Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bewusmakingsveldtog nodig teen ongegronde aansprake, samesweringsteorieë oor COVID-19-inentings
Outeur: Mark Tomlinson & Ashraf Kagee
Gepubliseer: 11/02/2021

In 'n meningsartikel vir Daily Maverick (10 Februarie), skryf proff Mark Tomlinson (Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing) en Ashraf Kagee (Departement Sielkunde) dat 'n massiewe bewusmakingsveldtog nodig is om ongegronde aansprake en samesweringsteorieë oor die COVID-19-entstof in Suid-Afrika te bestry.

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Mark Tomlinson en Ashraf Kagee*

Die eerste week in Februarie 2021 was 'n belangrike een in die COVID-19-pandemie. In daardie week het die getal mense wat wêreldwyd die entstof ontvang het die getal wat tot dusver die virus opgedoen het, verbygesteek. Bahrein het tans die tweede hoogste inentingskoers ter wêreld, terwyl die Verenigde State teen Saterdag 6 Februarie altesaam 2,1 miljoen mense ingeënt het.

Namate ons eie gesondheidstelsel gereed maak om in die maande wat voorlê 'n massa-inentingsprogram van stapel te stuur, is dit noodsaaklik dat soveel moontlik mense die entstof aanvaar. Volgens 'n onlangse opname deur navorsers van die Universiteit van Johannesburg en die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) sal twee derdes van Suid-Afrikaanse volwassenes beslis of waarskynlik 'n entstof aanvaar indien dit beskikbaar is; 15% was onseker, en 18% het gesê hulle sal nié die inenting kry nie.  

Ons kort 'n enorme nasionale veldtog om lede van die publiek wat vir 'n inenting in aanmerking kom, te oorreed om dit te aanvaar. Toenemende immuniteit as gevolg van wye entstofdekking is ons heel beste kans om die getal nuwe infeksies te beperk, simptome, hospitalisasie en sterftes by diegene met die virus te verminder, en sodoende te sorg dat ons gesondheidsdienste weer tyd het om na mense met ander gesondheidstoestande om te sien. Ons moet seker maak dat genoeg mense die entstof ontvang om tropimmuniteit in die Suid-Afrikaanse samelewing teweeg te bring.

Ongelukkig glo sommige lede van die publiek dat 'n inenting meer skade as goed sal doen en jou trouens die COVID-19-virus sal gee. Hierdie tipe verkeerde inligting moet van alle kante weerlê word – deur die regering, die mediese bedryf én die media.

Inentingsaarseling of -weiering bestaan al jare lank – en hou noodwendig verband met kwaksalwers soos Andrew Wakefield, wat die publiek se begrip van die doeltreffendheid van die MMR-entstof ernstige skade aangedoen het. Wakefield se nou gediskrediteerde studie wat te kenne gegee het dat die MMR-entstof met outisme by kinders verband hou, is uit die vaktydskrif The Lancet onttrek omdat sy data gewoon vals was. Ons moet waak teen ongegronde en onwetenskaplike aansprake oor enige van die beskikbare COVID-19-entstowwe.

Geloof in die pseudowetenskap en kwaksalwery kom ongelukkig ook in Suid-Afrika 'n lang pad. Voormalige president Thabo Mbeki het aangevoer dat MIV nie vigs veroorsaak nie. Hy het eerder die praatjies van die vitamiensmous Matthias Rath geglo, wat vitamiene aan mense afgesmeer het om kwansuis MIV te genees. Boonop het president Mbeki 'n gesondheidsminister (Manto Tshabalala-Msimang) aangestel wat geglo het beet, olyfolie en knoffel is 'n kuur vir vigs. 

Sommige mense is opreg bekommerd dat 'n entstof hulle kan skade aandoen. Om sulke vrese te besweer, het ons akkurate inligting, 'n duidelike boodskap en uitnemende wetenskap nodig. Leuens en verkeerde inligting kan slegs met feite, data en harde bewyse weerlê word. Dít is wat ons moet gebruik om ongegronde aansprake en samesweringsteorieë oor die COVID-19-entstof te bestry. Die 18% van respondente in bogenoemde opname wat gesê het hulle sal nie vir die inenting gaan nie, het heel waarskynlik al 'n hele paar inentings in hulle lewe ontvang (MMRI, klem-in-die-kaak en ander). In plaas daarvan dat dit hulle siek of gestremd gelaat het, leef hulle waarskynlik vandag danksy daardie inentings. Hulle moet daaraan herinner word.

