Die ministeriële taakgroep se verslag oor seksuele teistering, mishandeling en misdrywe in die Departement van Verdediging is onlangs bekend gemaak. In reaksie hierop, skryf prof Lindy Heinecken (Sosiologie en Sosiale Antropologie) in ʼn artikel vir Mail & Guardian (19 Maart) dat die weermag ʼn kulturele transformasie moet ondergaan om geslagsgebaseerde geweld te keer.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
Lindy Heinecken*
Institusionele geslagsgebaseerde geweld in die weermag hou reeds jare lank 'n risiko in – nie net vir vroue in uniform nie, maar oral waar lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) ontplooi word. Ondanks bewusmakingsveldtogte, beleide en regulasies om dié kwessie te hanteer, hou voorvalle van seksuele uitbuiting en mishandeling (SUM) aan styg. Die ministeriële taakgroep se verslag oor seksuele teistering, mishandeling en misdrywe in die Departement van Verdediging (2020) lig van die oorsake en tekortkominge uit, sowel as moontlike maatreëls om hierdie euwel uit te roei. Hoewel die onderwerp nou uiteindelik die aandag ontvang wat dit verdien, sal dit 'n kulturele transformasie verg om geslagsgebaseerde geweld in die weermag te hanteer. Daar het immers 'n 'kultuur van seksuele geweld' ontstaan.
Weermagkultuur lê opgesluit in die militêre hiërargie, wat 'n kultuur van samehang, voldoening en ondergeskiktheid skep. Om verskeie redes ontmoedig dié kultuur die aanmelding van seksuele teistering en mishandeling. Wanneer vroue voorvalle van seksuele geweld aanmeld, word hulle gebrandmerk, geminag en sosiaal uitgesluit, wat deels die onderaanmelding van SUM verklaar. Die onwilligheid om seksuele teistering en mishandeling aan te meld stook 'n kultuur van straffeloosheid. Die verontagsaming of nie-aanmelding van SUM versterk bloot stelselmatige aggressie en geweld teen vroue. Daarom is dit noodsaaklik dat die bestaande herstelmeganismes doeltreffend funksioneer. Tog wys die ministeriële taakgroep in hulle verslag juis daarop dat herstelmeganismes gebrekkig is, en dat baie vroue voel dat daar bloot nie opgetree sal word nie, of dat dit baie lank sal duur om die klag te ondersoek.
Vroue het oor die algemeen weinig vertroue in bestaande meganismes om seksuele wangedrag te hanteer, onder meer in weermagleiers, en is dus huiwerig om hierdie kwessies aan te meld. Daar is 'n informele 'kode van stilswye', wat seksuele teistering as deel van die daaglikse kultuur beskou. Vroue in die weermag wil gewoonlik nie 'gendermoeilikheid' veroorsaak of as slagoffers beskou word wat beskerming nodig het nie. Boonop toon my navorsing oor die jare dat geslagsnorme van manlikheid, tesame met krag, geweld, aggressie en die seksuele objektivering en verkleinering van vroue, geslagstereotipes en -diskriminasie bevorder. Dat vroue byvoorbeeld fisies swakker en minder uithouvermoë het as mans word as 'n las beskou. Sielkundig en emosioneel word vroue ook as 'minder geskik' vir oorlogvoering geag. Daarbenewens reken mans (én party vroue) dat vroue 'n geslagsverwante sekuriteitsrisiko inhou deur nie net seksies en pelotonne te verswak nie, maar hulle ook meer kwesbaar te maak vir aanvalle. Sulke diskoerse wat vroue uitbeeld as swak en fisies kwesbaar, en nie daartoe in staat om hulleself te beskerm nie, takel vroue se eie wil af en hou hulle 'op hulle plek'.
