Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW-navorser se loopbaan kry hupstoot met ‘Future Professors’-program
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 02/02/2021

Ondanks vele struikelblokke op sy pad, het dr Tongai Maponga van die Afdeling Geneeskundige Virologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) nog altyd daarin geglo om doelgerig vorentoe te kyk.

Sy loopbaan gaan nou 'n stewige hupstoot kry nadat hy gekies is om aan die nasionale 'Future Professors Programme (FPP)' deel te neem.

Die FPP is 'n nasionale kapasiteitsbouprogram wat begin verlede jaar deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding van stapel gestuur is om navorsers/dosente wat vroeg in hul loopbaan belofte toon, op die pad na adjunk- en volle professorskap te help.

Die program sal aan hom 'n beter gestruktureerde pad bied wat loopbaangroei betref, sê 'n opgewonde Maponga (37), wat in die tweede FPP-groep opgeneem is. “Die departement en die universiteit sal hieruit voordeel trek omdat ek in die akademie kan bly en in my akademiese loopbaan kan vorder, wat tot verhoogde uitsette sal lei. My deelname help ook met die transformasiepogings wat gemik is op meer gevorderde akademici van kleur en uit voorheen benadeelde gemeenskappe."

Hy glo die program sal hom help om in 'n onafhanklike, kundige en selfversekerde akademikus te ontwikkel wat nie net navorsing vir publikasiedoeleindes doen nie, maar ook oplossings sal bied vir sommige van die infeksiesiekte-uitdagings waardeur Suid-Afrika en die res van Afrika in die gesig gestaar word. “Ek voorsien ook gevestigde samewerking met ander akademici in Afrika en elders."

Volgens hom is sy navorsingsbelangstelling hoofsaaklik virale hepatitis, hoewel hy ook betrokke is by navorsing oor moeder-na-kind-oordrag van die sitomegalovirus en, meer onlangs, SARS-CoV-2, wat vir die Covid-19-pandemie verantwoordelik is.

Maponga het in minder bevoorregte omstandighede in Zimbabwe grootgeword, maar kon - soos ander jongmense in dieselfde bootjie danksy 'n allesomvattende belastingsbetaler-ondersteunde beurs aan 'n openbare universiteit gaan studeer. In sy derde jaar was hy egter onder die eerste groep Zimbabwiese studente wat hierdie voordele verloor het. “Dit het my lewe baie moeilik gemaak, maar danksy die ondersteuning en opoffering van my ouers en ander familielede kon ek my vierjaar-honneursgraad in mediese laboratoriumwetenskap aan die Universiteit van Zimbabwe voltooi," vertel hy.

Hy het in 'n kliniese diagnostiese laboratorium gewerk en daarna by die Afrika-instituut vir Biomediese Wetenskap en Tegnologie, waar hy aan navorsing blootgestel is.

Weens die ekonomiese uitdagings in Zimbabwe het hy egter 'n jaar nadat hy sy studie voltooi het, by die Nasionale Verwysingslaboratorium in Mbabane, Swaziland, aangesluit. Vir Maponga is dit 'n trotse prestasie dat hy daar 'n projek gelei het wat tot die totstandkoming van 'n vermoë in dié land gelei het om vir MIV-infeksie in babas te toets – 'n kritieke toets wat tot in daardie stadium net in Suid-Afrika gedoen kon word.

Suid-Afrika het akademiese geleenthede wat mens nie maklik elders in Afrika sal vind nie, sê hy oor sy besluit om sy nagraadse studie hier voort te sit.

Maponga het sowel sy meesters- as doktorsgraad aan die Afdeling Geneeskundige Virologie van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe voltooi en was aanvanklik ʼn nadoktorale en later 'n navorsingsgenoot voordat hy as dosent aangestel is.

Wat sy akademiese reis tot dusver betref, praat hy net met die grootste lof en dankbaarheid van proff Monique Andersson, Wolfgang Preiser, hoof van die Afdeling Geneeskundige Virologie, en Richard Glashoff.

“Mens kom selde die mate van deursettingsvermoë en veerkragtigheid teë wat dit van hom geverg het om verskeie struikelblokke te oorkom en sy doelwit van nagraadse opleiding en 'n daaropvolgende loopbaan in die akademie te verwesenlik," sê Preiser oor Maponga. “Boonop het sy primêre PhD-toesighouer hierdie posisie verlaat voordat hy sy doktorsgraad voltooi het, maar ook hierdie uitdaging het hy aangegryp en uitgeblink."

Preiser beskryf Maponga as kundig op sy vakgebied, akademies uitstaande maar nederig, en net so goed wat onderrig as organisatoriese en administratiewe aangeleenthede betref. “Hy is ywerig, sien altyd die 'groter prentjie' raak sonder om relevante besonderhede agterweë te laat, is knap wat plaaslike sowel as internasionale samewerking betref, en het uitstekende taal- en kommunikasievaardighede."

Dis 'n groot eer dat hy vir die betrokke program gekies is, vervolg Preiser. “Die program sal ongetwyfeld voordelig wees vir sy verdere akademiese ontwikkeling, hom in kontak bring met ander kundiges en navorsingsgebiede wat sy belangstelling sal prikkel, en hom in staat stel om sy uitstaande potensiaal ten volle te ontwikkel."


Foto-erkenning: Damien Schumann