Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsingsprojek oor koloniale strukture van Kaapkolonie skop af
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 10/12/2020

Vanaf Januarie 2021 sal 'n navorser van die Universiteit Stellenbosch, prof Johan Fourie, die medeleier wees van 'n internasionale navorsingspan wat hulle ten doel stel om die volledigste databasis tot nog toe oor Suid-Afrika se koloniale ekonomie daar te stel.

Die projek −The establishment, growth and legacy of a settler colony: Quantitative panel studies of the political economy of the Cape Colony − is befonds deur die Bank van Swede Tercentenary vir SEK 29.4 miljoen (sowat R51.84 miljoen) oor 'n tydperk van ses jaar.

Fourie koördineer die Laboratorium vir die Ekonomie van Afrika se Verlede (LEAP), 'n navorsingseenheid binne die Departemente Ekonomie en Geskiedenis. Drie ander LEAP-akademici – prof Dieter von Fintel (Departement Ekonomie), Calumet Links (Departement Ekonomie) en Kate Ekama (Departement Geskiedenis) – neem ook aan die projek deel. Die ander navorsers is van Lund Universiteit in Swede, die Universiteite van Utrecht en Leiden in Nederland, asook MIT, UC Davis en die Universiteit van Colorado in die VSA.

Die navorsers sal 'n groot hoeveelheid historiese data van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie se kolonisasie van Suid-Afrika vir die eerste keer stelselmatig organiseer en só lig werp op die geleidelike sosio-ekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrika vanaf die stigting van die Kaapkolonie in 1652 tot in 1840.

Erik Green, hoofnavorser en medeprofessor in Ekonomiese Geskiedenis aan Lund Universiteit, het gesê: “Ons sal nou materiaal vanaf die eerste dag studeer, met ander woorde vanaf die stigting van 'n formele kolonie, en vir langer as 150 jaar. Dit sal ons in staat stel om te kyk hoe die strukture tot stand gekom het en watter verband daar tussen verskillende veranderlikes bestaan. Tans neem die meeste mense aan dat die Suid-Afrikaanse samelewing ongelyk is weens kolonialisme. Dis egter te simplisties. Ons wil weet watter faktore aanleiding gegee het tot hierdie ongelyke verspreiding en waarom dit so lank aangehou het."

Die navorsers gaan van drie unieke databasisse gebruik maak: paneeldata van die Kaap van Goeie Hoop; 'n register van Suid-Afrikaanse gesinne; en data oor die vrystelling van slawe. Hierdie databasisse is gedeeltelik getranskribeer, maar verdere werk moet nog gedoen word.

Volgens Fourie vereis die implementering van hierdie projek 'n groot groep kundiges uit verskillende vakgebiede. “Ons het mense nodig met kennis van die Nederlandse taal soos dit in die 1700's gepraat is en mense wat vertroud is met die breë teoretiese debatte, tot werklike kundiges oor die geskiedenis van die Kaapkolonie. Ons maak ook gebruik van kundiges op die gebied van spesifieke statistiese metodes en masjienleer."

Met behulp van die databasisse sal dit moontlik wees om die kolonie en sy bevolking (setlaars, slawe en inheemse bevolking) op individuele vlak te bestudeer. Dit bied 'n unieke geleentheid om die geleidelike ontwikkeling van 'n koloniale ekonomie en sy instellings te ontleed en hoe dit deur mense se gedrag en lewensomstandighede beïnvloed is en op sy beurt beïnvloed het.

“Dit was nie Nederland as 'n volk wat die kolonie gestig het nie, maar die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie. Dis met ander woorde soos 'n onderneming bestuur. As gevolg daarvan het hulle meer gedetailleerde verslae geproduseer," het Fourie gesê. "Dit gee ons uitstekende insae in hoe 'n koloniale ekonomie en samelewing funksioneer, en stel ons in staat om ons algemene ontwikkelingsteorieë met werklike bewyse te toets."

Die uiteindelike doel van die projek is om 'n bydrae te maak tot die kundigheid rakende die sosio-ekonomiese ontwikkeling, instellings en kolonialisme.

“Die databasisse is uniek omdat hulle so 'n lang tydperk dek. Hulle bevat ook geweldig baie besonderhede en kan selfs effens beter wees as Sweedse historiese data wat gewoonlik as uitstekend beskou word. Daar is 'n opvatting dat Afrika nie bestudeer kan word nie omdat historiese data in baie gevalle ontbreek. Ons het nou 'n uitsondering wat ons in staat stel om waarskynlik een van die wêreld se mees gedetailleerde databasisse op te bou," het Green gesê.

  • ​Foto (verskaf): Op 'n foto wat verlede jaar by 'n LEAP-werksessie geneem is, verskyn die internasionale navorsingspan se medeleiers, proff Johan Fourie (met rooi trui ver regs) en Erik Green (met blou jeans in die voorste ry, vierde van regs) van Lund Universiteit. Langs hom is een van die lede van die navorsingspan, prof Dieter von Fintel (3de van regs in die voorste ry), van US se Departement Ekonomie.