Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kayamandi-leerders gaan Kromrivier monitor
Outeur: Faculty of Science (Wiida Fourie-Basson)
Gepubliseer: 05/03/2021

Ag leerders van Kayamandi het watermoniteringstoerusting van die Departement van Water en Sanitasie ontvang wat hulle in staat sal stel om die waterkwaliteit van die Kromrivier in Stellenbosch te monitor.

Dit maak deel uit van 'n volgehoue poging van die Kayamandi-Rivier-Vennootskap om die welstand van hierdie twee riviere wat swaar gebuk gaan onder besoedeling van die nabygeleë ligte industriële area en stormwaterafloop van die aangrensende township, te verbeter. Hierdie vennootskap bestaan uit navorsers van die Universiteit Stellenbosch Waterinstituut (SUWI), die Plankenbrug-besigheidsgemeenskap en plaaslike skole Kayamandi Primêr, Ikhaya Primêr, Hoërskool Kayamandi en Hoërskool Makapula.

Dr Leanne Seeliger, projekleier en 'n navorser by SUWI, sê die doel van die riviermoniteringsprojek is ook om die leerders se kennis oor die belangrikheid van die monitering van die welstand van die riviere in Stellenbosch en in Suid-Afrika te verdiep.

Deur middel van hierdie projek sal hulle nou deel word van 'n nasionale poging om leerders van oor die hele Suid-Afrika te betrek en sodoende bewuswording te kweek van die welstand van die riviere in hulle onmiddellike omgewing. Die leerders sal die observasies wat hulle insamel deur die gebruik van die miniSASS-gereedskapstel, op 'n sentrale webwerf oplaai. Die miniSASS is 'n eenvoudige toestel wat gebruik word om die gesondheid van 'n rivier te monitor en die algehele kwaliteit van die water in daardie rivier te meet. Dit maak gebruik van die samestelling van klein diertjies en insekte wat in die riviere leef en is gefundeer op die sensitiwiteit van die onderskeie diere ten opsigte van waterkwaliteit.

Vir meer inligting oor die Kayamandi-Rivier-Vennootskap se moniteringsdag, kontak mnr. Meluxolo Mbali by 073 823 1454.

Vir meer inligting oor die Kayamandi-Rivier-Vennootskap, besoek die webwerf by www.kayariverpartners.org.za