Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Blinde kolle in data kan ongelykhede verder vergroot
Outeur: Ronelle Burger
Gepubliseer: 23/02/2021

Die beskikbaarheid van data is geneig om die bestaande ongelykhede in ons wêreldstelsel te weerspieël. Daarom kan 'n groter vertroue op data hierdie ongelykhede nog verder vergroot indien dit nie met groot versigtigheid gepaardgaan nie, skryf prof Ronelle Burger (Departement Ekonomie en Groep vir Navorsing oor Sosio-ekonomiese Beleid) in ʼn meningsartikel vir News24 (20 Februarie).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Ronelle Burger*

Masjienleer het 'n wye reeks verbeterings belowe wat strek van minder misdaad weens doeltreffender polisiepatrollering tot langer lewens met presisiegeneeskunde. In die bekoring wat die reusevooruitgang van datawetenskap inhou, is dit maklik om diegene wat agtergebly het, te vergeet wanneer jy bekoor is deur datawetenskap se reusevooruitgang.

Die ongeteldes, ongedokumenteerdes en ongenavorsdes het talle verskillende gesigte, maar sluit dikwels arm gemeenskappe, maatskaplik-gemarginaliseerde individue soos migrante en haweloses in, asook inwoners van oorloggeteisterde gebiede. In die jare wat voorlê, mag die skeiding tussen die wat gesien word en die onsigbares dalk selfs nog dieper en wyer word namate samelewings al hoe meer op data staatmaak vir besluitneming.

Hierdie dinamiek kan ten minste drie ongewenste roetes volg: Eerstens, indien alles volgens die masjienleer-meesterplan verloop, sal lande wat goeie inligtingstelsels het, 'n groot maatskaplike opbrengs verdien, wat hulle meer doeltreffend en goed bestuur sal maak, wat weer 'n verdere toename in wêreldwye ongelykheid tot gevolg kan hê. Tweedens, indien die pasmaking van stelsels en beleide al hoe meer op groot datastelle staatmaak, sal hierdie stelsels en beleide die karaktereienskappe en voorkeure van diegene wat waargeneem en gedokumenteer is, weerspieël. Dit sal nie die eienskappe en voorkeure van diegene wat weggelaat is uit die datastelle, in ag neem nie.

Maar wat dalk nog selfs meer kommerwekkend is, is die risiko dat 'n groter vertroue in data baie ongetelde lande wat 'n risiko loop en kwesbare groepe uit wêreldwye beleidsgesprekke, kampvegterveldtogte en besluite oor hulpprioritsering sal vee. In hierdie befondsingsomgewing het dit baie moeilik geword om befondsing vir jou saak te bekom sonder statistieke wat die hoofopskrifte sal haal, of wat ten minste 'n duidelike oorsig van die parameters en grootte van die probleem verskaf. Omdat jy geld en hulpbronne nodig het om betroubare data te genereer, is daar ook 'n bevooroordeeldheid teen informaliteit en kleinheid.

In Ekonomie gebruik ons dikwels die straatligeffek om die probleem te illustreer deur op​ die probleme te fokus wat die maklikste is om op te los. Volgens oorlewering kom 'n polisieman 'n dronk man teë wat na sy motorsleutels onder 'n straatlig soek, en hy help die man soek. Nadat hulle 'n ruk lank sonder enige sukses gesoek het, vra die polisieman vir die dronk man of hy seker is dat dit die plek is waar hy sy sleutels verloor het. Die dronk man verduidelik toe hy het sy sleutels in 'n park ver van daar af verloor, maar hy soek onder die lig, want daar kan hy ten minste goed sien.

Terwyl hy deur al 27 000 Ekonomie-artikels oor Afrika wat die afgelope twintig jaar verskyn het, gewerk het, het Obie Porteous van die Middlebury-kollege in die VSA gevind die meeste navorsers was besig om na hul sleutels in die straatlig se ligkol op die sypaadjie te soek. Die navorsing was nie eweredig versprei oor die vasteland se 54 lande nie. Dit is eerder oorheers deur vyf lande: Suid-Afrika, Ghana, Kenia, Uganda en Malawi. Die 2020-studie het bevind dat vyf lande vir 45% van die artikels oor Afrikalande in ekonomiese vaktydskrifte verantwoordelik was en 65% van die artikels oor Afrikalande in die voorste vyf ekonomiese vaktydskrifte, hoewel hierdie lande slegs 16% van die algehele bevolking van alle Afrikalande verteenwoordig.

