versteurings in die bloed 'n aanduiding kan wees van groter disfunksionaliteit in die liggaam: “Dit beteken dat bloed 'n skatkis is van biologiese merkers wat ons kan waarsku teen moontlike siektetoestande in ander dele van die liggaam. Dit beteken ook dat patologiese stolling een van die gevaartekens van chroniese inflammatoriese toestande is, en dit moet geteiken word om erger siektetoestande te voorkom".

Gedurende sy nagraadse studies het hy die Manchester Instituut vir Biotegnologie by die Universiteit van Manchester in die Verenigde Koninkryk besoek, asook die Mediese Universiteit van Wenen in Oostenryk, om saam met van Prof Pretorius se internasionale medewerkers te werk.

Oor sy 250 aanhalings op Google Scholar gebaseer op 15 publikasies, party daarvan as eerste skrywer en ander as mede-skrywer, sê hy die doel van wetenskap is om jou werk te kommunikeer ten einde die vakgebied te bevorder: “Ek is dankbaar dat ons navorsing positief deur die wetenskaplike gemeenskap ontvang word, en dit beklemtoom die impak van ons werk. Om te publiseer is ook 'n leerervaring en dit leer jou om krities oor jou bevindings na te dink".

Sy studies is finansiëel ondersteun deur die Skye Foundation en die Harry Crossley Foundation. In 2020 is hy gekies as een van tien jong Suid-Afrikaanse wetenskaplikes om die 70ste Lindau Nobel-pryswenner samekoms by te woon. Dié byeenkoms is weens die pandemie tot 2021 uitgestel.

Dr Page is tans deel van die US se Consolidoc program om die laaste publikasies wat op sy doktorale navorsing gebaseer is, te finaliseer. Hy is ook voorwaardelik aanvaar vir 'n Commonwealth Scholarship in die Verenigde Koninkryk vir 'n jaarlange meestersgraad in datawetenskap en masjienleer.

 RBC figure.jpg

Op die foto bo, 'n skandeerelektron mikroskopie beeld van rooi bloedselle wat aan serum amyloïde A blootgestel is. Dit is 'n inflammatoriese molekule wat deur die lewer geproduseer word. Wanneer bloedselle begin om te stol, soos op die foto, word dit agglutinasie genoem. Beeld: Martin Page