'n Nuwe projek wat daarop gemik is om inligting oor COVID-19 aan die Suid-Afrikaanse Dowe gemeenskap beskikbaar te stel, is onlangs deur die Departement Algemene Linguistiek in die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe van stapel gestuur.
Die projek is aangevoor deur derdegenerasie- Dowe susters Vanessa Reyneke en Stephanie Lotz, wat talle pleidooie van lede van die Dowe gemeenskap vir toeganklike inligting oor Covid-19 ontvang het. Reyneke is die projekkoördineerder vir Suid-Afrikaanse Gebaretaal -leer- en onderrigsteunmateriaal by die Departement Algemene Linguistiek.
COVID-19-hulpbronne en -inligting is tans hoofsaaklik in skriftelike teks of gesproke formaat beskikbaar. Gesproke taal is egter ontoeganklik vir die meerderheid Dowe mense.
Volgens prof Frenette Southwood van die Departement Algemene Linguistiek toon hul navorsing dat daar 'n beperkte hoeveelheid hulpbronne oor COVID-19 in SAGT beskikbaar is in vergelyking met die hulpbronne wat in gesproke tale beskikbaar is.
“Sonder die vertaling van belangrike inligting in die enigste taal wat ten volle vir lede van die Dowe gemeenskap toeganklik is, word hulle toenemend kwesbaar," sê sy.
Die Departement het toestemming van die Wes-Kaapse regering gekry om hul infografika as agtergrond in hul SAGT-video-opnames en hul skriftelike inligting as vertrekpunt in hul gebaretaaltekste te gebruik. Hulle het ook die inligting gebruik wat deur die Eenheid vir Kennisoordrag by die Universiteit Kaapstad beskikbaar gestel is.
Die eerste fase van die projek fokus op die tien belangrikste subonderwerpe van gesondheid en sal wenke insluit oor hoe om koronavirus-veilig te bly, advies vir diabete en wat om te doen as jy COVID-19-positief is. Die tweede fase sal ander tien subonderwerpe of die jongste nuus oor die subonderwerpe wat reeds in fase 1 gedek is, insluit. Albei fases word deur die Universiteit Stellenbosch befonds. Die Departement benodig tans nog befondsing vir fase 3 tot 6 van die projek, asook vir die kindervriendelike COVID-19-inligtingspakket wat hulle beskikbaar wil stel.
“Die eerste inligtingsvideo's is reeds oor die afgelope paar weke vrygestel. Die doel is om een inligtingsvideo per week vry te stel. Ons het 'n lys onderwerpe wat ons gaan dek, maar ons sal ons ook deur die behoeftes van die Dowe gemeenskap laat lei," sê Southwood.
Die inligting word in twee dialekte van SAGT aangebied. Dit is omdat lede van die ouer generasie, wat geleer is om gebaar-ondersteunde Engels of gebaar-ondersteunde Afrikaans te gebruik, nie noodwendig SAGT verstaan nie, en dus die inligting in 'n aangepaste weergawe benodig.
Volgens Reyneke wil sy en haar suster die projek na elke Dowe individu in die gemeenskap bring.
“Die uiteindelike doel is om aan die Dowe gemeenskap toegang te gee tot alle inligting wat nodig is vir hul daaglikse welsyn tydens hierdie pandemie, en in alle weergawes van SAGT, indien moontlik," sê sy.
Reyneke het haar waardering uitgespreek vir die ondersteuning wat hulle van die Universiteit Stellenbosch ontvang het om hierdie projek aan die gang te kry.
“Ons hoop ander openbare en privaat sektore sal ook deur hierdie inisiatief geïnspireer word en dat dit hulle sal aanmoedig om te verseker dat almal billike toegang tot hul omgewings het," sê sy.
Die COVID-19-inligtingsvideo's word op 'n doelgeskepte YouTube-kanaal gelaai en is gratis vir die Dowe gemeenskap beskikbaar. Dit is ook op die webtuistes en ander sosialemedia-platforms van die Universiteit Stellenbosch beskikbaar. Individue kan op die toepaslike YouTube-kanaal inteken om kennisgewings te ontvang wanneer nuwe video's opgelaai is.