Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
EBW-staatmaker MJ Brooks ontvang Kanselierstoekenning
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 07/12/2020

Die alombekende direkteur van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, MJ Brooks, is met die Kanselierstoekenning vir 2020 in die kategorie professionele dienste vereer vir sy "buitengewone" bydrae tot die Fakulteit.

Dié gesogte toekenning gee erkenning aan personeel van die Universiteit Stellenbosch (US) wie se loopbane getuig van volgehoue uitnemendheid in navorsing, innovasie, leer en onderrig, sosiale impak en professionele dienste.

Brooks het die toekenning ontvang vir sy verbintenis tot die Fakulteit, asook sy toewyding, kreatiwiteit en leierskap van die afgelope twee dekades wat daartoe bygedra het dat die Fakulteit floreer en allerweë as 'n nasionale markleier beskou word.

Hy is al 21 jaar in diens van die Universiteit. Hy is oorspronklik in die dekaanskantoor van die Fakulteit Ingenieurswese aangestel (in 1999) en is gou tot fakulteitsbeampte bevorder. Sy breë ervaring van universiteitsbestuur het hom 'n geskikte kandidaat gemaak om in 2002 as fakulteitsbestuurder van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangestel te word. Met dié aanstelling het hy een van die eerste fakulteitsbestuurders by US geword. In 2011 is Brooks bevorder tot direkteur in die Fakulteit, hoofsaaklik weens sy strategiese leierskap en verantwoordelikhede.

Tydens sy ampstermyn het die Fakulteit se getal studente en personeel asook hulpbronne substansieel gegroei. Die studente-inname het gedurende dié tyd met 51% toegeneem, terwyl die getalle nagraadse studente en personeel verdubbel het (laasgenoemde van 188 tot 377).

Hy het toegesien dat hierdie groeistrategie op 'n volhoubare wyse geïmplementeer word en het verskeie individuele bydraes tot die sukses van die strategie gelewer. Hy het onder meer:

  • 'n interne fakulteitsbegrotingsmodel ingestel om seker te maak dat hulpbronne versprei word ten einde verdere groei aan te moedig;
  • verskeie nuwe akademiese programme suksesvol geïmplementeer met behulp van strategiese aansporingsfondse, finansiële modellering en operasionele beplanning;
  • 'n beursprogram genaamd Projek Zero vir voorgraadse studente geïmplementeer; en
  • verskeie strategiese navorsingsprojekte van stapel gestuur om die Fakulteit se navorsingsprofiel uit te bou.

Prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het gesê Brooks is alombekend in die Universiteit as die persoon by wie 'n mens aanklop wanneer jy 'n innoverende en weldeurdagte oplossing nodig het.

“Mnr Brooks beskik oor 'n buitengewoon suksesvolle leierskapstyl waarmee hy konsensus probeer bereik terwyl hy die span vinnig lei onderweg na 'n goeie uitkoms. Hy dink strategies, beplan met 'n langtermynvooruitsig, toor met data, delegeer doeltreffend en kry eenvoudig dinge gedaan," het sy gesê.

Getrou aan himself het Brooks verkies om die mense en die Universiteit wat hom oor die jare so goed behandel het, te prys.

“Ek kan eerlikwaar sê dat ek ná 20 jaar by dieselfde instelling nog nooit 'n vervelige oomblik beleef het nie. Die Universiteit Stellenbosch is 'n innoverende en uiters komplekse omgewing wat gedurig verander. Daar's altyd 'n nuwe krisis aan't broei.

“Die mense by US het my egter altyd deel van die span laat voel en hulle is die hoofrede waarom ek in staat was om reuse-uitdagings in die gesig te staar. Hierdie toekenning is dus nie net vir my nie, maar vir al my kollegas, departementele hoofde, direkteure van skole en die hoogs bekwame dekane met wie ek bevoorreg was om saam te werk en wat my oor die jare gelei en geïnspireer het.

“Laastens wil ek my pragtige vrou, Shirley, en ons twee dogters, Amy en Lynn-Mari, bedank. Dit klink dalk na 'n cliché, maar jy het iemand by die huis nodig om jou in jouself te laat glo – ek is opreg dankbaar teenoor hulle."​

Brooks sal sy toekenning tydens die gradeplegtigheid op 16 Desember ontvang.

  • Foto (verskaf):  Mnr MJ Brooks (2de van regs) met drie voormalige fakulteitsdekane saam met wie hy gewerk het. V.l.n.r. is proff Stan Du Plessis, nou US se uitvoerende bedryfshoof; Johann de Villiers en Estian Calitz, wat albei afgetree het maar steeds betrokke is by die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.