Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
COVID-lesse help US aan die toekoms bou
Outeur: Prof Wim de Villiers
Gepubliseer: 30/03/2021

Hierdie meningsartikel is op 29 Maart 2021 deur IOL gepubliseer. Klik hier om dit op hul blad te lees, of lees hieronder.

* * *

Dit is reeds 'n jaar sedert die Suid-Afrikaanse inperking weens die COVID-19-pandemie begin het. En wat 'n jaar was dit nie! Dit voel tegelyk na die langste én kortste 365 dae in menseheugenis.

Toe president Cyril Ramaphosa aanvanklik 'n 21 dae lange landwye grendeltyd afgekondig het, het drie weke na 'n ewigheid gevoel. Min het ons geweet wat op ons wag. Ons het ons op 'n naelloop voorberei, wat kort voor lank in 'n marathon verander het, en nou 'n volwaardige ultramarathon is!

So, hier's ons nou, 365 dae later en steeds ingeperk. Risikovlakke is van tyd tot tyd verslap en weer verskerp, maar wat konstant gebly het, is die impak op ons lewens. Ons leef voorwaar, in soveel opsigte, in 'n nuwe wêreld – een wat in 'n ommesientjie ontstaan het.

Ons daaglikse werklikheid bestaan deesdae uit masker dra, 'n veilige afstand handhaaf en ontsmetting – waaraan 'n mens mettertyd gewoond raak. Wat egter moeiliker is om te hanteer, is die voortdurende ontwrigting van ons lewens, en die onsekerheid waarmee 'n mens moet saamleef. Dít is ons nuwe normaal.

Saam met uitdagings kom nietemin ook geleenthede, soos ons in die hoëronderwyssektor ondervind het. Universiteite moes die afgelope jaar drastiese veranderinge aanbring. Dit was nie maklik nie, maar ons het ook heelwat daarby gebaat, en is nou goed toegerus om tot die toekoms ná COVID by te dra.

My tweede termyn as Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) het in 2020 begin. Ek het heel optimisties 'n paar grootse doelwitte vir die volgende vyf jaar gestel, maar die uitdagings verbonde aan die COVID-19-pandemie het gou die jaar oorgeneem.

Ons het vinnig besef dat innovasie en aanpasbaarheid noodsaaklik sou wees om ons weg oor hierdie ongemaklike terrein te baan. 'n Dosent wat in 'n klas vol studente voor 'n witbord staan, het skielik uitgedien gevoel.

Toe kontakonderrig 'n jaar gelede opgeskort is, moes ons in rekordtyd na aanlyn leer-en-onderrigmetodes oorslaan. Ons was reeds 'n paar jaar aan die momentum opbou met die ontwikkeling van hibridiese leermodelle, maar die krisis het die vinnigvorentoeknoppie gedruk. Wat ons oor vyf jaar wou doen, moes nou binne vyf weke klaarkom!

Dit het 'n ontsaglike spanpoging geverg. Almal het hulle deel gedoen – van dosente wat hulle kursusse moes herontwerp, en studente wat skielik by uitsluitlik aanlyn klasbywoning en assesserings moes aanpas, tot IT-kenners wat oorlaaide stelsels in 'n kits moes opgradeer, en bestuurders wat na maniere moes soek om dinge aan die gang te hou, kom wat wil.

Ons het meer as 1 700 skootrekenaars aangekoop en aan studente beskikbaar gestel, en in die aanvangsdae van die inperking spesiale toestemming bekom dat koeriers dit by adresse deur die hele land kon aflewer. Ons het selfoondata aan studente verskaf om te verseker dat hulle toegang tot die internet het.

Eksamens is vir die eerste keer in die US se geskiedenis geheel en al aanlyn afgelê. Fakulteite, departemente, dosente en steunafdelings het alles moontlik gedoen om te sorg dat dit vlot verloop, en dit hét, op enkele uitsonderings na.

Danksy die buigsaamheid en kundigheid van US-personeel en -studente kon ons die COVID-19-pandemie besonder goed hanteer. Maar dit was nogtans 'n koorddans. Ons moes die onstuimige waters van die pandemie bevaar en terselfdertyd ons oorhoofse doelwitte en visie voor oë hou. Dít het ons gedoen deur ander werkswyses te aanvaar – waaruit ons talle waardevolle lesse geleer het wat ons voortaan nog goed te staan sal kom – en deur na ons mense om te sien.

Sterk bystand vir ons mense was noodsaaklik, want hoewel dosente, tutors en studente uitgebreide steun ontvang het, het almal onder uiterste druk gewerk, en was erge uitputting 'n algemene verskynsel. Om van die huis af te werk, in 'n gedeelde ruimte met gesinslede, het vir baie personeellede spanning veroorsaak, veral vir kollegas wat skielik ook verantwoordelik was om deur die dag na jong kinders om te sien en leerders tuis te onderrig.

