Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldwaterdag: FGGW maak goeie vordering met behaling van waterdoelwitte
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 23/03/2021

Wêreldwaterdag (22 Maart 2021) is ʼn ideale tyd vir Universiteit Stellenbosch se Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe om te bepaal hoe ver ons gevorder het wat betref die waardering van water – die kosbare natuurlike hulpbron. Die viering van Wêreldwaterdag is ter ondersteuning van die behaling van die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit nommer ses: om teen 2030 water en sanitasie aan almal te voorsien.

Christine Groenewald, koördineerder van die Dekaan se Advieskomitee vir Omgewingsvolhoubaarheid (DACES) sê die tema van vanjaar se Wêreldwaterdag gaan oor die waardering van water. “Ons neem water op baie maniere steeds as vanselfsprekend aan, terwyl ons nie so lank gelede nie asem opgehou het by die vooruitsig dat water in die Wes-Kaap kon opraak," sê sy. Water is van enorme en komplekse waarde in die gemeenskap – en op Tygerberg-kampus, die tuiste van die FGGW. “Dit het waarde in ons huise, koshuise, kantore, onderrig en -leerbedrywighede, die ekonomie van hoe ons ons fakulteit bestuur en, natuurlik, die integriteit van ons natuurlike omgewing."

Op Tygerberg-kampus het die DACES strategiese doelwitte uiteengesit wat die fakulteit se vordering op sy reis na 'n kleiner koolstofsvoetspoor monitor. Een van die doelwitte is om die daaglikse gebruik van drinkbare water per kop in koshuise te verminder tot ʼn maksimum van 100 liters. In 2020 kon die FGGW dit in twee van sy koshuise regkry (Huis Francie en Hippokrates). “Dis regtig goeie nuus en van vanjaar af gaan ons weekliks aan elke koshuis terugvoer gee oor die gebruik van dienste soos water en elektrisiteit sodat hulle bewus is van hul gebruik, wat weer sal help om gebruiksgedrag aan te pas," sê Groenewald.

Die FGGW het ook ʼn gryswaterstelsel by van sy koshuise geïmplementeer wat stortwater gebruik om toilette te spoel en die vraag na drinkbare water met 25% verminder het. Groenewald sê: “Stortwater beweeg deur ʼn afsonderlike pypnetwerk deur die behandelingstappe van sedimentasie, belugting, filtrasie en sterilisasie voordat deur by behandelingsaanleg blou gekleur word en terugkeer om die toilette te spoel. Ons gryswaterstelsel is ʼn ingryping om ons te help om water te bespaar – ten einde optimaal te funksioneer, moet dit deur aangepaste gedrag ondersteun word."

Van die ander ingrypings op Tygerberg-kampus om water te bespaar en die gebruik van drinkbare water te verminder, is onder meer die volgende:

  • Belugters aan krane en waterdoeltreffende stortekoppe in koshuise
  • Kleiner laevloei-toiletspoelbakke in akademiese geboue
  • Groter gebruik van reinigingsmiddels
  • Meettoestelle by elke gebou
  • Boorgate en ʼn filtreerinstallasie op kampus
  • Verbeterde en geoutomatiseerde besproeiing
  •  ʼn Stormwateropgaardam van 150 000 liter agter eNkanyini-koshuis vir gebruik vir besproeiing
  • Gryswaterstelsels by koshuise, wat stortwater gebruik om toilette te spoel en die vraag na drinkbare water met 25% verminder het
  • Slegs inheemse waterslim plante in ons kampustuinaanleg
  • Gebruik van deurdringbare plaveisel in ons tuinareas

Groenewald sê gedrag is vir tot 30% van enige besparing verantwoordelik en elke handeling word ʼn gewoonte wanneer dit genoeg kere herhaal word. Personeel en studente kan help deur die volgende te oorweeg:

  • Gebruik waterbesparende skottelgoedwassers en wasmasjiene en net wanneer dit vol is;
  • Stort vir minder as twee minute;
  • Meld onmiddellik enige lekkasies in geboue of buite aan by fmhelpdesk@sun.ac.za of by 021 938 9433/9507.