Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mpendulo Cele is Maties se beste MSc-student vir 2020
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 16/12/2020

Die Universiteit Stellenbosch se beste MSc-student vir 2020, mnr. Mpendulo Cele (25), is vol lof vir hoe sy onderwysers by Zwelethu Hoërskool en die Kutlwanong Sentrum vir Wiskunde en Wetenskap in Umlazi hom bygestaan het om sy punte in wiskunde en wetenskap te verbeter.

Tydens die US se Desember 2020-gradeplegtigheid sal Mpendulo die S2A3 medalje vir die beste MSc-student by die US ontvang. Dié brons medalje word jaarliks deur die Suider-Afrika Genootskap vir die Bevordering van die Wetenskap aan die mees uitstaande nagraadse student in die natuurwetenskappe, ingenieurswese of die mediese wetenskappe per Suid-Afrikaanse universiteit toegeken.

Mpendulo, wat in die sorg van sy ouma in Izonglweni, 'n landelike gebied in die suide van KwaZulu-Natal, sê alhoewel hy aanvanklik op skool net gemiddelde punte vir wiskunde behaal het, het hy altyd die vak geniet. Dit was egter eers op hoërskool dat sy belangstelling ook tot goeie punte gelei het.

“Dit was eers by Zwelethu Hoërskool, toe my wiskunde-onderwyser, mnr. Bongumusa Alphus Magwaza, my belangstelling raakgesien het en my gehelp het om my punt te verbeter. Dis toe dat ek baie meer van wiskunde begin hou het," vertel hy.

Met nuwe selfvertroue het hy die volgende jaar ook Fisiese Wetenskappe as 'n vak geneem. En teen Graad 10 is hy aangemoedig om in te skryf vir ekstra klasse by die Kutlwanong Center of Mathematics and Science in Umlazi.

“Danksy die wonderlike onderwysers by Zwelethu en Kutlwanong het al my vakke se punte verbeter, en in Graad 12 was ek die beste leerder by Zwelethu Hoërskool."

Hy het daarna'n BSc-graad in Wiskunde en Rekenaarwetenskap by die Universiteit van KwaZulu-Natal verwerf, gevolg deur 'n BScHons-graad in wiskunde, met 'n fokus op Getalleteorie.

Hy het toe begin soek na 'n studieleier om sy belangstelling in Getalleteorie verder te heen, en het Dr Sophie Marques by die US genader. Om sy basiese kennis in Getalleteorie te verbeter, het sy aanbeveel dat hy aansoek doen vir die ALGANT beurs – 'n kompeterende internasionale program vir navorsers wat in Algebra, Meetkunde en Getalleteorie belangstel. Tans is die US die enigste Suid-Afrikaanse universiteit wat lid is van dié program. Gedurende 2019 het Mpendulo sewe meesterklas-modules aan die Universiteit van Padova in Italië voltooi, en daarmee saam 'n gesamentlike graad tussen die US en die Universiteit van Padova verwerf.

Dr Marques sê sy is veral trots op hoe Mpendulo vasgebyt het, ten spyte van verskeie uitdagings, insluitend die feit dat hy uit minder gegoede omstandighede kom: “Ten spyte van vele uitdagings, het hy sy doel nagestreef en alles so goed hanteer".

“Ek waardeer ook sy vermoë om te worstel met die idees waarmee ek hom konfronteer. Dit het ons toegelaat om indrukwekkende vordering te maak met die navorsingsprobleem. Hy is ook ongelooflik hardwerkend, en daar het nie 'n week verbygegaan dat hy nie vir my 'n vorderingsverslag gestuur het nie."

Mpendulo is nou besig met sy PhD in Getalleteorie onder Dr Marques se leiding.

Medianavrae

Mnr Mpendulo Cele

Sel: 073 518 7037

WhatApp: +39 320 888 6727

E-pos: mcele@sun.ac.za