Dit was – en is steeds – 'n tyd van verlies. Sommige personeellede en studente het die persoonlike tragedie beleef om familielede en intieme vriende aan die dood af te staan. En ofskoon die US grotendeels werksverliese kon verhoed, het dit steeds party werknemers en studente in hulle familie- en vriendekring geraak.

Baie studente het finansiële en emosionele spanning beleef weens die inperking en die daaropvolgende beperking op beweging. COVID-19 het ons opnuut bewus gemaak van die enorme verskille in studente se leeromstandighede. Nie ál ons studente kon na huislike omstandighede terugkeer wat bevorderlik was vir leer nie. Heelwat het probleme met internettoegang ervaar en beurtkrag het niemand 'n guns bewys nie.

Namate ons nou die tweede jaar van COVID-19 dieper betree, konsentreer die US nie meer net daarop om die pandemie so goed moontlik te bestry nie. Ons wil ook verder as dít beweeg en vasberade voortstreef na ons visie om kennis tot diens van die samelewing te bevorder. Vir dié doel benut ons die geleenthede wat die pandemie geskep het.

Ons kan voortbou op die honderde multidissiplinêre koronavirusverwante navorsingsprojekte en -aktiwiteite wat in verskeie US-omgewings in reaksie op die krisis ontvou het. Die Universiteit se wetenskaplikes het ou brood in handontsmetmiddel met 'n alkoholbasis omskep, tegnoloë het robotte in 'n hospitaal ontplooi sodat spesialiste van buite die perseel steeds saalrondtes kon doen, en ingenieurs het met 'n 3D-drukker asemhalingstoestelle vervaardig, om slegs 'n paar inisiatiewe te noem.

Ook wat sosiale impak betref, het die US 'n voelbare verskil in baie mense se lewens gemaak, onder meer deur kosbystand aan kwesbare huishoudings om ons kampusse, in samewerking met plaaslike belanghebbendes. Ons Kampusgesondheidsdiens het boonop plaaslike en provinsiale owerhede met sifting, beplanning en protokolle gehelp. Die vennootskappe en netwerke wat sodoende opgebou is, kan ons saam met die gemeenskap help vorentoe beweeg.

Met betrekking tot leer en onderrig is ek trots om te kan sê dat die US in die kalenderjaar 2020 altesaam 8 979 kwalifikasies kon verleen. Dié syfer strook met vorige jare en is merkwaardig in die omstandighede.

Nietemin wil ons vanjaar méér bied as noodafstandsonderrig, -leer en -assessering. Daarom vul ons dit aan deur so ver moontlik terug te keer na interaksie van aangesig tot aangesig om ʼn optimale leerervaring te voorsien.

Ons het ons studente op 15 Maart vir die aanvang van die akademiese jaar op kampus terugverwelkom – en nie net omdat die regulasies dit toelaat nie. Daar is ook 'n meer fundamentele rede. In hulle boek The Innovative University sê die hoëronderwyskundiges Clayton Christensen en Henry Eyring ʼn “universiteit se professore en fisiese ontmoetingsplekke is uniek en waarskynlik van onskatbare waarde". So, as 'n residensiële universiteit, wil ons die merkwaardige “mense" en “plek" van die US so goed moontlik benut.

Natuurlik is ons steeds midde-in 'n pandemie, so ons vereis streng nakoming van ons omvattende protokolle en maatreëls om COVID-19 te bestry. Ons personeel en studente se veiligheid, gesondheid en welstand bly ons topprioriteit.

Nes in 2020, is die US se oorhoofse doelwitte vir 2021 wéér om die akademiese jaar suksesvol te voltooi, en om volhoubaar te bly as 'n toonaangewende hoëronderwysinstelling.

COVID-19 is nie ons enigste uitdaging nie: Universiteite landwyd worstel met die kwessie van studentefinansiering, en by die US bly die kompleksiteite verbonde aan die bou van inklusiewe meertaligheid 'n uitdaging. Nogtans skep ons moed uit wat ons geleer het: dat jy met aanpasbaarheid, innovasie, samewerking en 'n skrik-vir-niks-gees enige uitdaging die hoof kan bied.

Ons weet nie wat die dag van môre inhou nie, maar wat ons wél weet, is dat dit moontlik is om vandag aan die toekoms ná koronavirus te bou.

* Prof Wim de Villiers is die Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, voorsitter van Higher Health, ondervoorsitter van Universiteite Suid-Afrika, en 'n raadslid van die Vereniging van Statebondsuniversiteite (ACU).