Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jongste nuus oor ons planne vir die eerste semester
Outeur: Prof Stan du Plessis Chair: ICBC​
Gepubliseer: 16/02/2021


16 Februarie 2021

Beste kollegas en studente

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) het Maandag 15 Februarie 2021 ons tweede vergadering vir die jaar gehad.

Soos ons op 18 Januarie besluit het, wil ons steeds graag soveel moontlik studente terugbring kampus toe vir wanneer voorgraadse klasse op 15 Maart begin. Daarom kry ons buigsame leer-en-onderrigplanne sowel as uitgebreide gesondheid-en-veiligheidsmaatreëls gereed.

Nietemin blyk daar teenstrydigheid te wees tussen die regulasies wat ná die afkondiging van die aanvanklike vlak 3-beperkings in Junie verlede jaar uitgereik is, en 'n nuwe amptelike mededeling wat universiteite ná die aanpassings in Desember ontvang het, wat uitgestryk moet word.

Ons het omvattende gesprekke met die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) gehad oor die moontlike wysiging van die heersende voorskrifte wat op 8 Junie 2020 gepubliseer is, en wag tans op dringende terugvoer. Ons voorgestelde terug-kampus-toe-plan strook met die DHOO se mededeling van 31 Desember 2020. Daarbenewens het ons by die DHOO aansoek gedoen om toestemming om van die vlak 3-voorskrifte af te wyk.

Ons begryp dat hierdie onsekerheid ontwrigting veroorsaak, en gaan daarom voort om dringend met die DHOO te skakel. Op Vrydag (19 Februarie) sluit ons ook by die res van die sektor aan vir 'n vergadering van Universiteite Suid-Afrika (USAf), waar ons hopelik verdere duidelikheid sal kry.

Intussen het ons deeglike scenariobeplanning gedoen op grond van die DHOO, USAf en die regering se besluite oor COVID-19-regulasies.

Wie sal teruggebring word kampus toe?

As 'n universiteit, is ons verbind tot die akademiese projek en bevestig ons dus ons voorneme om:

  • soveel moontlik nuwelingeerstejaars op kampus toe te laat;
  • op kampus voorsiening te maak vir studente wat nie elders 'n bevorderlike leeromgewing het nie; en
  • 'n gedifferensieerde benadering in fakulteite te volg om voorsiening te maak vir studente wat vir kliniese en ander praktiese werk op kampus moet wees, sowel as vir ons nagraadse studente wat reeds vroeër vanjaar teruggekeer het kampus toe.

Finale besluit

Die IKBV sal weer op 26 Februarie ontmoet, wanneer ons 'n finale besluit oor studente se terugkeer kampus toe én personeellede se terugkeer na die werkplek sal neem. Ons hoop om soveel moontlik studente op ons kampusse te verwelkom sodat ons die transformerende studente-ervaring en unieke universiteitslewe kan bied waarvoor die US bekend is.

Selfs indien ons slegs sommige van ons studente op kampus kan hê, sal ons nietemin steeds seker maak dat alle studente 'n geleentheid het om die akademiese jaar suksesvol te voltooi, nes verlede jaar toe die pandemie uitgebreek het.

Die US het in Desember 2020 die akademiese prestasies van 5 701 studente gevier wat ondanks enorme struikelblokke gegradueer het. Ons is ontsettend dankbaar vir die harde werk en toewyding van ons studente, dosente en steunpersoneel wat dít moontlik gemaak het.

Aangevulde afstandsonderrig, -leer en -assessering (“ARTLA")

Ons wil vanjaar 'n gedifferensieerde leer-en-onderrigmodel genaamd ARTLA volg, wat kontakonderrig vir kleiner groepe studente met aanlyn elemente sal kombineer. Fakulteite en departemente sal op die presiese kombinasie van leer-en-onderrigmetodes vir elke module – onder meer die omvang van persoonlike, aanlyn of hibridiese aanbieding – besluit na gelang van die gewenste module-uitkomste. Hierdie benadering laat ruimte vir aanpasbaarheid om vir die uiteenlopende omstandighede van ons verskillende akademiese omgewings voorsiening te maak.

Projek vir uitgebreide leerruimtes (“ELS")

Om ARTLA moontlik te maak, het die US in November verlede jaar met ʼn projek vir uitgebreide leerruimtes begin. Hierdie ambisieuse, komplekse inisiatief beoog om die installering van gevorderde toerusting in 183 skeduleerbare lokale te bespoedig sodat dosente lesings kan opneem en uitsaai, en ook met studente kan skakel wat nie fisies teenwoordig is nie.

Ons is tans in die kontrak- en verkrygingsfase, waarna toerusting afgelewer en eenhede gemonteer en dan in die lokale geïnstalleer sal word. Hoewel die US met verskeie eksterne kontrakteurs werk, is die projek afhanklik van die beskikbaarheid van voorraad, en moet die Universiteit boonop behoorlike prosesse volg om gehalte te verseker.

Om vir dít alles voorsiening te maak, word installering in hierdie stadium in Mei verwag. Die volledige pakket sal dus nie vir die aanvang van die akademiese jaar op 15 Maart gereed wees nie, maar voorbereidingswerk word intussen gedoen. Die inligtingstegnologie- en fisiese infrastruktuur in die gekose lokale word opgeknap om te sorg dat die eenhede suksesvol geïnstalleer kan word. En opleiding in die gebruik van die eenhede sal vanaf die einde van Februarie begin, sodra demonstrasie-eenhede beskikbaar is.

