'n Internasionale span wetenskaplikes van universiteite in Europa en Suid-Afrika het bevind dat die sogenaamde “Heilige Woude"* in Togo in Wes-Afrika, 'n uiters belangrike rol in die berging van koolstof speel en hulle kan moontlik help om die uitwerkings van klimaatsverandering teen te werk. Dit is belangrik om die grond in hierdie woude, wat honderde vierkante meters beslaan, te bewaar – nie net vir koolstofberging nie, maar ook vir biodiversiteit en die funksionering van die ekostelsel.
Die bevindings van hul studie het onlangs in die oop-toegang vaktydskrif, Catena, verskyn.
Die navorsers wou 'n beter begrip kry van die variasies in grondeienskappe en die proses van koolstofvorming in die grond onder hierdie uiters biodiverse “Heilige Woude". Die woude word vir godsdienstige doeleindes gebruik en daar word geglo dat hulle deur gode, totemdiere of voorvaders bewoon en beskerm word. Die span het die struktuur, komponente en kenmerke van die grond, asook die minerale wat dit bevat, ontleed.
“Ons studie het getoon dat grond in hierdie woude ten minste 8,64 ton anorganiese koolstof per hektaar bewaar. Hierdie koolstof word direk uit die koolsuurgas in die lug van die grond verkry. In reële terme praat ons hier van 'n oppervlakte so groot soos 'n rugbyveld wat die hoeveelheid koolsuurgas permanent verwyder het wat deur 'n kragstasie vrygestel word wat 15,8 ton steenkool verbrand," sê een van die navorsers, dr Michele Francis van die departement Grondkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US). Sy het die navorsingstudie saam met dr Hafeez Rehman (Noorweegse Universiteite van Lewenswetenskappe, Noorweë) en proff Rosa Poch (Universiteit van Lleida, Katalonië, Spanje) en Fabio Scarciglia (Universiteit van Kalabrië, Italië) onderneem.
Francis sê grond-anorganiese koolstof is 'n belangrike koolstofsink omdat die koolstof permanent in minerale vorm wegsluit is – anders as koolstof wat uit grondorganiese materiaal soos blare-afval en humus verkry word. “Die organiese materiaal ontbind en stel die koolstof weer in die atmosfeer as koolsuurgas vry, tensy daar 'n stap tussenin is wat in staat is om die koolstof vas te vang en permanent te berg – soos in die grond van die heilige woude."
Sy voeg by dat die minerale vorm van hierdie anorganiese koolstof in die grond bly en nie oplos nie weens die droë aard van die gebied. Dit sal nog 'n belangriker vorm van koolsuurberging in die toekoms wees, aangesien Togo op die lange duur na 'n toenemende verergering in droogte neig.
Volgens Francis is daar 'n groot moontlikheid vir die ontwikkeling van die grond van die gebied ten opsigte van landbou en agrobosbou en vir die moontlike afsondering van koolstof wat van toepassing is op wêreldwye veranderingsbeleide.
“Dit is fundamenteel om hierdie natuurlike prosesse te verstaan vir die inwerkingstelling van grondbestuurspraktyke wat tot die afsondering van koolstof en die verbetering van die grondgehaltestatus in die streek, en moontlik ook in ander lande met 'n soortgelyke klimaat, plantegroei en geskiedenis van grondgebruik/landsdekking lei.
“Dit is veral belangrik in gebiede waar hierdie woude al hoe skaarsers en meer gefragmenteerd word weens bevolkingsgroei, uitbreiding van geboue, die bou van paaie en die erosie van tradisionele godsdienstige gelowe."
Francis voeg by dat hul bevindings vir mense in die landbou, ekologie, biologie, bosbou en aardwetenskappe van belang sal wees.
*Die heilige woude is geleë in die Centre de Formation Rurale de Tami (CFRT), wat plaaslike boere oplei. Baie van die landboutegnieke maak op die byvoeging van organiese materiaal tot die uitgeputte grond staat, soos om byvoorbeeld blare-afval by te voeg, wat 'n spieëlbeeld van die prosesse in die heilige woude is. Dit word deur La Salle-broers bestuur.
- BRON: Rehman, HU; Poch, RM; Scarciglia, F & Francis, ML 2020. A carbon-sink in a sacred forest: Biologically-driven calcite formation in highly weathered soils in Northern Togo (West Africa). Catena: doi.org/10.1016/j.catena.2020.105027