Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SciMathUS verwelkom Klas van 2021
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 17/03/2021

Julle is by die regte plek om julle drome te bewaarheid. Dit was die boodskap aan 100 nuwe studente wat op Maandag 15 Maart hul SciMathUS-reis van 2021 aan die Universiteit Stellenbosch (US) begin het.

Die SciMathUS-program, wat deur die US se Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP) bestuur word, bied jaarliks aan studente uit opvoedkundige agtergeblewe omstandighede regoor die land 'n tweede kans om vir hoër onderwys te kwalifiseer. Uit meer as ʼn duisend aansoeke, word 100 studente gekies om ʼn jaar aan die US deur te bring om hul Graad 12-punte vir die vakke Fisiese Wetenskappe, Wiskunde en Rekeningkunde te verbeter.

Prof Wim de Villiers, US-rektor en visekanselier, het aan die nuwe groep gesê dat hulle wel by die regte plek is, maar daar is 'n maar … "JY moet beheer neem oor jou eie lewe. Die SciMathUS-personeel — en hul kollegas in SUNCEP en elders aan die Universiteit — is daar om jou te leer, te mentor, te help en te ondersteun — maar jy moet die werk doen. Ek twyfel nie dat jy jou bes sal doen nie."

Hy het bygevoeg: “Ons topstudent van verlede jaar se SciMathUS-klas, Thabo Mthombeni, het dit die beste in 'n onderhoud gesê: 'Werk hard, werk slim. Gaan sit elke dag en studeer. Weet wat jou droom is.' Na sy SciMathUS-jaar behaal Thabo 91% vir Wiskunde en 98% vir Fisiese Wetenskappe. Dit sal enige deur oopmaak!"

In haar boodskap aan die klas van 2021 en hul ouers het Nokwanda Siyengo, direkteur van SciMathUS, gesê dat haar span uitsien na 'n jaar van prestasie. "Laat ek julle vertel dat die gemiddelde vir Wiskunde in 2020 71,2% was, terwyl die Fisiese Wetenskappe 75,9% was. Dit beteken dan dat julle as 'n groep hierdie prestasievlak moet behou of selfs bo dit moet uitstyg."

Sy het die Amerikaanse denkleier, Christian D Larson, aangehaal en gesê: "Glo in jouself en alles wat jy is. Weet dat daar iets binne jou is wat groter is as enige hindernis waarvoor jy te staan mag kom."

Siyengo het bygevoeg dat die studente se sukses sentraal staan in SciMathUS se missie. "Kontak ons asseblief wanneer jy vrae het. Ons is hier om jou te help in hierdie reis wat jy vandag onderneem."

SciMathUS vier vanjaar ook 20 jaar van lewens wat verander is, en gaan voort met die lewering van suksesverhale, het Siyengo gesê. Sedert 2001 het SciMathUS heelwat studente opgelewer wat daarin geslaag het om universiteitsgrade in geneeskunde, ingenieurswese, wetenskap en besigheidstudies te verwerf.

Die 20-jaar vieringe sal onder andere die vorm aanneem van 'n aanlyn veldtog, genaamd #ChangingLives. Die doel van die veldtog is om te verseker dat die program oor die volgende 20 jaar, met die ondersteuning van alle belanghebbendes, steeds meer geleenthede skep vir studente om hulle volle akademiese potensiaal te bereik.

Volg gerus SciMathUS se sosialemedia-bladsye oor die volgende paar maande, waar die kollig sal val op die program asook alumni wat sedertdien gegradueer en wonderlike vordering in hul onderskeie velde gemaak het.