Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-inisiatief neem STANDpunt in oor beleërde uitvoerende kunste-gemeenskap
Outeur: Corporate Communication and Marketing: Daniel Bugan
Gepubliseer: 23/02/2021

​Rolspelers in die Suid-Afrikaanse dans- teaterbedryf het die afgelope naweek by die Universiteit Stellenbosch (US) byeengekom om manier te bespreek om nuwe lewe in 'n uitvoerende kunste-gemeenskap te blaas wat swaar deur die COVID-19-pandemie en ander uitdagings en maatskaplike kwessies getref is.

Die Take-a-STAND-dialoë-inisiatief, wat op die model van literêre feeste gegrond is, het van 19 tot 21 Februarie by 44 Ryneveld – wat die naam en adres van 'n nuutopgeknapte lokaal op Stellenbosch is – plaasgevind.

Die geleentheid is deur die US Woordfees en die STAND-stigting (Sustaining Theatre and Dance) aangebied en is deur die ambassade van die Nederlandse Koninkryk en die Nasionale Afrikaanse Theater-inisiatief (NATi) geborg. 

Die naweek se program het verskeie paneelbesprekings oor 'n wye verskeidenheid temas ingesluit waaraan uiteenlopende stemme in die dans- en teatergemeenskap deelgeneem het. Paneellede het Ismail Mohamed (direkteur van die Sentrum vir Skeppende Kunste, UKZN), die feesdirekteur van die US Woordfees, Saartjie Botha, en die hoof-uitvoerende beampte van NATi, Cornelia Faasen, ingesluit. 

Ander hoogtepunte het die bekendstelling van die publikasie, Decolonisation as Democratisation: Global Insights into the South African Experience, met Siseko H Kumalo as redakteur ingesluit.

Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het in sy verwelkoming gesê: “Dit is moeilik om jouself voor te stel dat die Universiteit Stellenbosch 'n bietjie meer as 'n jaar gelede besig was om vir die Woordfees voor te berei. Die koronavirus was iets wat aan die ander kant van die wêreld aan die gebeur was en waaroor almal maar net bespiegel het. Woordfees 2020 was die laaste groot Suid-Afrikaanse kunstefees wat sy program kon voltooi voordat COVID-19 alles tot stilstand gedwing het.

 “Nou, 'n jaar later, is dit duidelik dat die pandemie sy tol geëis het. Teaters is besig om te sluit, feeste is en word steeds gekanselleer en uitgestel, en baie mense het hul enigste bron van inkomste verloor. 

“Maar kunstenaars is veerkragtig en die kunswêreld het met innoverende maniere vorendag gekom om mekaar te ondersteun. Die naweek se geleenthede is maar net een voorbeeld daarvan. 

“Wat hierdie tyd ons geleer het, is dat die kunste nie ontbeerlik is nie. Dit is ingebed in wie ons as mense is. Die skrywer James Baldwin het gesê 'die doel van kuns is om die vrae wat deur antwoorde verberg is, bloot te lê'. Dit lyk of dit iets is wat ons vandag meer as ooit nodig het. Kunstenaars moet bly vrae vra. Hulle moet skeppend bly en bly inspireer."

Danser en geograaf Gregory Maqoma het die gehoor geboei met sy geleentheidstoespraak getiteld “Theatre for whom? Dance for what? Towards a rationale for theatre and dance in our contemporary world".

 "My roeping lê in dans – iets wat ek deur die jare geleer het op verskeie maniere onkonvensioneel is. Eerstens as 'n swart Suid-Afrikaner wat in Soweto-township grootgeword het, tweedens deur met Christelike waardes in 'n middelklasgesin grootgemaak te word wat opvoeding as 'n belangrike oorbrugging na die beloofde land gesien het, en derdens wanneer ek myself as praktisyn as 'n danser bekendstel, word ek dadelik gevra, 'so, wat doen jy nog?'.

“Wanneer ek daaroor nadink en probeer om betekenis te vind in my poging om rede te vind om te dans, om woorde te vind om die estetiese beweging wat uit my liggaam vloei te beskryf, is die enigste woord waarmee ek vorendag kan kom, argitektuur: die landskap wat voortdurend omvorm en verander terwyl dit nou verwant met die aarde is en deur sy verergerende aard geraak word, 'n versameling identiteite wat die baie eeue van maatskaplike en politieke erfenis erken. Elke vertoning skep nuwe oorgangsingang- en -uitgangspunte. Elke vertoning word 'n herinnering en wanneer die ligte afgeskakel word en die gordyn sak, is 'n nuwe stuk geskiedenis geskryf. “