'n Span van ons Afdeling Leer- en Onderrigverryking werk ook met die Afdeling IT saam aan maniere om bestaande toerusting te gebruik om lesings op te neem en uit te saai. Sodoende sal ARTLA kan voortgaan tot tyd en wyl die volledige oplossing gereed is.

Gesondheid en veiligheid

Die US sal nie gesondheid en veiligheid in die gedrang bring nie. Hoewel dit lyk of ons die einde van die tweede vlaag COVID-19-infeksies in Suid-Afrika nader, is die pandemie nog lank nie verby nie. Inentings bied 'n mate van hoop, maar is nog nie wyd beskikbaar nie. Daarom moet ons waaksaam bly.

Alle protokolle om te keer dat koronavirussiekte versprei, waaronder ontsmetting, ventilasie, fisiese distansiëring en die dra van maskers, sal streng op kampus nagekom word.

Isolasie, kwarantyn en self-isolasie

Die IKBV het Maandag 'n protokol vir isolasie, kwarantyn en self-isolasie goedgekeur (klik hier).

Studente wat by koshuise intrek en na die kampus terugkeer, sal moet bewys dat hulle hulself vir sewe opeenvolgende dae vóór aankoms vir simptome gemoniteer het met behulp van Higher Health se daaglikse risikobeoordelingsinstrument, HealthCheck (slegs via die webadres https://healthcheck.higherhealth.ac.za; nie meer die SMS- of WhatsApp-weergawes nie).

Studente wat simptome van COVID-19 toon, positief toets of hoërisikokontak gehad het, moet vir tien dae self-isoleer. Koshuise sal kamers vir dié doel reserveer.

Studente-aktiwiteite

Met die Verwelkomingsprogram wat vroeg in Maart begin, is dit belangrik om daarop te let dat sosiale byeenkomste verbode sal wees. Geen studentegeleentheid sal toegelaat word nie, tensy dit deel uitmaak van 'n voorafgoedgekeurde program wat alle nodige gesondheidsprotokolle insluit. 'n Spesifieke plan vir die geleentheid moet opgestel word en 'n COVID-19-voldoeningsbeampte moet toesig hou. Studente sal aangemoedig word om 'n geskikte plek in die buitelug vir sulke geleenthede te gebruik, aangesien dít die gevaar van oordrag aansienlik verlaag. (Klik hier vir verdere inligting.)

Gereedskapstelle

Die IKBV het ook 'n omvattende terug-kampus-toe-gereedskapstel vir personeellede en studente goedgekeur [sal so gou moontlik beskikbaar gestel word], wat op die regulasies, voorskrifte en riglyne van die owerhede berus. Dit handel oor aspekte soos persoonlike beskermingstoerusting, toegangsbeheer, ontsmetting, fisiese distansiëring, vergaderings, afvalwegdoening, toetsing, en die voorbereiding van lokale vir leer en onderrig.

Daarbenewens het ons Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking 'n gereedskapstel met drukbare COVID-19-protokolbewusmakingsmateriaal (klik hier) spesiaal vir die US-gemeenskap ontwerp. Entiteite word versoek om slegs hierdie gereedskapstel met die US-handelsmerk op te gebruik, wat onder meer plakkate vir gebou-ingange, kennisgewingborde en kleedkamers insluit.

Terugkeer na die werkplek

Personeellede se terugkeer na die werkplek sal ooreenkomstig die amptelike protokolle en wetsvoorskrifte bestuur word. Ons Afdeling Menslike Hulpbronne sal ons in die nodige prosesse, waaronder gesondheid-en-veiligheidsprotokolle, lei. Vir dié doel sal ons op 23 Februarie 'n werksessie vir lede van die Algemene Bestuurdersvergadering aanbied.

Reis

Bygewerkte riglyne en aanbevelings vir internasionale reis is ook Maandag goedgekeur. Personeellede en studente moet 'n reisregister invul (klik hier) voordat hulle buitelandse besoeke onderneem. Dít sal ons van 'n akkurater rekord voorsien om in noodgevalle bystand te verleen.

COVID-19-webblad

Alle inligting in hierdie kommunikasie is te kry op die toegewyde COVID-19-blad op die US-webtuiste. Die blad bevat ook 'n lys vrae wat dikwels opduik, en alle mededelings en nuusverklarings wat sedert die aanvang van die pandemie uitgereik is. Ons moedig personeellede en studente aan om hierdie waardevolle hulpbron ten volle te benut.

Slot

In die gees van samehorigheid werk ons sy aan sy met alle rolspelers om COVID-19-infeksies te beperk en die Universiteit sowel as die dorpe waarin ons funksioneer oop en in bedryf te hou.

Ons het Maandag by ons vergadering besluit om die IKBV uit te brei deur die voorsitter van die Studenteraad (SR) te nooi om ons gereelde vergaderings by te woon. Alle US-werknemers sal ook Donderdag by die eerste personeelbyeenkoms vir die jaar volledig ingelig word.

Ons beleef 'n buitengewone tyd en weet maar alte goed dat die huidige omstandighede – wat gekenmerk word deur wisselvalligheid, onsekerheid, kompleksiteit en onduidelikheid (“VUCA") – hoë eise aan almal stel. Nietemin bly ons daartoe verbind om in die belang van ons personeel, studente en die groter gemeenskap op te tree.

Pas jouself op en bly veilig.

Prof Stan du Plessis
ICBC-voorsitter