Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe Maties se akademiese reis begin amptelik
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 04/03/2021


Duisende nuweling-eerstejaarstudente se akademiese reis aan die Universiteit Stellenbosch (US) het vandeesweek amptelik afgeskop.

Die Universiteit het Donderdagaand sy jaarlikse Verwelkomingsgeleentheid gehou. Dit het die amptelike droom-optog ingesluit. Dit was deel van die Universiteit se Verwelkomingsprogram, wat aangepas is tot 'n twee week lange program wat daarop fokus om aan die studente 'n transformatiewe studente-ervaring te bied binne die bepalings van COVID-19-protokols.

Gedurende die droom-optog het die studente, wat in groepe van 50 ingedeel is, onderdeur 'n banier gestap wat oor Victoriastraat gespan is om die begin van hul akademiese reis by die US te simboliseer. Studente kon ook hul drome op 'n kaartjie skryf en dit aan een van die bome in Victoriastraat aanheg.

​Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het Donderdagaand in sy virtuele verwelkomingstoespraak die klas van 2021 geloof vir hul deursettingsvermoë.

“Knap gedaan! Ons is trots op julle! Ons wil ook almal bedank wat julle gehelp het om te kom waar julle vandag is – jul ouers, skole en die res van die gemeenskap. Nou is dit ons voorreg om die pad verder saam met julle te stap," het hy gesê.

“Studente, julle het hare op jul tande gehad en baie deursettingsvermoë, behendigheid en veerkragtigheid … hierdie kenmerke sal julle goed te pas kom wanneer julle die uitdagings en geleenthede van hierdie volgende stadium op jul lewensreis te gemoed gaan.

“Julle gaan 'n wonderlike fase van jul lewens binne – 'n tyd wat julle in die jare wat voorlê, waarskynlik as jul beste jare ooit sal onthou. Julle gaan blootgestel word aan nuwe kennis en uitstekende mentors, dosente en navorsers aan hierdie hoëronderwysinrigting van wêreldgehalte gaan julle op jul ontdekkingsreis begelei."

 De Villiers het ook die studente daaraan herinner dat hulle by die US toegang tot 'n uitgebreide netwerk het – van studenteleiers en mentors in koshuise of PSO's, tot dosente en ander fakulteits- en administratiewe personeel van die Universiteit, insluitende die Afdeling Studentesake.

“Moenie huiwer om hulp te vra nie. Dit is nie teken van swakheid nie, maar eerder 'n sterkpunt. Ons is almal saam op hierdie reis, en ons gaan saam met julle vorentoe.

“Dit is ook hoe ons die pandemie sal oorkom – deur saam te werk. Indien elkeen van ons verantwoordelikheid vir ons eie dade aanvaar, sal ons daarin slaag om ons kampusse oop te hou. En daarom sal nie net die Universiteit nie, maar ook die omliggende gemeenskappe en sakeondernemings kan floreer," het hy gesê.

Xola Njengele, voorsitter van die US-studenteraad (SR), het die klas van 2021 aangemoedig om in hierdie nuwe hoofstuk hul eie, individuele stories te skryf.

“Dit is 'n tyd waarin julle ook meer van diegene rondom julle en jul omgewing gaan leer. Hierdie leerproses sal nie altyd die een of ander manjifieke openbaring wees nie. Nee, die meeste van die tyd is dit redelik klein, maar duidelik, soos om te luister of om iemand se naam reg uit te spreek."

Hy het ook die beskikbaarheid van studente-ondersteuning by die US beklemtoon en gesê die SR wil hê elke Matie moet 'n gunstige ervaring regdeur hul tyd by die US hê.

“Om die waarheid te sê, ons visie lui soos volg: 'Ons strewe daarna om 'n produktiewe en geïntegreerde struktuur te wees wat holistiese studentesukses aanmoedig en tasbare resultate lewer.' Dit sê regtig watter impak ons hoop om op alle studente te hê."