Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Personeel bedank vir hul harde werk en toewyding
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 08/12/2020

Van die oorskakeling na nood-afstandsonderrig, -leer en -assessering tot hulp aan personeel om die pandemie te beveg en die uitwerking daarvan te versag, het die Universiteit Stellenbosch (US) goeie vordering gemaak vanjaar ondanks die uitdagings wat die COVID-19-pandemie gebring het.

“2020 sal tereg as 'n uitsonderlike uitdagende jaar onthou word. Toe die koronaviruspandemie ons tref, is al ons prioriteite onmiddellik afgeskaal na die suksesvolle voltooiing van die 2020-akademiese jaar; en om die US se volhoubaarheid te verseker. Ek is bly om te kan sê ek dink ons het goed gevaar – danksy die harde werk en opofferings van ons kollegas. Baie dankie aan julle almal!" het die Rektor en Visekanselier van die US, prof Wim de Villiers by die laaste virtuele personeelbyeenkoms van 2020 gesê.

Volgens De Villiers het twee hooffaktore tot die US se sukses bygedra. Dit sluit die totstandkoming van die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) in, wat die US in staat gestel het om die krisis gekoördineerd en op 'n geïntegreerde manier te hanteer. Die ander faktor is personeellede, “beide in akademiese rolle en diegene wat professionele administratiewe steundienste lewer, wat die tweede myl, myl op myl, geloop het om ons akademiese projek op koers te hou."

Hy het ook sommige van die US se suksesse in 2020 beklemtoon en het die pad vorentoe vir US-personeel en -studente uiteengesit. Van die US se hoogtepunte wat hy genoem het, sluit in:

  • Oorsakekling na nood-afstandsonderrig, -leer en -assessering;
  • 'n Toename in navorsingsproduktiwiteit soos gemeet in die hoeveelheid artikels wat verskyn het;
  • Personeel wat gehelp het om die pandemie te beveg en die uitwerking daarvan te versag;
  • Die Universiteit was medestigter van Stellenbosch Unite – 'n samewerkende beweging wat voedsel aan kwesbare huishoudings verskaf het;
  • Die US slaag daarin om sy indiensnemingsvoorwaardes en die meeste van sy personeel te behou;
  • Die aanstelling van prof Deresh Ramjugernath as Viserektor: Leer en Onderrig wat in Januarie 2021 by prof Arnold Schoonwinkel sal oorneem; en
  • Die heraanstelling van twee lede van die Rektoraat, prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, en prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, vir 'n tweede termyn.

Die ontvangers van die Kanselierstoekennings vir 2020, toegeken aan personeel wat volhoubare uitnemendheid toon, is ook by die virtuele personeelbyeenkoms aangekondig. Hulle sal hul toekennings by aanstaande week se Desember-gradeplegtighede ontvang.

Die ontvangers sluit die volgende persone in:

  • Prof Arnold Schoonwinkel – Rektoraat
  • Me Lazelle Bonthuys – Afdeling: Registrateur
  • Me Carol Kat – Afdeling: Chief Executive Officer
  • Mnr André van der Merwe – Afdeling: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel (dirigent van die US-koor)
  • Prof André Weideman – Fakulteit Natuurwetenskappe
  • Prof Nuraan Davids – Fakulteit Opvoedkunde
  • Mnr MJ Brooks – Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
  • Prof Johann Görgens – Fakulteit Ingenieurswese (Maart 2021)
  • Me Anèl de Beer – Fakulteit Ingenieurswese
  • Mnr Rodney Davidse – Fakulteit Ingenieurswese
  • Prof Gideon van Zijl – Fakulteit Ingenieurswese
  • Prof Jimmy Volmink – Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
  • Prof Mariana Kruger – Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
  • Me Ellen Tise – Afdeling: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies

Prof De Villiers het ook hulde gebring aan die uittredende Viserektor: Leer en Onderrig, prof Arnold Schoonwinkel, wat aan die einde van die jaar aftree. “Hy het reeds sedert sy studentedae diep spore hier getrap! Ons innige waardering vir jou uitstekende bydrae oor soveel jare in verskillende posisies. Ons wens jou alles van die beste toe," het De Villiers gesê.

Proff Stan du Plessis (Bedryfshoof), Schoonwinkel (Viserektor: Leer en Onderrig) en Nico Koopman (Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie & Personeel) het ook kort aanbiedings gedoen.  

Du Plessis het 'n oorsig van die US se begroting vir aanstaande jaar gegee. Van die sleutelpunte in sy aanbieding was die aankondiging van 'n styging in klas- en verblyfgelde vir US-studente, asook salarisaanpassings vir US-personeel in 2021.

Schoonwinkel het 'n oorsig van die afgelope agt jaar gegee en het van die Leer en Onderrig-span by die US se hoogtepunte gedurende sy termyn gedeel.

Van die hoogtepunte wat hy genoem het, sluit in:

  • Om die #FeesMustFall-protesaksies te deurstaan;
  • Die instelling van 'n veeltalige taalbeleid ter wille van inklusiwiteit;
  • Die inwerkingstelling van 'n hibriede leer-sakeplan; en
  • Die voltooiing van die 2020-akademiese jaar te midde van COVID-19.

Koopman het in sy aanbieding die vergroting en uitbreiding van gesondheids- en welweesdienste aan US-personeel en studente aangekondig. Hy het gesê die Universiteit is “dankbaar" om die omvang van die US se Personeel Welweeskantoor te kan uitbrei deur 'n vennootskap met 'n eksterne diensverskaffer, Life Employee Health Solutions.

“Hierdie hulpbron is daarop gemik om personeel en hul gesinslede met persoonlike en professionele aangeleenthede by te staan binne 'n omgewing wat heeltemal vertroulik is. Die diens is 24 uur per dag, sewe dae 'n week en elke dag van die jaar beskikbaar," het Koopman gesê.

US-personeel word aangemoedig om die Universiteit se webwerf te besoek vir meer inligting as ook vir prosedures en protokols vir hul terugkeer na die kantoor aanstaande jaar.