Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontmoet die wenner van Toekenning vir Voortreflike Onderrig: Dr Mags Blackie
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 17/02/2021

Dr Mags Blackie is gewoond daaraan om 'n wenner te wees.

Dié senior dosent verbonde aan die departement Chemie en Polimeerwetenskap by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Natuurwetenskappe het deur die jare al verskeie toekennings ingepalm.

Blackie was die wenner van die 2020 Suid-Afrikaanse Chemiese Vereniging se Onderrigmedalje, die 2015 HB en MJ Thom-toekenning vir oorsese navorsing, die US Onderriggenootskap 2020–2022 en nou ook die 2020 Uitgelese Dosent-toekenning vir Voortreflike Onderrig vir haar voortgesette toewyding en harde werk as 'n uitstekende dosent.

Volgens Blackie het dit soos “'n feestelike oomblik" gevoel om die Uitgelese Dosent-toekenning te midde van 'n lang pad te ontvang en was dit 'n bevestiging van die ingewikkelde pad wat sy gekies het om te stap.

“My eerste onderwyspos was by 'n hoërskool tussen my B-graad in die Natuurwetenskappe (BSc) en my BSc-honneursgraad. Ek het dit baie geniet en het so amper aangehou skoolgee, maar ek is bly ek het besluit om verder te studeer. Ek het op daardie tydstip besluit om wat ek die 'pad van die minste spyt' noem, te volg en doseer sedert 2007 op universiteitsvlak," vertel Blackie.

Sy is deur haar haar tante en peetma, wat 'n gerespekteerde chemie-onderwyser was, geïnspireer om chemie as vakgebied te kies en toe is dit boonop iets waarin sy goed is.

Blackie het haar BSc-graad aan Rhodes-universiteit behaal, waarna sy haar BSc-honneursgraad en haar PhD in Chemie aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het. Sy is tans besig met nog 'n doktorsgraad in Opvoeding aan die US.

“Toe ek met my PhD-studies begin het, het ek besef chemie (of dít wat ek doen – om nuwe molekules te skep) is skeppend en het ek my eie kreatiwiteit in my chemienavorsing ontdek. Die afgelope tien jaar het opvoedingsnavorsing al hoe belangriker vir my geword en dit kombineer my verskillende liefdes – chemie, onderrig en menslike ontwikkeling."

Afgesien van haar passie vir die wetenskap, sê Blackie sy stel ook baie in Christelike spiritualiteit belang en sy het ook al ander op hul geloofsreis gehelp. Sy het 'n blog en het al verskeie artikels en 'n paar boeke oor die onderwerp van spiritualiteit geskryf.

Ondanks die voortslepende wêreldwye koronavirusepidemie voel Black positief oor die jaar wat voorlê.

“Vanjaar gaan 'n betekenisvolle jaar wees vir my. Ek is 'n redakteur van twee opvoedkunde-navorsingsboeke wat vanjaar verskyn en ek is ook deel van 'n multinasionale oorlangse projek wat chemie- en chemiese ingenieurswesestudente deur die verloop van hul graadstudies volg. Ek het baie geleer deur saam met van die wêreldleiers in hoër onderwys en ingenieursopleiding te werk. Ek hoop dat van die werk wat vanjaar sal oplewer, 'n invloed op tersiêre wetenskaponderwys in Suid-Afrika sal hê."

Meer oor die US se Toekenning vir Voortreflike Onderrig

Die US het die jaarlikse stelsel van institusionele toekennings vir voortreflike onderrig in 2017 ingestel. Dit bestaan uit twee kategorieë, 'Uitgelese dosent' en 'Ontluikende dosent', gegrond op hul ondervinding en leierskap in die vakkundigheid van onderrig en leer.

Deelnemers moet 'n portefeulje saamstel om hul nadenke oor en bewys van vier hoofonderdele te lewer: konteks, studente, kennis en professionele groei. Hulle moet ook die lesse wat hulle geleer het op hul reis om uitstekende dosente te word, aandui.

Vir verdere inligting oor die Toekennings vir Voortreflike Onderrig, kontak dr Karin Cattell-Holden by kcattell@sun.ac.za. ​