Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US stel aanlyn-inskakelingsprogram vir voorlopig aanvaarde studente bekend
Outeur: Claudia Swart
Gepubliseer: 11/02/2021

Aanlyn US-inskakelingsprogram vir voorlopig aanvaarde studente begin 1 Februarie

Weens die impak van die COVID-19-pandemie op graad 12's se akademiese jaar in 2020 het die Universiteit Stellenbosch (US) besluit om studente proaktief met hulle oorgang van skool tot universiteit by te staan.

Vir dié doel sal 'n inskakelingsprogram vir alle voorlopig aanvaarde studente in Februarie 2021 aanlyn beskikbaar wees. Die program beoog om eerstejaars beter vir universiteitstudie toe te rus deur studente verskeie groeigeleenthede te bied. Aangesien die amptelike verwelkomingsprogram en klasse eers in Maart begin, is Februarie 'n ideale tyd om met voorlopig aanvaarde studente te skakel terwyl hulle op hulle Nasionale Senior Sertifikaat- (NSS-)uitslae wag.

Die program is op die US se leerbestuurstelsel, SUNLearn, ontwerp en word op 1 Februarie bekend gestel. Studente kan aanmeld met die gebruikersnaam en wagwoord wat hulle gedurende die aansoekproses ontvang het. Steun sal beskikbaar wees om enige probleme of kwessies uit te stryk.

Om soveel moontlik waarde uit die program te put, behoort studente die verskillende modules teen hulle eie tempo deur te werk. 'n Kopkaart van die inskakelingsreis is ook opgestel sodat studente hulle kan oriënteer én kan kies watter inligting hulle wanneer wil bestudeer. Die program sal ook ná registrasie by die US toeganklik wees.

Die inskakelingsprogram bestaan uit 'n generiese module, wat op alle studente afgestem is, en modules wat spesifiek op die verskillende fakulteite betrekking het. Kruisverwysings maak dit maklik om vinnig tussen modules te beweeg.

Die generiese module begin met 'n kort oorsig van SUNLearn en van die inskakelingsprogram. Video's van die Maties 101-veldtog (waaronder 'n virtuele kampustoer) is ook beskikbaar. Daarbenewens sal voorlopig aanvaarde studente toegang hê tot video-opnames waarin huidige US-studente van húlle oorgang van skool tot universiteit vertel.

Ander onderwerpe wat in die generiese module behandel word, sluit die volgende in:
Haal die meeste uit my 24 uur (tydbestuur)
Kry die universiteitslewe onder die knie (sukses en welstand)
Slaan stres vir 'n ses (stresbestuur)
Wys die boeke wie's baas (eksamen- en studievaardighede)
Kom ons gesels oor geld (finansiële geletterdheid)
Word 'n leesmeester (akademiese leeswerk)
Wees die beste moontlike student (I-FlourishWell4Life-program)
 
In 'n uitgebreide vraag-en-antwoordsessie sal studente na antwoorde op baie van hulle vrae oor die US kan soek én selfs hulle eie kan plaas. Inligting vir hierdie afdeling is versterk deur 'n opname waarin senior studente gevra is wat húlle wens hulle voor hulle aankoms by die US geweet het. Video's van bestaande studente se raad oor hoe om universiteitstudie te hanteer, sowel as besonderhede van beskikbare steun, is maklik toeganklik. Studente sal boonop met van die US se mentors in aanraking kan kom.

Die inhoud vir die fakulteitspesifieke modules is deur fakulteitsverteenwoordigers self saamgestel. Dit sluit in inligting oor die verskillende programme in die fakulteit, die beskikbare fakulteitspesifieke steun, en wie om te kontak in geval van enige vrae.

Studente en hulle ouers sal deur middel van die US se amptelike kommunikasiekanale van die program in kennis gestel word. Afgesien van SMS'e en plasings op sosiale media, sal alle voorlopig aanvaarde studente ook op 1 Februarie 'n e-pos ontvang wat hulle nooi om die inskakelingsprogram op SUNLearn te volg, 'n oorsig bied van die program, en kontakbesonderhede verstrek ingeval hulle hulp nodig het.

​Die US se bedryfshoof, prof Stan du Plessis, het die bekendstelling van die program op 19 Januarie 2021 in 'n amptelike mededeling aangekondig. “Dit is belangrik dat alle US-personeellede bewus is van die program, want hulle kan dalk versoek word om kwessies op te klaar wat in studente se vrae opduik," verduidelik projekkoördineerder mev Claudia Swart-Jansen van Vuuren, senior raadgewer in die Sentrum vir Onderrig en Leer. “Ek is opgewonde oor hierdie projek, veral ook oor die geesdrif van verteenwoordigers van al die fakulteite en studentesteunafdelings, wat besonder hard gewerk het om die program gereed te kry. Dit is waarlik 'n spanpoging." 

Navrae kan gestuur word na Claudia Swart:  claudias2@sun.ac.za