Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Misdaadvlakke, alkohol en COVID-19-inperkings
Outeur: Guy Lamb
Gepubliseer: 24/02/2021

Voordat ʼn verband tussen verminderde alkoholverbruik en ʼn afname in misdaad getref word, is dit belangrik om eers vas te stel waar geweldsmisdaad die meeste voorkom, en ook om ander moontlike faktore te oorweeg wat bygedra het tot sulke variasies in misdaad in hierdie gebiede. Só meen dr Guy Lamb (Departement Politieke Wetenskap) in ʼn meningsartikel vir News24 (23 Februarie).

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Guy Lamb*

In Julie 2020 het die minister van polisie, Bheki Cele, die kwartaallikse misdaadstatistieke vir die tydperk 1 April - 30 Junie 2020 bekend gemaak, wat ooreengestem het met 'n grootste gedeelte van die 'harde' COVID-19-inperkingsfase in Suid-Afrika. Die Minister het 'n “nog-nooit-voorheen-gesiene rooskleurige prentjie van 'n vreedsame Suid-Afrika wat 'n misdaadvakansie beleef" gevier. Die SAPD se misdaaddata vir die periode 1 April - 30 Junie 2020 het inderdaad 'n algehele vermindering van 37% in gewelddadige interpersoonlike misdaad in vergelyking met die dieselfde tydperk in 2018/19 getoon.

Die effek van die inperking op gewelddadige interpersoonlike misdaad was nie verbasend nie, aangesien kriminologiese teorieë beweer dat geweldsmisdaad plaasvind op plekke waar oortreders slagoffers ontmoet. Sulke interaksies word beïnvloed deur die aard van die plek, fasiliteerders van misdaad (soos gewere en alkohol) en die teenwoordigheid van polisie. Die 'harde' inperking het die beweging van Suid-Afrikaners dwarsoor die land ernstig beperk, en daarom is die waarskynlikheid van slagoffers/oortreder-interaksie aansienlik verminder. Daar was ʼn tekort aan alkohol en 'n dramatiese toename in patrollies deur polisie en soldate, veral in gebiede met baie misdaad.

Die Minister van Polisie het vervolgens die kwartaallikse misdaaddata vir Julie tot September 2020, sowel as Oktober tot Desember 2020, bekend gemaak. Albei kwartaallikse datastelle toon 'n beduidende toename in geweldsmisdaad sedert die opheffing van die 'harde' inperking in Mei 2020. Die mees onlangse kwartaallikse misdaaddata (Oktober tot Desember 2020) toon dat die vlakke van geweldsmisdaad in werklikheid toegeneem het in vergelyking met dieselfde tydperk in 2019, met moord wat met 6,6% gestyg het en poging tot moord met 8,7%.

ʼn Groot deel van die openbare diskoers oor die daling en styging van aangemelde gewelddadige interpersoonlike misdaad in 2020 het gefokus op toegang tot en verbruik van alkohol, en verskeie kommentators het voorgestel dat die verbod op alkoholverkope tydens harde inperking die belangrikste bepalende faktor was vir die afname in misdaad. Daar was inderdaad talle studies, plaaslik en internasionaal, wat die verband tussen oormatige alkoholgebruik en gewelddadigheid  getoon het. Alkoholgebruik en stryery is veral 'n dodelike kombinasie. Die SAPD het deurgaans berig dat die meeste moorde en pogings tot moord die gevolg is van argumente en misverstande, wat dikwels in die konteks van ʼn gedrinkery plaasvind. Daar is egter meer afwykings in gewelddadige misdaad in Suid-Afrika as alkoholgebruik.

ʼn Noukeurige oorsig van die jongste kwartaallikse misdaaddata dui aan dat die pleeg van geweldsmisdaad in minder as 20% van die meer as 1100 polisiekantore in Suid-Afrika gekonsentreer is. Verder vind die meeste moorde byvoorbeeld in ongeveer 100 sulke gebiede plaas. ʼn Analise van die dinamika van geweldsmisdaad in hierdie gebiede is insiggewend met betrekking tot hoe veranderinge in misdaadpatrone verstaan word. Daar was 389 moorde tussen 1 Oktober en 31 Desember 2020 in vergelyking met dieselfde tydperk in 2019. Interessant genoeg is dat die helfte van al hierdie 'oortollige' moorde in slegs agt polisiëringsgebiede plaasgevind het, naamlik: Kraaifontein (42); Harare, Khayelitsha (30); Manenberg (28); Plessislaer (25); Lenasia (20); Samora Michel (16); Dutywa (15); en Mfuleni (14). Kraaifontein, Manenberg, Mfuleni en Plessislaer is ook verantwoordelik vir 'n 17% alle 'oortollige' pogings tot moord.

Kraaifontein en Manenberg het die middelpunt van die herlewing van bendeoorlog in Kaapstad geword, met sluipmoorde op bendelede 'n gereelde verskynsel aan die einde van 2020. Net so het Lenasia voortdurend onder bendegeweld en weerwraak deurgeloop. Daar was 'n aantal massaskietvoorvalle in die Harare en Mfuleni wat met georganiseerde misdaad op plaaslike vlak verband hou. Daar was ook 'n toename in die storting van moordslagoffers se liggame in die duine naby die see in die Harare-distrik. Wetteloosheid duur voort in Samora Machel, en Plessislaer word deurgaans gekenmerk deur politieke sluipmoorde, taxigeweld en moorde wat met roof verband hou.

Dit wil nie sê dat oormatige alkoholgebruik nie tot moorde in hierdie agt gebiede bygedra het nie. Daar was ongetwyfeld verskeie gevalle van moorde wat met ʼn gedrinkery en gepaardgaande woede verband gehou het. ʼn Belangrike punt wat egter beklemtoon moet word, is dat verskeie faktore die verskille in die van vlakke van geweldsmisdaad in Suid-Afrika beïnvloed.

Die SAPD se volgende kwartaallikse misdaadstatistieke (Januarie tot Maart 2021) sal veral insiggewend wees, aangesien dit die tydperk sal insluit waarin alkoholverkope 'n maand lank deur die regering verbied is. As die vlakke van geweldsmisdaad gedurende hierdie kwartaal aansienlik daal, kan dit aanloklik wees om die verminderde alkoholverbruik uitsluitlik aan die afname in misdaad te koppel. Voordat dit egter gedoen word, is dit uiters belangrik om eers vas te stel waar geweldsmisdaad die meeste voorkom, en ook om ander moontlike faktore te oorweeg wat bygedra het tot sulke verskille in misdaad in hierdie gebiede. As studies toon dat alkohol 'n belangrike drywer van geweld in sulke gebiede is, dan sou dit wys wees van die regering om maatreëls te oorweeg ten einde die toegang tot alkohol in hierdie gebiede effektief te beperk.

*Dr Guy Lamb is ʼn kriminoloog in die department Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.