In teenstelling daarmee, verteenwoordig sewe lande – die Demokratiese Republiek van die Kongo, Angola, Tsjad, Soedan, Suid-Soedan, Somalië en Guinea – ook 16% van die vasteland van Afrika se bevolking, maar het slegs 3,5% van alle artikels oor Afrikalande in ekonomiese vaktydskrifte behels op hulle gefokus. In sy ontleding van die redes vir hierdie vooroordeel, noem die skrywer faktore wat verband hou met land-spesifieke kostes en voordele wat met data-insameling verband hou – insluitende die aantal jaarlikse toeriste wat die land besoek, geweld en veiligheid en Engels as 'n amptelike taal – as die vernaamste redes. Net so noem Kalle Hirvonen van die Internasionale Voedselbeleidnavorsingsinstituut in Addis Ababa se 2020-verslag dat daar die afgelope dekade meer artikels in die voorste twee gesondheidsekonomie-vaktydskrifte oor die Nordiese lande met 'n gesamentlike bevolking van 27 miljoen mense verskyn het as oor Afrika- of Asiatiese lande, wat 2,9 miljard van die wêreld se bevolking het.

Dit is algemeen bekend dat huishoudelike opnames sistematies kwesbare bevolkings uitsluit of ondertel – insluitende haweloses, gevangenes, hospitaalpasiënte, nomadiese groepe en mense wat in informele behuising woon. Die uitlatings en ondertelling is weliswaar nie doelbewus nie en dit is moeilike groepe om met opnames te bereik. Roy Car-Hill van die York-universiteit skat dat hierdie individue wat gemis word, beloop tot 4% van die wêreld se totale bevolking, maar soveel as een-vyfde van die wêreld se armste kwintiel. Weens die oorverteenwoordiging van die armes en die kwesbares, sal hierdie uitsluitings en onderskattings ʼn wesenlike invloed hê op skattings van behoeftes soos toegang tot skoon water of voldoende sanitasie.

Die beskikbaarheid van data is geneig om die bestaande ongelykhede in ons wêreldstelsel te weerspieël. Daarom kan 'n groter vertroue op data hierdie ongelykheide nog verder vergroot indien dit nie met groot versigtigheid gepaardgaan nie. Innovasies soos die beeldverwerking van satellietbeelde of lugfoto's het al gehelp om kennis in te win en navorsing te doen oor gebiede waar gebrekkige opnames gedoen word. En navorsers het verbeeldingryker en slim geword oor die insameling van data met nuwe benaderings soos burgerwetenskap of met alternatiewe modaliteite soos foononderhoude of WhatsApp wanneer dit onveilig of onbetaalbaar duur is of te veel tyd in beslag neem om veldwerkers te gebruik om opnames in persoon te doen.

Maar op die lange duur gaan beter gekoördineerde pogings nodig wees om om die navorsingsgemeenskap aan te moedig om aandag te skenk aan hierdie probleem, insluitende toegewyde befondsingsmeganismes wat befondsing vir datastelle insluit, maar ook ondersteuning vir datageletterdheid en navorsingsvaardighede. Die Verenigde Nasies het hierdie proses aan die gang gesit met sy 2030 Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte, wat 'n ander tipe datarewolusie benodig.

Samelewings kan nie toelaat dat hul instrumente hul lot bepaal nie. Meting maak saak vir die manier waarop samelewings ontwikkel en dit is dus uiters belangrik om dít waaraan ons waarde heg en voor omgee, te erken en te meet.

*Ronelle Burger is 'n professor in die departement Ekonomie en 'n navorser in die Groep vir Navorsing oor Sosio-ekonomiese Beleid (RESEP) aan die Universiteit Stellenbosch.