Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sosiale geregtigheid-kafee pak ongelykhede in die onderwys
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 23/03/2021

​Wat is die omvang van die probleem van ongelykheid in die onderwys – wat vererger is in die tyd van die COVID-19-pandemie en die Vierde Industriële Revolusie (4IR) – in die Suid-Afrikaanse samelewing?

Hierdie vraag het onder die soeklig gekom by die Universiteit Stellenbosch (US) se mees onlangse Sosiale Geregtigheid-kafee, 'n inisiatief wat deur prof Thuli Madonsela, bekleër van die Leerstoel vir Sosiale Geregtigheid in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die US, van stapel gestuur is.

Die doel van die kafees is om met jongmense in gesprek te tree oor kwessies rakende sosiale geregtigheid en demokrasie en aksie vir insluiting wat deur menseregte geïnspireer word, soos vervat in die VN se volhoubare ontwikkelings- en nasionale ontwikkelingsdoelwitte, met die oog daarop om die vrugte van die jeug se werk in te span om teen 2030 armoede te beëindig en ongelykheid te verminder.

Die geleentheidspreker by die virtuele bespreking was Seliki Tlhabane, Hoofdirekteur: Wiskunde, Wetenskap en Tegnologie (WWT) en Kurrikulumversterkingsprogramme by die departement van Basiese Onderwys. Twee paneellede, Kate Roodt, Ko-kurrikulum koördineerder en Eksperimentele Onderwys-raadgewer by die US, en Hlonelwa Luthuli, 'n finalejaar-LLB-student, het ook aan die bespreking deelgeneem.

Madonsela, wat die gesprekke gefasiliteer het, het die bal aan die rol gesit deur te sê niemand behoort agter te bly ten opsigte van onderwys nie, veral nie met die aanbreek van die Vierde Industriële Revolusie (4IR) nie.

“In Suid-Afrika word jou toegang tot hoë-gehalte onderwys, jou vermoë om onderwys te bekostig, jou vermoë om deel te word van die 4IR-netwerk, bepaal deur waar jy woon, uit watter rassegroep jou ouers afkomstig is en jou ouers se ekonomiese status," het Madonsela gesê. 

“So waar staan ons nou ná 27 jaar van demokrasie? Het ons finansiële vermoëns as 'n uitsluiting van onderwys verwyder? Het ons die speelveld gelyk gemaak ten opsigte van die 4IR? Is onderwys gebruik om beleide te ontwerp wat beter reageer op verskille en agterstande en was onderwysbeleide op sigself meer responsief ten opsigte van onderwys en verskillende situasie?"

Tlhabane het in sy reaksie gesê die departement van Basiese Onderwys het beleide ingestel om te verseker dat sosiale geregtigheid in ons land se openbare skole toegepas word.

“Sedert die koms van demokrasie het die regering beleide ontwikkel wat ten gunste van die armes is. By 80% van ons skole is daar tans nie skoolgelde betaalbaar nie. Leerders ontvang gratis ondersteuningsmateriaal vir leer en onderrig. Negentig persent van ons leerders kry etes by die skool omdat ons besef het armoede hou kinders uit die skool uit."

Volgens hom het die departement afstandsleer-benaderings begin volg toe COVID-19 in 2020 sy verskyning gemaak het. Dit sluit aanlyn onderrig in en die departement het beleide ingestel om te verseker dat elke kind in Suid-Afrika by hierdie tegnologiese vooruitgang sou baat vind. Hy erken egter dat hierdie ingrypings nie sonder uitdagings was nie, met die koste van data en elektroniese toestelle wat veral 'n uitdaging was.

Volgens Tlhabene het die departement egter raamwerke en implementeringsplanne ontwikkel om te verseker dat elke kind teen die einde van die huidige administrasie toegang tot 'n elektroniese toestel sal hê.

“Al nege provinsiale departemente het meer as R2 miljard geïdentifiseer wat in hierdie finansiële jaar gebruik gaan word om te verseker dat kinders toestelle en toegang tot 4IR-tegnologieë het. “Ons wil ook vennootskappe met die sakesektor sluit om te verseker dat kinders nie uitgesluit word van digitale vooruitgang weens hul maatskaplike ekonomiese status nie."

Madonsela het in haar kommentaar oor die vordering wat gemaak is om die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel te belyn met die ideale en realiteite wat die samelewing vandag in die gesig staar, gesê ons kan tot die gevolgtrekking kom dat vandag beter is as gister. “Maar vandag kan nog beter wees, en indien ons wil hê môre moet beter as vandag wees, moet ons ons manier van doen verander. En ons moet duidelik wees oor die lesse wat ons geleer het, veral gedurende COVID-19 en wanneer ons voor die ontwrigtings van die 4IR te staan kom. Ons moet hierdie lesse gebruik om beter te beplan en om seker te maak dat niemand agterbly nie."​