Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studie vra vir beter wetgewing om mynbesoedeling van water te keer
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 16/12/2020

Suid-Afrika het beter omgewings-, water- en mynbouwetgewing nodig om te keer dat ons varswaterhulpbronne deur mynboubedrywighede, veral suur mynwater, besoedel word. Hiervoor kan ons wetgewers by Duitsland gaan leer, wie se wetsraamwerk 'n paar nuttige wenke bied.

So sê kandidaatprokureur dr Marianca Louw, wat Maandag (14 Desember 2020) haar doktorsgraad in Publiekreg by die US se Desember-gradeplegtigheid ontvang het.

Louw is passievol oor mense- en omgewingsregte sowel as omgewingswetgewing en het in haar studie op Suid-Afrika se water- en mynboureg gekonsentreer deur watergehaltebeskermingsraamwerke te ontleed.

Sy het onder meer die land se wetsraamwerk met Duitsland s'n vergelyk en ook verskeie regsdokumente, beleide en internasionale konvensies en verdrae oor omgewingsreg beskryf en bestudeer.

“Een van die redes waarom ek ons omgewings-, water- en mynbouwetgewing met Duitsland s'n vergelyk het, is dat ons nou in 'n sekere sin in dieselfde situasie is as Duitsland ná hereniging in 1990. Destyds het ligniet- en uraanontginning sowel as die chemiese bedrywe in die tyd van die Duitse Demokratiese Republiek 'n verwoeste landskap en omgewing agtergelaat."

Hoewel die mynbousektor een van die belangrikste pilare en dryfvere van ons ekonomie is, sê Louw, is dit ook 'n groot waterbesoedelaar.

“Ons het beter wette oor watergehaltebeskerming nodig wat ons waterhulpbronne teen suur mynwater kan help beskerm, en sal sorg dat ons genoeg veilige water het vir voortgesette en volgehoue ekonomiese groei en dienslewering."

Louw sê ons huidige wetgewing behoort gewysig te word sodat water- en mynboupermitte of -lisensies deur 'n enkele owerheid in plaas van afsonderlike entiteite gereguleer word.

“Die Duitse wetsraamwerk toon dat water- en mynboulisensies beter gereguleer word as slegs een owerheid dit toestaan."

Sy voeg by dat ons wetgewing, nes die Duitse raamwerk, ook 'n watersuiweringsaanleg as voorvereiste moet stel voordat mynboubedrywighede kan begin.

“Nadat die mynbou- en waterpermit aan die mynmaatskappy toegestaan is, moet die permithouer eers 'n watersuiweringsaanleg ingevolge die regulasies oprig om te sorg dat mynwater voor, gedurende en ná mynboubedrywighede gesuiwer word. Dít sal die probleem van suur mynwater dadelik help verlig, want die aanleg sal aanhou om mynwater te suiwer selfs nadat die myn gesluit is."

Louw wys daarop dat mynmaatskappye in Duitsland voor die aanvang van ontginning 'n deposito as waarborg moet betaal dat daar genoeg geld sal wees vir rehabilitasie en herstel nadat myne sluit.

“Suid-Afrika het 'n soortgelyke finansiële bepaling, maar dit maak nie voorsiening vir 'n finansiële waarborg voordat mynboubedrywighede begin nie.

Daar behoort 'n aanbeveling te kom dat indien 'n mynmaatskappy nie 'n finansiële waarborg kan voorsien vir herstel ná mynsluiting nie, 'n persentasie van die maatskappy se wins maandeliks aan die mynbouowerheid oorbetaal moet word. Indien die maatskappy dit nié doen nie, behoort die minister van mineraalhulpbronne en energie die myn te kan sluit."

Louw sê as mynboubedrywighede gestaak word, moet die maatskappy 'n sluitings- en rehabilitasieplan voorlê.

“Die wetgewing behoort gewysig te word sodat die mynmaatskappy vir omgewingskade aanspreeklik bly totdat die minister van mineraalhulpbronne en energie tevrede is met die rehabilitasie. Aangesien suur mynwater 'n herhalende probleem is, moet voldoende finansiële hulpmiddele voorsien word om natuurlike vars water te beskerm."

Volgens Louw is beter wetgewing belangrik, want mynbou gaan voort om gevestigde dreineringspatrone te ontwrig. Dít veroorsaak dikwels oorstromings en erosie, besmet oppervlak- en grondwater, vergiftig voedselgewasse, veroorsaak gesondheidsprobleme by mense, en takel die natuurlewe, ekosisteme, infrastruktuur en erfenisterreine af.

Sy sê die doeltreffendheid van die Suid-Afrikaanse wetsraamwerk om varswaterhulpbronne teen omgewingsaftakeling as gevolg van suur mynwater te beskerm, hang af van sterk politieke wil, genoeg menslike en finansiële hulpbronne, en toegewyde betrokkenheid deur alle tersaaklike staatsdepartemente, in noue samewerking met die privaat sektor.

  • Foto: Dr Marianca Louw by die gradeplegtigheid. Fotograaf: Stefan Els

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Marianca Louw

Kandidaatprokureur

Basson Blackburn Geïnk

Paarl

E-pos: marianca@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Mediabestuurder

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

E-pos: viljoenm@sun.ac.za