Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe spasie sal studente help om te ontdek, ontwerp en te skep
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division [Sandra Mulder]
Gepubliseer: 25/03/2021

Die US-biblioteek Maakspasie ('Makerspace'), 'n innoverende ruimte waar studente saam kan uitvind, ontwerp en kan skep, is pas voltooi en open op 1 April 2021 vir die studentegemeenskap.

Die maakspasie is 'n samewerkende werksruimte wat uitvindings, ontdekking, die deel van idees en die vervaardiging van artikels waarvoor tegnologies-gevorderde en ander toerusting en gereedskap nodig is, fasiliteer. Dit is die derde maakspasie wat op die Stellenbosse kampus van die Universiteit Stellenbosch (US). Die ander maakspasie-omgewings is by die US Launchlab en die Lenslab in die Beeldende Kunste-gebou geleë.

Me Ellen Tise, Senior Direkteur van die US se Biblioteek- en Inligtingsdiens, het by die bekendstelling gesê die idee om hierdie innoverende ruimte by die biblioteek bekend te stel, is vyf jaar gelede gebore tot die biblioteeksimposium 'n aanbieding getiteld, Makerspaces: a great opportunity to enhance academic libraries, aangebied het.

Tise het toe saam met haar span hulle daartoe verbind om die maakspasie te ontwikkel. Hulle het nou saam met Fasiliteitsbestuur gewerk om dit te laat realiseer. Bouwerk is verlede jaar voltooi, waarna die installering en toetsing van die hoë-vlak toerusting vanjaar onderneem is. Die idee is dat die dinamiese en gebruikersvriendelike fasiliteit studente sal bemagtig.

“Die maakspasie is die biblioteek se bydrae tot die US se kern strategiese doelwitte om nie net 'n transformerende studente-ervaring en genetwerkde en samewerkende leer te versterk nie, maar ook om die akademiese biblioteek se reputasie as 'n ondersteuningsdiens vir innovasie, kreatiwiteit en uitnemendheid te bevorder," sê Tise.

hebler.jpg

Mnr Norman Hebler, hoof van die maakspasie, sê die toerusting is tussen ontwerp- en konstruksie- werkruimtes gereedskapsbanke versprei. Studente sal vanaf die konsepsuele ontwerp tot vinnige prototipering van produkte kan skep.

Studente wat die maakspasie gebruik, sal toegang het tot toerusting soos 3D-drukkers, 3D-skandeerders, mikrobeheerders soos 'n Arduino Uno of mikroverwerkers soos n Raspberry Pi, broodborder vir die prototipering van elektroniese stroombane, sensors, 'n soldeerstasie, ossilloskope en gevorderde rekenaars met 'n verskeidenheid sagteware om die ontwerpproses aan te help.

'n Besprekingsfasiliteit sal tot studente se beskikking wees om 'n ontwerp- of konstruksie-werkstasie te bespreek en om die gereedskap en toerusting wat vir 'n sessie benodig word, te bespreek. Besprekings vir 'n toer of 'n opleidingsessie kan deur middel van die Biblioteek-opleidings- en Makerspace-opleidingskalender gedoen word om te leer om die maakspasie se toerusting en gereedskap ten volle te benut.

Kontak Norman Hebler vir verdere inligting oor die US-biblioteek se maakspasie. ​

Hooffoto: Prof Wim de Villiers, Rektor en Vise-Kansellier, staan by me Ellen Tise, Senior Direkteur van die US se Biblioteek- en Inligtingsdiens; gaste by die bekendstelling van Maakspasie en  prof De Villiers met een van die gemaakte artikels. ​

Enkelfoto's van Norman Hebler.

Fotograaf: Hennie Rudman