Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontmoet die wenner van Toekenning vir Voortreflike Onderrig: Dr Alexander Andrason
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 18/02/2021

As een van die Universiteit Stellenbosch (US) se 2020-wenners van die Toekennings vir Voortreflike Onderrig in die afdeling vir ontluikende dosente, meen dr Alexander Andrason die toekenning het  hom opnuut die versekering gegee dat hy op die regte pad is in sy strewe na uitnemende navorsing en uitnemende onderrig.

“Hierdie is een van die belangrikste toekennings wat ek nog ontvang het. Dit herbevestig my oortuiging dat uitnemende navorsing (van hoë gehalte en hoeveelheid) heeltemal versoenbaar is met uitnemende onderrig – dit noodsaak dit inderwaarheid. Die algemene opvatting wat gereeld aan my voorgehou word in die akademie dat 'n mens moet kies tussen om 'n goeie navorser of 'n goeie dosent te wees, is 'n wanbegrip."

Die Ysland-Poolse boorling is 'n navorser en dosent by die US se departement Antieke Studies in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe. Hy is meer as twintig lewende tale magtig en beskik oor 'n uitgebreide kennis van verskeie antieke en klassieke tale.

Andrason doseer Semitiese en Afro-Asiatiese tale: Bybelse Hebreeus, Aramees en Middel-Egipties. Terselfdertyd is hy ook 'n navorser in die departement Afrika-tale aan die US, waar hy na projekte omsien wat met die Bantoe-, Khoi- en Nilotiese taalgroepe verband hou.

“Ek het nog altyd 'n passie vir tale gehad. Ek kom uit 'n veeltalige en multikulturele agtergrond. Ek ken meer as 40 tale en het al in agt verskillende lande gewoon, gestudeer en gewerk. Ek het nog nooit aan myself as 'n burger van 'n spesifieke land gedink nie, maar beskou myself eerder as 'n ware wêreldburg. Dit is dus nie verbasend dat ek reeds sedert my kinderdae verslaaf is aan die aanleer van nuwe tale nie. In my tienerjare wou ek die wetenskap van menslike taal en die verskillende tale wat ek geken het, verstaan; daarom het ek linguistiek as my hoofstudierigting gekies."

Andrason het op universiteitsvlak begin klas gee terwyl hy in Ysland aan sy eerste PhD in Hebreeuse en Arabiese tale gewerk het. Hy het dit in 2010 voltooi. Dit het aan hom die geleentheid gebied om as besoekende dosent by verskeie universiteite in Europa en dele van Afrika op te tree, voordat hy as 'n postdoktorale genoot op 'n kontrak-basis by die US begin klas gee het, en later 'n permanente personeellid geword het.  

Tot op hede het hy ook in 2016 'n PhD in Afrikatale aan die US voltooi, sy finale proefskrif oor taalkontak in 2020 vir sy derde PhD ingedien en onlangs vir 'n vierde doktorsgraad, 'n PhD in Latyn, ingeskryf.

“Ek glo my loopbaanhoogtepunte lê nog voor. Ek het baie drome wat ek graag wil verwesenlik. Wat ek egter tot dusver die meeste geniet het, was om aan my drie doktorsgrade te werk. Om 'n PhD-tesis te skryf, is een van my gunstelingtydverdrywe," sê Andrason.

Andrason glo die feit dat hyself 'n aktiewe student bly, het hom sover gehelp om hom beter met sy eie studente te kan vereenselwig. Hy sê hy wil nooit in 'n gemaksone vasgevang raak waar hy nie in staat is om by ander te leer en sy vorige kennis uit 'n nuwe hoek te herevalueer nie.

“Ek wil 'n aktiewe student bly totdat ek aftree. Hoëronderwysinrigtings is steeds deurtrek met die idee om maar net op een plek te stagneer; ek het dit as beide 'n student en 'n dosent gesien. Om 'n aktiewe studente te bly, sal my altyd daaraan herinner wat dit beteken om 'n student te wees, en sal my dus help om my studente op enige gegewe punt in my loopbaan te verstaan." 

Meer oor die US se Toekenning vir Voortreflike Onderrig

Die US het die jaarlikse stelsel van institusionele toekennings vir voortreflike onderrig in 2017 ingestel. Dit bestaan uit twee kategorieë, 'Uitgelese dosent' en 'Ontluikende dosent', gegrond op hul ondervinding en leierskap in die vakkundigheid van onderrig en leer.

Deelnemers moet 'n portefeulje saamstel om hul nadenke oor en bewys van vier hoofonderdele te lewer: konteks, studente, kennis en professionele groei. Hulle moet ook die lesse wat hulle geleer het op hul reis om uitstekende dosente te word, aandui.

Vir verdere inligting oor die Toekennings vir Voortreflike Onderrig, kontak dr Karin Cattell-Holden by kcattell@sun.ac.za