Met 'n geraamde 5,6 triljoen sigaretstompies wat elke jaar weggegooi word, het rook in meer as een opsig een van die hoof oorsake van omgewingsbesoedeling ter wêreld geword.
Nou het 'n groep derdejaarstudente in Mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) vasgestel dat selfs die sogenaamde omgewingsvriendelike bioafbreekbare sigarette 'n onbedoelde negatiewe uitwerking op die omgewing het.
Die groep, bestaande uit Elizaveta (Lisa) Koroleva, Aza Mqulwa, Scott Norris-Jones, Sidney Reed en Zahraa Tambe, het hulle so goed van hulle taak gekwyt dat die bevindings van hulle navorsingsprojek nou in die vaktydskrif Environmental Science and Pollution Research gepubliseer is.
Sigaretfilters word van 'n plastiek genaamd sellulose-asetaat gemaak. Wanneer jy dus daardie sigaretstompie op die grond gooi, is jy eintlik besig om plastiek, sowel as nikotien, swaar metale en baie ander chemikalieë wat dit geabsorbeer het, in die omliggende omgewing te stort. Die ironie is dat die einste filter oorspronklik ontwikkel is om jóú teen die skadelike gevolge van rook te beskerm.
'n Sigaretstompie kan tussen twee tot vyf jaar neem om tot mikroplastiek afgebreek te word. En in hierdie periode loog dit swaar metale en chemikalieë in die omgewing uit. In 'n poging om hierdie mikroplastiekkwessie die hoof te bied, het verskeie maatskappye begin om “bioafbreekbare" sigarette, waarvan die filters uit natuurlike stowwe soos hennep of katoen gemaak is, te vervaardig.
Die studente het egter gewonder: Indien hierdie bioafbreekbare stompies dan soveel vinniger as hulle plastiek eweknieë kan afbreek, het hulle waarskynlik 'n groter impak op die samestelling van bakteriële gemeenskappe in die grond, veral ook aangesien dit is waar die meeste stompies beland?
Met hierdie vrae in gedagte moes die span vorendag kom met 'n prakties uitvoerbare manier om hierdie hipotese van hulle te toets as deel van hulle derdejaarmodule: Mikrobiese Ekologie, in die BSc-graadprogram in Molekulêre Biologie en Biotegnologie. En nege weke later moes hulle hulle bevindings tydens 'n proefmodel akademiese konferensie voordra.
Die groep het bevind dat die loog van beide die bioafbreekbare, sowel as die nie-bioafbreekbare sigaretstompies dui op die teenwoordigheid van elemente soos aluminum, arseen, boor, barium, kadmium, kobalt, chroom, koper, yster, kwik, mangaan, molibdeen, nikkel, lood, antimoon, selenium, tin, strontium, vanadium en sink .
Die konsentrasie van swaar metale en metalloïede in die loog van bioafbreekbare sigaretstompies was egter aansienlik hoër. In vergelyking met die grondmonster wat aan die loog van nie-bioafbreekbare stompies blootgestel is, het die loog van bioafbreekbare stompies derhalwe 'n betekenisvolle impak op die samestelling van die mikrobiese gemeenskap getoon.
“Alhoewel bioafbreekbare sigarette as meer omgewingsvriendelik bemark word, is die impak wat die verhoogde metaalkonsentrasies van hierdie sigarette tot gevolg het, kommerwekkend en is dit 'n potensiële bron van toksiese besoedeling en omgewingskade," skryf hulle in die navorsingsartikel.
Prof Karin Jacobs, hulle dosent en mede-outeur van die artikel, sê die feit dat bakterieë wat aan swaar metale blootgestel word metaalweerstandig word, is 'n groot rede tot kommer. En daar is reeds gevind dat metaalweerstandingheid korreleer met die ontwikkeling van antibiotikaweerstandigheid.
Benewens die metaalinhoud van sigaretstompies, bevat dit ook kontaminante soos nikotien, fenole en polisikliese aromatiese koolwaterstowwe - waarvan laasgenoemde 'n klas samestellings vorm wat bekend is vir hulle karsinogeniese eienskappe.
Prof Jacobs sê die praktiese projek is ontwerp om studente in staat te stel om 'n outentieke navorsingservaring te hê met 'n fokus op hulle eie ervarings: “Ons doel is om studente deur die proses van wetenskaplike ondersoek te lei, van die vorming van idees, tot die toets van die hipotese en die voordrag van die resultate. Die standaard van die projekte is gewoonlik hoog en die onderwerpe innoverend. Onderwerpe het gewissel van 'n vergelykende analise van die mikrobiese diversiteit van grond in areas wat deur die Wet op Groepgebiede van 1950 geraak is, tot die effek van gryswater op die grond se mikrobiese ekologie en gevolglike effek op plantegroei. Een groep het selfs gekyk na die gastroïntestinale mikrobiologie van 'n student se trop skape.
“Ons is natuurlik baie trots op hierdie groep studente met hulle eerste navorsingsartikel. Dit is voorwaar 'n eerste vir ons Fakulteit Natuurwetenskappe," sluit sy af.
Hierdie groep derdejaar mikrobiologie studente van die Universiteit Stellenbosch het nie net hul eerste navorsingspublikasie gepubliseer nie, hulle het ook vasgestel dat selfs bioafbreekbare sigaretstompies 'n negatiewe impak op die omgewing het. Hulle is, van links na regs, Aza Mqulwa, Sidney Reed, Elizaveta (Lisa) Koroleva, Zahraa Tambe and Scott Norris-Jones. Almal van hulle is tans besig met 'n BScHons-graad in mikrobiologie of biochemie by die US. Foto: Wiida Fourie-Basson