Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Quarraisha Abdool Karim vereer vir haar baanbrekersnavorsing
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 15/12/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) het op Dinsdag (15 December 2020) ʼn eredoktorsgraad aan die internasionaal-gerekende epidemioloog in aansteeklike siektes Prof Quarraisha Abdool Karim toegeken by die US se Desember-gradeplegtigheid. Abdool Karim, direkteur van die Sentrum vir Vigsnavorsing in Suid-Afrika, het die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc), honoris causa ontvang tydens 'n klein fisiese gradeplegtigheidseremonie vir doktorale gegradueerdes van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe wat in die Endlersaal in die Konservatorium op die Stellenbosch-kampus gehou is.

 
  • ​Selfoongebruikers klik hier vir die video.

Sy is vereer vir haar baanbrekersnavorsing op die gebied van HIV en as kampvegter vir die regte van mense wat met MIV saamleef of daardeur geraak word; vir haar toewyding om die gesondheid van jongvroue in Afrika en in die res van die wêreld te bevorder; vir haar leierskap in navorsing en wetenskaplike deurbrake; en vir haar ruimhartigheid om haar kennis deur wetenskaplike en burgerlik-gesentreerde ondernemings in Afrika en selfs verder te deel.

In haar aanvaardingstoespraak, het Abdool Karim gesê sy “voel geëerd en baie voorreg om die ontvanger van ʼn eredoktorsgraad te wees en dit is self meer spesiaal omdat dit deur die Kanselier, wat ʼn dierbare vriend van meer as drie dekades is, toegeken word."

Sy het die doktorandi gelukgewens en beklemtoon watter belangrike bydrae hulle lewer in die verskaffing van die nodige wetenskaplike inligting wat gesondheidsorgwerkers gebruik om lewens tydens die pandemie te red.

“Dit is verbasend hoe die wetenskap in ons reaksie op COVID-19 ditself as 'n integrale deel van die samelewing gevestig het. Ons verstaan die rol van wetenskaplikes om nuwe kennis te produseer, te reageer en kampvegters te wees vir die gebruik van bewyse sodat die samelewing daarby baat, en om die kennis met die publiek te deel sodat dit toeganklik en beskikbaar is."QuarraishaAbdoolKarim-6.jpgQuarraishaAbdoolKarim-6.jpg

Abdool Karim het gesê die pandemie herinner ons daaraan dat ons interafhanklik is van mekaar en dat ons wonderwerke kan verrig as ons nasionaal en wêreldwyd saamwerk. In hierdie verband het sy genoem hoe vinnig verskillende entstowwe ontwikkel is om COVID-19 te behandel.

“Die mensdom het nuwe hoogtes bereik in die aangesig van hierdie virus, en ons kan dit doen as ons saamwerk. As ons inklusief is en met ʼn gemeenskaplike doel voor oë werk, kan ons groot dinge bereik."

Abdool Karim het daarop gewys dat dieselfde beginsels ook op die bereiking van geslagsgelykheid en die verbetering van vroue se gesondheid van toepassing moet wees – iets wat ongelukkig tydens die pandemie nie genoeg aandag gekry het nie.

MEER OOR PROFESSOR ABDOOL KARIM

Vasberade om die nasionale en internasionale fokus op die voorkoming van MIV en Vigs – veral onder tienermeisies en jong vroue in Afrika suid van die Sahara – te verskerp, neem prof Abdool Karim al die afgelope 28 jaar wêreldwyd die voortou in MIV-navorsing.

Haar span by die Sentrum vir Vigsnavorsing in Suid-Afrika (CAPRISA), waar sy mededirekteur van navorsing is, het die baanbrekerswerk met die Tenofovir-jel CAPRISA 004-toets gedoen. Hierdie navorsingsmylpaal het vir die eerste keer getoon dat antiretrovirale middels MIV-infeksie kan voorkom. Sedert dit in die vaktydskrif Science verskyn het, is dit al meer as 2 000 keer aangehaal.

As 'n A-gegradeerde Suid-Afrikaanse navorser en epidemioloog in aansteeklike siektes, is Abdool Karim ook 'n professor in Kliniese Epidemiologie by die Mailman Skool van Openbare Gesondheid aan die Columbia-universiteit in New York, en pro-visekanselier vir Afrikagesondheid by die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Sy behaal 'n BSc-graad aan die Universiteit van Durban-Westville in 1981, waarna sy ʼn BSc-honneursgraad in Biochemie aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf. Ná haar verhuising na die VSA, verwerf Karim in 1988 'n meestersgraad in Parasitologie aan die Columbia-universiteit in New York. In 2000 voltooi sy haar doktorsgraad in Geneeskunde aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Abdool Karim word vandag wêreldwyd erken vir haar wetenskaplike bydraes tot die beklemtoning van die kwesbaarheid van jong vroue, die behoefte aan vroue-geïnisieerde tegnologieë en die belangrikheid daarvan om MIV-voorkomingspogings met dienste rondom seksuele voortplantingsgesondheid te integreer.

Sy is die ontvanger van meer as 30 nasionale en internasionale toekennings. Dit sluit in die Orde van Mapungubwe, die hoogste erkenning aan burgers deur die president van Suid-Afrika, en die invloedryke L'Oreal-UNESCO Vroue in Wetenskap-toekenning vir Afrika en die Midde-Ooste.

In 2014 word sy die eerste vroue-ontvanger van die TWAS-Lenovo-wetenskapprys, met ʼn prysgeld van USD 100 000. In dieselfde jaar ontvang sy die goue toekenning in wetenskap van die Wetenskapakademie van Suid-Afrika vir die samelewing-afdeling en die goue wetenskaplike merietetoekenning van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR).

Abdool Karim is UNAIDS (die Verenigde Nasies se Vigs-program) se spesiale ambassadeur vir tieners en MIV en wetenskaplike raadgewer vir die uitvoerende direkteur van UNAIDS. Sy dien tans as ondervoorsitter van die SAMNR se direksie en is ʼn lid van die Wêreldakademie van Wetenskap.

Die Universiteit Stellenbosch is trots om prof Quarraisha Abdool Karim te vereer met die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc), honoris causa, vir haar diepe toewyding tot navorsing en opvoeding oor vrouegesondheid in Afrika en die res van die wêreld, spesifiek vir haar suksesvolle pogings om die nasionale en internasionale fokus op MIV en Vigs, asook MIV-voorkoming te verskerp.​​

Hooffoto: Prof Quarraisha Abdool Karim by die gradeplegtigheidseremonie. Foto 1: Prof Quarraisha Abdool Karim (middel) saam met prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering aan die US, prof Jimmy Volmink, Dekaan van die FGGW, Prof Salim Abdool Karim (eggenoot), mnr Wasim Abdool Karim (seun) and prof Wim de Villiers, US-Rektor en Visekanselier. Fotograaf: Stefan Els