Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jan Mouton-leersentrum gee die toon aan vir toekomstige ontwikkelings by die US
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 25/01/2021

Die splinternuwe, innoverende Jan Mouton-leersentrum sal binnekort sy deure vir Matiestudente open.

Die Jan Mouton-leersentrum, wat tussen die Langenhoven-studentesentrum (Neelsie) en die Polimeerwetenskap-gebou op die hoofkampus van die Universiteit Stellenbosch (US) geleë is, sal as 'n algemene leer- en onderrigfasiliteit dien waar studente, personeel en belanghebbers van die Universiteit, asook die breër publiek, mekaar kan ontmoet en interaksie kan hê.

“Ondanks vooruitgang in tegnologie en die vinnige ontwikkelings in afstandsleer, sal daar altyd 'n behoefte aan persoonlike interaksie in die leeromgewing wees. Hierdie sentrum met sy verskeie lesingskamers, wegbreekkamers en groot, oop ruimtes maak interaksie soveel makliker," sê prof Stan du Plessis, Uitvoerende Bedryfshoof van die US.

Bouwerk aan die sentrum, wat meer studente as enige ander huidige onderrigruimte op die US-kampus sal kan huisves, het in Oktober 2017 'n aanvang geneem en sal vir alle US-studente toeganklik wees wanneer hulle op 15 Maart 2021 na die kampus terugkeer.

JannieLeerw-4.jpg JannieLeerw-5.jpg

Volgens Du Plessis is die lesingskamers en ouditorium toegerus met die heel nuutste Slim-tegnologie, wat “studente in staat sal stel om sonder enige haakplekke met die kuberruimte te verbind", en wat tot 'n verbeterde leeromgewing sal bydra.

Die sentrum het ook 'n baie klein koolstofvoetspoor, wat 'n gryswaterstelsel insluit wat die ablusiegeriewe sal bedien. Klaskamers vir groepswerk met sitplek vir onderskeidelik 350, 270 en 150 mense sal aan dosente en studente buigsaamheid bied om hul omgewing aan te pas om besprekings en spanwerk moontlik te maak.

Nog 'n groot voordeel is dat die Jan Mouton-sentrum volgens die beginsels van universele toegang ontwerp is om te verseker dat persone met gestremdhede die hele fasiliteite met gemak kan gebruik, insluitende die badkamers, ouditorium en klaskamers. 

JannieLeerw-6.jpgCampustourNewBuildings-48.jpg

“Die nuwe sentrum gee die toon aan vir die toekomstige ontwikkeling van geboue op kampus. Die leerruimtes is spesifiek só ontwerp om vir moderne pedagogies voorsiening te maak wat rondom interaktiewe en hibriede leer ontwikkel word.

 “Die Mouton-sentrum sal ook ons fisieke leeromgewing uitbrei, wat op sy beurt weer ons leer- en onderrigvermoë sal verbeter. Dit sal 'n groter en beter ruimte verskaf waar leer in die toekoms kan plaasvind en wat die Universiteit nog toegankliker vir meer besoekers sal maak," sê Du Plessis.  

Anders as die meeste akademiese geboue op die US se kampusse, sal nie een spesifieke fakulteit die kurator van die gebou wees nie. Die sentrum sal ook vir konferensies gebruik word, wat ook aan mense van buite toegang tot die Universiteit sal gee. Die sentrum sal baie parkeerruimte in die kelderverdieping en buite die gebou hê.

Klik op die skakels hieronder vir meer inligting en nog artikels oor die Jan Mouton-leersentrum:

http://www.sun.ac.za/afrikaans/Lists/news/DispForm.aspx?ID=3921

https://www.sun.ac.za/afrikaans/Lists/news/DispForm.aspx?ID=5342