Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bekoring met insekte lei tot PhD
Outeur: Faculty of Agrisciences
Gepubliseer: 14/12/2020

​Die nederige dog vlytige miskruiers van die Karoo is belangrike klein kewertjies wat groot navorsingsaandag verdien.

Aan die woord is Lavhelesani (Lavhe) Simba, wat Maandag, 14 Desember haar doktorsgraad by die Fakulteit AgriWetenskappe se gradeplegtigheid ontvang het. ​

Simba, 'n student in die Fakulteit AgriWetenskappe se Departement Bewaringsekologie en Entomologie, het die Karoo se miskruiers tydens haar studie ondersoek. Haar proefskrif is getiteld The relative importance of species richness and functional diversity for ecosystem functions performed by dung beetles (Coleoptera: Scarabaeidae) in South Africa.

Insekte fassineer Simba al van kindsbeen af. As jong dogter op 'n plattelandse dorpie in Limpopo het Simba dikwels saam met haar sibbe die veld verken op soek na sprinkane en termiete om te eet. Later, as student aan die Universiteit Venda, het haar belangstelling in insekte verdiep.

Die geleentheid om die Karoo se miskruiers te bestudeer het homself voorgedoen toe die BioGaps-projek deur die Suid-Afrkaanse Nasionale Biodiversiteit Instituut geloods is om gapings in die wetenskaplike kennis van die Karoo se biodiversiteit aan te spreek.

Daarom het Simba se PhD-studie gefokus op miskruiers op ses veeplase en in vyf beskermde areas, almal in die Nama- en Sukkulente-Karoo biome. Hierdie beskermde areas sluit in die Karoo, Kamdeboo en Tankwa-Karoo Nasionale Parke; die Anysberg Natuurreservaat; en Tierberg, wat bestuur word deur die Suid-Afrikaanse Netwerk vir Omgewingswaarneming (SAEON). Tesame het haar 11 studieterreine 'n area van ongeveer 500 km2 oor drie provinsies heen beslaan.

Die doel van die studie was om die uitwerking van veranderinge in landverbruik en reënvalpatrone op miskruierdiversiteit in die streek te bepaal. Simba het spesifiek aandag gegee aan die faktore wat miskruiergetalle, -spesierykheid en funksionele diversiteit binne beskermde areas en weivelde beïnvloed. Die bepalende faktore wat sy as onderwerp geïdentifiseer het was reënval, soogdiergetalle, grondtekstuur en plantbedekking.

Die waarde van die nederige miskruier

Miskruiers speel 'n kardinale rol in land-gebaseerde ekosisteme, sê Simba. “Wanneer hulle mis gebruik as kos en behuisingsbron, verrig hulle terselftertyd 'n verskeidenheid ekosisteemdienste," sê sy. Uiteindelik vind beide die natuur en die mens baat by hierdie dienste.

“Miskruiers bemes die grond, maak weivelde skoon, dra by tot die voedingstof-kringloop en grondkwaliteit, en verrig bestuiwingsdienste," verduidelik Simba. “Misverwydering beheer ook vlieë en vee-interne parasiete om sodoende by te dra tot pesbeheer.

“Ook, voedingstof-sirkulasie en die feit dat miskruiers die grond omdolwe bevorder grondvrugbaarheid, wat op sy beurt plantproduktiwiteit bevorder."

Hierdie insekte is verder die ideale biologiese navorsingsonderwerp in 'n wêreld wat besig is om te evolueer. “Hulle is aanduiders van ekologiese verandering in die streek," sê Simba. “Miskruiers is gevoelig vir veranderinge in reënvalpatrone en landverbruik."

Hoe is dit gedoen?

Hierdie studie is een van die eerste om miskruiergemeenskappe oor 'n reënvalgradiënt heen te bestudeer, en is ook oorspronklik in sy assessering van die rol van landverbruik.

Simba het haar navorsing langs so 'n gradiënt verrig in die winter- en somerreënstreke van die halfdor Nama- en Sukkulente-Karoo, waar die omvang van biodiversiteit nog grootliks onbekend is.

Die Karoostreek word geken aan somerreën in die ooste en winterreën in die weste. Die gemiddelde jaarlikse reënval wissel van 500 mm in die ooste tot ver onder die 100 mm in die noordweste.

Simba het 35 verskillende miskruierspesies in die studiegebied geïdentifiseer wat verskil in kleur en grootte. Sommiges is so groot soos 'n R5-muntstuk, en ander so klein soos kraletjies van 2 mm tot 22 mm lank.

Die metodes wat sy ingespan het was grondwippe met koeimishopies in die middel van 'n plastiekemmer wat sy begrawe het, en waterwippe met 'n draadjie met mis-lokaas bo-oor 'n soortgelyke emmer gespan. Die gebruik van twee verskillende soorte wippe het dit vir haar moontlik gemaak om miskruiers met uiteenlopende gewoontes te bestudeer. Altesaam 9 089 kewers is versamel.

