Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Polhilia – hersiening van minder bekende Kaapse plantgenus verseker bewaring
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 09/02/2021

Een van die Kaapse Blommeryk se mees bedreigde plantgenusse, Polhilia, is nou omvattend hersien en populasies van hierdie bedreigde spesie is gedokumenteer, wat bydra tot pogings om die bewaring hiervan te verseker.

Dit is te danke aan die veldwerk en navorsing wat kranige plantkundige en huidige PhD-student Brian du Preez, gedoen het vir sy MSc-studies in die Departement Plant- en Dierkunde by die Universiteit Stellenbosch (US). Die bevindings van sy werk is onlangs as 'n monografie van die genus Polhilia gepubliseer in the South African Journal of Botany. In hierdie studie word vier nuwe spesies beskryf, wat die bestaande hoeveelheid spesies in dié genus op 11 te staan bring. Al 11 spesies staar uitsterwing in die gesig en word as krities bedreig beskryf.

Polhilia-spesies groei in Renosterveld, 'n plantegroeitipe endemies tot die Kaap. Maar meer as 90% van Renosterveld is heeltemal omskep vir die verbouïng van landbougewasse, wat tot gevolg het dat Polhilia-spesies, tesame met talle ander bedreigde plante, beperk is tot klein kolle van oorblywende Renosterveld," verduidelik hy.

Brian het begin om die taksonomie van hierdie minder bekende plantgenus te hersien nadat hy in 2016 toevallig 13 bosse van die langverlore spesie Polhilia ignota, herontdek het waar dit groei op die plaas Goede Hoop, naby Eendekuil. Tot met hierdie ontdekking was hierdie spesie slegs bekend van twee kolleksies waar hulle in 1924 en 1928 onderskeidelik in die Porterville- en Saldanha-gebiede versamel is, en was dit dus in SANBI se rooi lys van Suid-Afrikaanse Plante gelys as uitgestorwe.  In 2017 het hy 'n enkele plant van Polhilia ignota ontdek waar dit groei langs 'n heining langs die N7, slegs 5km Noord van Piketberg. Daaropvolgend het lede van Custodians of Rare and Endangered Wildflowers (CREW) nog twee populasies naby Voëlvlei Natuurreservaat en suidwes van Porterville gevind, wat die totale aantal bekende plante op rofweg 230 te staan bring.

Brian sê hy het byna 8 000 kilometer per pad, en byna 'n honderd te voet afgelê in sy soeke na meer populasies van Polhilia wat groei in die klein oorblywende kolle Rosterveld in die Overberg en Swartland, wat twee veldwerktoere na die Roggeveld-platorand naby Sutherland insluit.  Een van die hoogtepunte van sy vele veldwerktoere was die ontdekking van 'n nuwe spesie, Polhilia fortunata, naby Vanwyksdorp in die Klein-Karoo.

Alhoewel hy geesdriftig oor sy veldwerk is, sê Brian dat hy oorweldig gevoel het toe hy met die agteruitgang en vernietiging van die oorspronklike Renosterveld  gekonfronteer is: “'n Mens kan maar net probeer om jouself in te dink aan hoe die area gelyk het alvorens die eerste ploeë inbeweeg het. In daardie tyd was daar geen omgewingswetgewing aangaande beskermde spesies of hulle habitat nie."

Prof Léanne Dreyer, 'n plantkundige aan die US en een van Brian se studieleiers, sê die taksonomiese hersiening van hierdie bedreigde spesies is uiters belangrik: “Indien ons nie weet van hierdie spesies en hulle populasies nie, kan ons hulle nie bewaar nie. Gebaseer op Brian se werk, sal herbariums wêreldwyd nou hulle versamelings hersien en met die nuutste inligting bywerk. Hy het ook die bewaringstatus van elk van die 11 spesies vasgestel, wat van kritieke belang is vir hulle toekoms."

Brian werk tans saam met die kurator van die Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuine, Dr Donovan Kirkwood, ten einde 'n versameling van al 11 spesies van Polhilia, in sy groter versameling op te neem. Dit beteken dat plantmateriaal met ander botaniese tuine wêreldwyd gedeel kan word, nog 'n versekeringspolis om die toekomstige oorlewing van hierdie spesies te verseker. In die geval van een van die nuutontdekte spesies, Polhilia groenewaldii, byvoorbeeld, is daar slegs vier plante in hulle natuurlike omgewing oor.  

Op die foto bo: Die nuutontdekte Polhilia groenewaldii vereer mnr Jannie Groenewald, voormalige plantspesialis by Haarwegskloof Natuurreservaat, wat dit die eerste keer ontdek het naby Bonnievale. Daar is tans net vier van hierdie plante bekend wat in hulle natuurlike habitat oorleef.  Foto: Brian du Preez

Medianavrae

Brian du Preez

E-pos: bdp@sun.ac.za

Sel: 072 553 1442