Die bestuur van geslagsintegrasie in die weermag gaan deesdae nie meer net oor gelykheid nie, maar oor die toegevoegde waarde wat vroue na die weermag bring, en wat militêre doeltreffendheid en besluitneming kan verbeter. Nietemin bly dít in die slag wanneer die weermagkultuur van vroue verwag om manlike norme en waardes te aanvaar om as bekwame soldate beskou te word. Deur bloot by die manlike organisasie in te pas en sodoende belangrike aspekte van hulle geslagsidentiteit te verruil, sonder dat mans dieselfde hoef te doen, hou die gendergaping in stand. Wat nodig is, is nie net die aanvaarding van diversiteit nie, maar die beëindiging van daardie strukture, praktyke en kulture wat vroue van mag ontneem. Die wortel van die probleem is nie net die bevoorregting van manlikheid nie, maar die negatiewe uitwerking van seksisme en patriargie.
In hoogs patriargale samelewings soos Suid-Afrika gaan dié stelsel voort om geslagsverhoudinge in die weermag te bepaal en te beïnvloed. Waar vroue mans se mag bedreig, ontlok dit verskillende vorme van teenstand en diskriminasie. Vroue in die SANW kla van daaglikse ondermyning van hulle leierskap of gesag deurdat hulle onder 'n vergrootglas geplaas, gesaboteer, seksueel geteister en sosiaal afgesonder en uitgesluit word. Seksisme kom steeds algemeen voor, en vroue ondervind verskeie vorme van seksuele teistering, wat ongetwyfeld 'n negatiewe uitwerking het op hulle moreel en loopbane.
Hoewel daar goeie vordering gemaak is om vroue se getalle in die weermag te verhoog, bly die einddoel – die transformasie van gendernorme in die weermag – ons ontwyk. 'n Sterker vroueteenwoordigheid het nog nie aanleiding gegee tot prosesse wat geslagsverwante ongelykhede hanteer en die weermag help transformeer nie. Vroue het steeds te kampe met 'n magdom uitdagings wat verhoed dat hulle alternatiewe waardes by die militêre kultuur integreer. Dít sal slegs kan verander indien vroue meer selfgeldend optree om organisatoriese praktyke en besluitneming te beïnvloed. Baie min is egter bereid om hierdie 'riskante strategie' te volg omdat dit hulle aan die gevaar van afsondering, hetsy van buite of self opgelê, blootstel.
Min vroue in die SANW is bereid om standpunt in te neem. Die makliker roete is om hulle gedrag en optrede aan te pas ooreenkomstig die identiteitspraktyke van die 'manlike' (geveg)soldaat. Orna Sasson-Levy (2003) vat dít raak saam as sy sê vroue in die weermag gebruik gewoonlik drie onderling verwante praktyke om hulle geslagsidentiteite volgens die hegemoniese manlikheid van die gevegsoldaat in te rig: Hulle boots gevegsoldate se liggaam- en gesprekspraktyke na, distansieer hulle van tradisionele vroulikheid, en maak seksuele teistering as onbelangrik af. Dít verhinder die verskuiwing van genderdigotomieë, en verhoed dus ook transformerende verandering in hoe weermagpersoneel gesosialiseer word om soldate te wees én in die rolle wat hulle deesdae moet vervul.
Hoewel daar tóg sprake is van 'n verskuiwing in binêre gender namate soldaatwees die grense van geslag en gender oorsteek, het dít nie die magsdinamiek genoeg verander om geslagsverhoudinge te transformeer nie. Soos Cynthia Enloe tereg uitwys: Mans ís die weermag; vroue is ín die weermag. Solank manlikheid die grondslag van weermagkultuur uitmaak, sal geslagsongelykheid en vroue se ondergeskiktheid voortduur, en seksuele uitbuiting en mishandeling daarmee saam. Beleide en praktyke kan dalk seksuele geweld ontmoedig en hanteer, maar nie die kultuur wat dit laat voortbestaan nie.
- Foto: Vroulike soldate van die Suid-Afrikaanse kontingent in MONUSCO maak reg om voetpatrollie te doen. Krediet: Wikimedia Commons.
*Prof Lindy Heinecken is die voorsitter van die departement Sosiologie en Sosiale Antropologie aan die Universiteit Stellenbosch.