Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD-studie wil veiligheid, doeltreffendheid van radiofarmaseutiese middels in Afrika verbeter
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 16/12/2020

Baie Afrikalande sukkel om veilige en doeltreffende radiofarmaseutiese middels vir die diagnose of behandeling van siektes te voorsien. Selfoudits en die implementering van eenvoudige, bekostigbare intervensies in dié lande se radioapteke, wat radioaktiewe middels voorberei en resepteer, kan help om hierdie struikelblok te bowe te kom.

Dít is een van die hoofbevindinge van 'n nuwe studie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Internasionale riglyne vir radiofarmaseutiese praktyk beveel komplekse fasiliteite en omvattende gehaltebestuursprogramme aan, wat nie juis haalbaar is vir ontwikkelende lande nie. Hierdie lande kan baat vind by die implementering van 'n bestuurstelsel van gehalte, medisynekaste met goeie gelaagde lugvloei wat reg gebruik en goed in stand gehou word, gepaste personeelopleiding, en streng nakoming van aseptiese tegnieke," sê dr Fany Ekoume van 'n kerngeneeskundefasiliteit in Kameroen. Ekoume, wat die meeste van haar doktorale navorsing gedoen het terwyl sy in Kameroen gewerk het, het Dinsdag (15 Desember 2020) haar doktorsgraad in Kerngeneeskunde by die US se Desember-gradeplegtigheid ontvang. Hierdie PhD span die kroon op 'n reis wat danksy 'n genootskap van die Internasionale Atoomenergieagentskap in 2007 by die US begin en in 2011 op 'n magistergraad van die US uitgeloop het.

Oor die belang van haar navorsing sê Ekoume “belegging in die vestiging en instandhouding van goed ontwerpte steriele fasiliteite en geskikte toerusting vir gehaltebeheer bly die beste manier om die veiligheid en doeltreffendheid van radiofarmaseutiese middels te verseker".

Om die gevolge van nievoldoening aan internasionale vereistes te ondersoek, en te bepaal of praktyke sonder groot uitgawes verbeter kan word, het Ekoume gehaltebestuursaspekte in drie radioapteke by verskillende fasiliteite en in uiteenlopende ekonomiese omstandighede in Kameroen, Suid-Afrika en Nederland bestudeer. Sy beklemtoon dat kerngeneeskundedepartemente en radioapteke in Suid-Afrika en Nederland al 'n geruime tyd saamwerk.

As deel van haar studie het Ekoume die status van radiofarmaseutiese praktyk in Kameroen en Suid-Afrika beoordeel deur personeellede van 'n radioapteek en kerngeneeskunde-eenheid selfoudits te laat doen. Sodoende het sy aspekte soos personeelopleiding en -vaardigheid, die fasiliteit self, voorbereidings- en resepteerprotokolle en die hantering van radioaktiewe afval ondersoek.

Daarna het sy die data van die onlangs ingestelde gehalteversekeringsprogram in Yaoundé met roetinegehaltedata van 'n Suid-Afrikaanse radioapteek en 'n ultramoderne radioapteek in Nederland vergelyk. Ekoume sê die aanvanklike status van gehaltebestuur in Kameroen was baie swak vergeleke met dié by die een Suid-Afrikaanse radioapteek wat sy in haar studie bestudeer het.

“Ons het bevind dat die implementering van betreklik eenvoudige, bekostigbare regstellings by die hospitaal in Kameroen 'n duidelike verbetering in die standaard van radiofarmaseutiese praktyk en gehaltebestuur tot gevolg gehad het.

“Personeelopleiding en rekordhouding het verbeter, jaarlikse prestasiebeoordelings is ingestel, 'n oorplasingsluik is tussen die radioapteek en die toedieningskamer geïnstalleer, en die vertrekuitleg in die radioapteek is herrangskik.

Ná die aanvanklike monitering van luggehalte in die radioapteek is verskeie maatreëls ook ingestel om higiëne in die fasiliteit te verbeter."

“'n Eenvoudige klein besmettingsmonitor kan nou gebruik word om 'n betroubare telling van radioaktiwiteit op radiochromatogramme te bied (d.w.s. om radioaktiwiteit te bepaal ná die chemiese skeiding van verskillende molekules). Sodoende kan die radiochemiese suiwerheid (d.w.s. radioaktiwiteit in die gewenste chemiese vorm) van radiofarmaseutiese middels by die hospitaal daagliks getoets word."

Ekoume sê die bevindinge van haar studie kan heelwat daartoe bydra om die gehalte van werk en radiofarmaseutiese praktyk in radioapteke in lae-inkomstelande te verbeter.

“Die aangepaste instrument wat vir die selfoudits gebruik is, behoort ook vir ander Afrika-radioapteke van nut te wees. Ander radioapteke wat in soortgelyke omstandighede funksioneer, kan die metodes in my studie as 'n voorbeeld vir die implementering van goeie radiofarmaseutiese praktyk gebruik."

Maar dalk die belangrikste, voeg sy by, is dat pasiënte uiteindelik sal baat vind by die beskikbaarheid van veilige en doeltreffende radiofarmaseutiese behandeling.

  • Foto: Dr Fany Ekoume by die gradeplegtigheid. Fotograaf: Stefan Els

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Fany Ekoume

Kerngeneeskunde, Algemene Hospitaal Yaoundé, Kameroen

E-pos: ekoumef@sun.ac.za, ekoumefanypricile@gmail.com

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Mediabestuurder

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

E-pos: viljoenm@sun.ac.za