Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Louisa Mojela vereer vir die bemagtiging van Afrika-vroue
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 30/03/2021


Die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n eredoktorsgraad aan me Louisa Mojela toegeken by 'n klein fisieke gradeplegtigheid vir doktorale graduandi van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

 


Mojela het die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom), honoris causa, ontvang vir haar visionêre leierskap om platforms te vestig om vroue in Afrika te bemagtig.

Mojela het merkwaardige hoogtes in die sakesektor bereik en het innoverende bydraes tot die sosio-ekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrika gelewer.

Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het Mojela by die gradeplegtigheid Dinsdag (30 Maart 2021) geloof vir haar leierskap en haar toewyding aan die “bemagtiging van vroue" en die skep van ontwikkelingsgeleenthede.

“Louisa Mojela is as medestigter en jare lange uitvoerende groepshoof van Women Investment Portfolio Holdings (WIPHOLD) baie bekend in die korporatiewe wêreld in Suid-Afrika. WIPHOLD wy hulle toe aan die bemagtiging van vroue en die skepping van ontwikkelingsgeleenthede.

“WIPHOLD het onder haar leiding gegroei tot die land se voorste beleggingsmaatskappy wat deur swart vroue besit en bestuur word, met beleggings ter waarde van miljarde rande in 'n wye verskeidenheid nywerhede. Meer as 200 000 swart vroue is begunstigdes met direkte aandeelhouding van 33,6% in die beherende maatskappy deur middel van die WIPHOLD Beleggingstrust en WIPHOLD NGO Trust," het De Villiers gesê.

Mojela het 'n BCom-graad aan die Nasionale Universiteit van Lesotho behaal en het ook die uitvoerende leierskapsprogram by die Wharton-sakeskool in Pennsylvania in die VSA suksesvol voltooi.

Sy is 'n bekende persoonlikheid in die Suid-Afrikaanse korporatiewe wêreld en het in die rade van maatskappye soos Distell, Sun International, Sasol Mining en die Life Healthcare-groep gedien. Sy het al verskeie toekennings vir haar sakeleierskap en ondernemingsgees ontvang.

Sy het in Mei 2009 die eerste Afrika-sakeleierskaptoekenning, wat deur die Afrika-ontwikkelingsbank geïnisieer is, in Dakar ontvang. In 2010 het sy die Africa Economic Builders se entrepreneurtoekenning van die jaar in Abidjan in die Ivoorkus gewen.

Mojela het by die gradeplegtigheid die US bedank vir die eredoktorsgraad en gesê sy voel “nederig en dankbaar" oor die eer wat aan haar bewys is.

Om na die volledige gradeplegtigheid te kyk, klik hier. ​