Daar is 'n paar maniere om 'n bevorderlike omgewing vir wye aanvaarding van die COVID-19-entstof te skep.

  • In die aangesig van inentingsaarseling is vertroue 'n kernkomponent van die besluit om die inenting te kry. As rolmodelle en voorbeelde vir baie, het Suid-Afrikaanse openbare figure – politici, sterre en sportlui – 'n belangrike rol te speel om te wys dat inenting teen COVID-19 noodsaaklik is vir jou eie sowel as die samelewing se gesondheid en welstand. As die publiek sien hoe leiers en diegene in die openbare oog die entstof ontvang, sal hulle meer waarskynlik hulle skeptisisme laat vaar en self die inenting kry.
  • Nietemin weet ons ook dat openbare vertroue in baie Suid-Afrikaanse politici tans betreklik laag is. In hierdie verband is die rol van godsdienstige leiers van die uiterste belang. Elke dominee, imam en rabbi moet in die openbaar ingeënt word en gereeld gesprekke oor die belang van entstowwe by hulle eredienste en godsdiensplegtighede insluit. 
     
  • Tradisionele genesers het eweneens 'n unieke rol te speel om mense die inenting te laat kry. Hulle geniet immers die vertroue van diegene wat hulle dienste opsoek, en kan dus openbare aanvaarding en vertroue help aanmoedig as deel van die nasionale veldtog om die publiek in te ent.
     
  • Sosiale bemarking en openbare aankondigings moet in alle erns begin om openbare bewustheid van, en belangstelling in, inenting te wek. Dat die meerderheid Suid-Afrikaanse volwassenes 'n inenting sal aanvaar indien dit beskikbaar is, is bemoedigend en behoort so wyd moontlik bekend gemaak te word. Dít sal diegene wat dalk nog die kat uit die boom kyk, oortuig dat 'n entstof vir die meeste ander mense aanvaarbaar is, dat dit in belang is van gemeenskaps- en openbare gesondheid, en dat hulle die inenting moet kry wanneer die geleentheid hom voordoen.
     
  • Wetenskapverslaggewers op radio, televisie, sosiale media én in die gedrukte media moet wetenskaplike denke in die samelewing aanmoedig sodat die publiek aktiewe lesers en verbruikers van wetenskaplike inligting kan word. Dít sal mense in staat stel om wetenskaplike begrippe soos profilakse, verewekansigde proewe en die plasebo-effek te verstaan. 'n Begrip van die grondbeginsels van vaksinologie is ook nuttig, want sodoende sal die publiek verstaan dat 'n entstof jou nie regtig die virus kan gee óf jou DNS kan verander nie. Hierdie tipe akkurate en duidelike inligting kan heelwat daartoe bydra om onsinnige, ongegronde samesweringsteorieë oor entstowwe uit die weg te ruim.

Suid-Afrikaanse openbare figure soos president Cyril Ramaphosa, aartsbiskop Desmond Tutu, Stephen Grootes en Siya Kolisi het 'n verantwoordelikheid om die COVID-19-entstof onomwonde in die openbaar te onderskryf en te aanvaar, en sodoende ons almal aan te moedig om óók so te maak. En as gemeenskapsleiers en -gesaghebbendes in elke uithoek van Suid-Afrika dieselfde kan doen, sal ons moontlik genoeg Suid-Afrikaners kan inent om die land deur hierdie verskriklike pandemie te dra. 

*Prof Mark Tomlinson is mededirekteur van die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing in die Departement Globale Gesondheid aan die Universiteit Stellenbosch (US). Prof Ashraf Kagee is 'n uitgelese professor in die US se Departement Sielkunde. Albei is lede van die entstofadvieskomitee van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement.