Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SharkSafe erken as top oseaan-innoveerder
Outeur: Innovus
Gepubliseer: 09/02/2021

​SharkSafe Barrier™, 'n Innovus-afwentelmaatskappy van die Universiteit van Stellenbosch is deur die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) se digitale platform UpLink erken as een van sy beste oseaan-innoveerders.

UpLink, die digitale platform van WEF wat innovasie en vooruitgang dryf in die rigting van volhoubare ontwikkelingsdoelstellings, het op 22 Januarie 2021 sy tweede groep oseaan-innoveerders bekendgestel. Die platform is daarop gemik om ondernemings soos SharkSafe PTY te identifiseer en uit te lig as 'n onderneming met groot potensiaal om die Verenigde Nasies se doelwitte vir volhoubare ontwikkeling te versnel. Hierdie erkenning is verleen tydens die tweede Ocean Solutions Sprint, geondersteun deur Die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN); Die Natuurbewaringsgebied (TNC); die Internasionale Koraalrif-inisiatief (ICRI); en die Seychelles Bewarings- en Klimaat-aanpassingstrust (SeyCCAT).

Die Universiteit Stellenbosch se prof Conrad Matthee, een van die uitvinders van SharkSafe Barriers™, het gesê UpLink stel die volgende generasie missie-gedrewe entrepreneurs en jong innoveerders in staat om kragte saam te snoer met 'n betroubare gemeenskap van toonaangewende organisasies, kundiges, beleggers en veranderingsagente om 'n beduidende impak te maak. "Ons is baie trots daarop dat Sharksafe gekies is as een van die elf innovasies wat die potensiaal het om van die belangrikste uitdagings tans in die mariene omgewing, die hoof te bied."

SharkSafe Barrier™ is die eerste omgewingsvriendelike tegnologie wat magnetiese en visuele stimuli kombineer om haaispesies wat as gevaarlik beskou word vir mense, af te skrik. SharkSafe het ook verlede jaar die gesogte NSTF South32's Lewis Foundation Green Economy-toekenning gewen vir uitstekende bydraes tot wetenskap, ingenieurswese, tegnologie en innovasie in Suid-Afrika. Die uitvinders van SharkSafe Barrier™ is Michael Rutzen, dr Sara Andreotti, dr Craig O'Connell en prof Matthee. Dr Andreotti en prof Matthee is afkomstig van die US se Departement Plant- en Dierkunde.

"In die volgende paar maande sal Uplink vir Sharksafe bystaan om die impak van die tegnologie te verhoog deur mentorskap, werksessies vir kapasiteitsbou, blootstelling en sigbaarheid, asook bekendstellings aan potensiële beleggers, waar van toepassing," het prof Matthee gesê. "Sharksafe het nou formeel aangesluit by 'n groeiende gemeenskap van UpLink-innoveerders wat voordeel trek uit die platform."

Die WEF het die voorste innoveerders bekendgestel en gesê: "Die oseaan is ons reddingsboei - die gesondheid daarvan is noodsaaklik vir ons gesondheid. Dit is van kardinale belang om belowende oseaan-innovasies, waar dit ook al mag wees, te vind en te verhoog, om hulle te verbind en om hulle te help groei, om te verseker dat ons een van ons waardevolste bates van die planeet te beskerm. Die WEF is van mening dat hierdie innovasies die potensiaal het om enkele van die belangrikste geleenthede in die oseaanruimte vandag aan te spreek."

Anita Nel, hoofdirekteur vir Innovus, die US se kommersialiseringsafdeling wat die universiteit se kantoor vir tegnologie-oordrag huisves, sê sedert hulle betrokke geraak het by die kommersialisering van SharkSafe, is die maatskappy afgewentel en toon dit ongelooflike groei. "Die feit dat die Technology Innovation Agency (TIA) in die verlede in hulle belê het, is 'n groot pluimpie en 'n bewys dat SharkSafe 'n innoverende onderneming is wat goed bestuur word – en so die aandag van die wêreld op hulle gevestig het."​