Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe leersentrum vir studente by Swartland-hospitaal
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 04/01/2021

Ná verskeie terugslae spog die Swartland-distrikshospitaal op Malmesbury uiteindelik met ʼn leersentrum vir voorgraadse sowel as nagraadse studente.

En ook nie ʼn oomblik te vroeg nie. Weens die ontwrigting wat die Covid-19-pandemie teweeggebring het, doen heelwat meer mediese studente van die Universiteit Stellenbosch (US) tans hul kliniese rotasie hier as wat vroeër die geval sou gewees het.

Onder normale omstandighede sou maksimum drie of vier mediese studente na die Swartland-hospitaal uitgeplaas word vir die middel- of laat deel van hulle kliniese rotasies, sê dr Gavin Hendricks, opleidingkoördineerder en huisarts by die Swartland-hospitaal. Weens Covid-19 het hierdie reëling egter weggeval en is die nuwe IDEAL-rotasie voorlopig in werking gestel.

IDEAL – ofte wel Integrated Distributed Engagement to Advanced Learning – behels dat vyfdejaar- mediese studente uitgeplaas word na hospitale in die Wes- en die Noord-Kaap wat nie voorheen vir opleiding gebruik is nie. Op grond hiervan is tien vyfdejaars dus nou by die Swartland-hospitaal besig met kliniese opleiding wat hul andersins by die Tygerberg-hospitaal sou ondergaan het.

Die leersentrum is in Augustus vanjaar geopen, toevallig ook die maand waarin hul huidige rotasie van ses weke afgeskop het, met SUNLOC wat ʼn belangrike rol in die beplanning en uiteindelike toerus daarvan gespeel het.

Volgens Hendricks is die kompakte sentrum met die nodige tegnologie soos WiFi, ʼn drukker, twee rekenaars en ʼn groot skerm toegerus vir selfstudie, webgebaseerde onderrig, virtuele klasse en vergaderings. Daarbenewens is daar ʼn klein konferensie-area wat met ʼn bank, ʼn tafel en stoele ingerig is asook ʼn kombuis en toilet.

Met die IDEAL-rotasie bevind die vyfdejaars hulle weens beperkte kliniese plekke afwisselend een dag op die hospitaalperseel en die volgende dag weg daarvan. Die sentrum kan die vyf studente akkommodeer wat op enige gegewe tydperk weg van die hospitaal aanlyn na antwoorde oor behandeling of ander mediese kwessies wil soek.

Die drie kliniese assistente wat tans by die Swartland-hospitaal in huisartskunde spesialiseer, het ook toegang tot die leersentrum, sê Hendricks. “Daar was definitief voor die koms van hierdie sentrum ʼn leemte wat betref spasie vir akademiese onderrig, studente-assessering en ʼn plek waar studente kon vergader."

By alle klein distrikshospitale is die kwessie van ruimte kritiek, sê prof Bob Mash, uitvoerende hoof van die Departement Huisartskunde en Noodgeneeskunde asook hoof van die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Oor die jare is verskeie leersentrums by landelike hospitale opgerig, maar met die Swartland-hospitaal was dit ʼn geval van eers die derde keer gelukkig wees.

“Die beplanning kom al sedert omstreeks 2012 aan met geld wat aanvanklik deur die Discovery Stigting daarvoor geskenk is," vertel Mash. Teen die tyd wat goedkeuring vir die beplande gebou ná ʼn uitgerekte burokratiese proses vanuit die nodige oorde verleen is, was die oprigting daarvan egter finansieel nie meer haalbaar nie.

“Die hospitaal het vervolgens intern ʼn plek geïdentifiseer wat in ʼn leersentrum omskep kon word. Maar terwyl hiervoor beplan is, het ʼn brand in 2017 in die Swartland-hospitaal uitgebreek, voeg Mash by. Die proses het weereens tot stilstand geknars toe die oorblywende dele hertoegewys moes word vir kliniese dienslewering.

Die volgende jaar is tydens onderhandelings ingestem dat daar met die restourasie van die hospitaal plek aan ʼn leersentrum afgestaan sou word. “Hoewel Covid-19 die proses vertraag het, kon die idee darem nog in 2020 verwesenlik word," sê ʼn dankbare Mash.