Die insekte is almal in een van drie groepe gekategoriseer na gelang van hulle gedragseienskappe: rollers (spesies wat 'n misballetjie skep, dit rol en dan 'n ent van die mishoop af begrawe), tonnelgrawers (wat die mis direk onder die mishoop uitgrawe) of bewoners (wat eet én nesmaak op die mishoop). Hierdie spesifieke gedragseienskappe het 'n uitwerking op hoe die verskillende spesies verskillende ekosisteemdienste lewer soos misverwydering.

Simba het verder ook 15 spesies geïdentifiseer as “aanduierspesies" wat met verskillende omgewingsveranderlikes geassosieer is. 'n Aanduiderspesie verskaf 'n aanduiding van die omgewingstoestande in 'n bepaalde streek.

Wat die veld laat blyk het

Beskermde areas (met meer misproduserende soogdierspesies) en plase (met minder sulke spesies) het nie verskil van mekaar in terme van miskruier-teenwoordigheid of -afwesigheid, -spesierykheid of die liggaamslengte van miskruierspesies nie. Tog was miskruiers meer volop in die beskermde areas as op die plase.

Hierdie bevinding is onverwags, gegewe dat daar 'n positiewe korrelasie was tussen miskruiergetalle en 'n toename in veegetalle op die studieplase. Simba verduidelik: “Dit mag wees omdat daar in die beskermde areas (eerder as op die plase) missoorte was wat meer geskik is vir miskruiervoortplanting, insluitend groter mishope in teenstelling met slegs die klein korrels van skaapmis.

“Die resultate dui daarop dat die spesies in hierdie beskermde areas meer soortgelyk was aan mekaar [dus, die spesierykheid was laer] en die spesialisrolle fyner verdeel was, met groter kompetisie onder die spesies", sȇ Simba.

Die groter voorkoms van miskruiers in die beskermde areas het, onverwags, ook nie gelei tot groter funksionele diversiteit nie — dit wil sȇ, groter diversiteit in daardie komponente wat 'n uitwerking het op hoe 'n ekosisteem funksioneer nie. Om die waarheid te sȇ, funksionele diversiteit was beduidend laer in die beskermde areas as op die plase.

Die spesierykheid en volopheid van miskruiers het beide beduidend toegeneem saam met 'n toename in, onderskeidelik, plantbedekking, herbivoorsoogdier-getalle en reënval.

Miskruierspesierykheid is verhoog deur reënval en die beskikbaarheid van mis, maar minder so deur misverskeidenheid, verduidelik Simba. “Die soort grondverbruik het nie miskruierspesierykheid geaffekteer nie, waarskynlik omdat ander faktore soos reënval heelwat meer belangrik is in hierdie streek," sȇ sy.

In hierdie studie het korttermyn-reënval (oor die vyf dae voor die monsterneming heen) 'n beter voorspelling van spesierykheid gebied as mediumtermyn-reënval (oor vyf jaar) en langtermyn-reënval (oor 30 jaar). Langtermyn-reënval was tog die beste verduideliking vir spesievolopheid. 

Wat hou die toekoms vir miskruiers in?

“Klimaatkenners voorspel ekstreme reënvalveranderinge in hierdie streek; my resultate dui daarop dat dít 'n dramatiese impak op miskruiergemeenskappe sal hê," sê Simba.

Baie miskruiers bly dormant onder die grond tydens die droë seisoen wanneer omstandighede ongunstig is. Hierdie studie dui aan dat sommige spesies nie uitermatig droë omstandighede kan verdra nie en moontlik verder weg beweeg het van die droë gebiede gedurende droogtetye.  

Simba het ook vasgestel of sekere funksionele groepe miskruiers moontlik meer bekwaam is as ander wanneer dit kom by bepaalde eksosisteemfunksies. Dit blyk toe dat rollers meer bekwame misverwyderaars is en tonnelgrawers op hul beurt plantproduktiwiteit meer verhoog. Hierdie gevolgtrekking vereis verdere navorsing, sê sy.

“Dít bevestig dat die verskillende funksionele groepe verskillende bydraes lewer tot ekosisteemfunksies in die gebied," verduidelik Simba. “Die Karoo het beide rollers en tonnelgrawers nodig om ekosisteemvoordele te verseker."

Gesamentlik beklemtoon die bevindinge hoe belangrik dit is om alle gemeenskapseienskappe te oorweeg in die vasstel van hoe miskruiergemeenskappe deur spesifieke veranderinge geaffekteer word," sê Simba.

“Die studie bevestig weereens presies hoe belangrik reënval in 'n dor gebied is, nie net vir plante en werweldiere nie, maar ook vir die die klein outjies onder die grond wat mens weinig sien.

“Pogings om miskruiers te beskerm sal 'n funksionerende eksosisteem in hierdie streek ondersteun."

​