Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteitsdorpnetwerk: Benut internasionale reikwydte om plaaslike inisiatiewe te bevorder
Outeur: SU International
Gepubliseer: 07/12/2020

Binne die raamwerk van omvattende internasionalisering maak die Universiteit Stellenbosch (US) deel uit van etlike internasionale netwerke, vennootskappe en samewerkings wat nie net internasionalisering bevorder nie, maar terselfdertyd plaaslike verhoudings versterk. Een so 'n netwerk is die internasionale Universiteitsdorpnetwerk, 'n groep van elf universiteite van oor die hele wêreld, saam met die dorpe en stede waarin hulle geleë is.

Die netwerk het in Julie 2020 aanlyn byeengekom om te gesels oor die enorme veranderinge wat die koronavirus meegebring het, en om mekaar te ondersteun deur strategieë uit te ruil vir universiteite om positiewer rolspelers in hulle plaaslike omgewings te wees. In 'n opvolgsessie op 17 November het tien universiteite voorleggings gedoen oor suksesvolle samewerking tussen universiteite en dorpe/stede gedurende COVID-19. Dít het ingesluit die gebruik van universiteitsgeboue as toetsstasies, die beperking van studente op kampus en in die dorp/stad, en ondersteuning van die groter infrastruktuur om digitale leer te versterk en te fasiliteer. Na aanleiding van hierdie gesprekke oor praktiese maniere om deur middel van burgerlike skakeling studente én die plaaslike ekonomie te ondersteun, het lede belangstelling daarin uitgespreek om hierdie tema verder by toekomstige vergaderings van die netwerk te ondersoek.

Die netwerk is aan die einde van 2018 by die eerste universiteitsdorpkonferensie op Stellenbosch deur die US se Rektor prof Wim de Villiers en die Viserektor: Strategie en Internasionalisering, prof Hester Klopper, aangevoor. Ander lede is die Universiteit van Lund (Swede), die universiteite van Bath en Coventry (Verenigde Koninkryk), Queen's University van Noord-Ierland, die Universiteit van St Andrews (Skotland), Georg-August-Universität Göttingen (Duitsland), KU Leuven (België), Penn-staatsuniversiteit (Verenigde State), Queen's University van Kanada, en Rhodes-universiteit (Oos-Kaap, Suid-Afrika). US Internasionaal het ondanks die onstuimigheid van COVID-19 voortgegaan om as die netwerk se sekretariaat te dien.

Die vennootuniversiteite sal 'n hulpbron ontwikkel wat sal vertel van lede se innoverende benaderings om 'n al hoe groter rol in die bevordering van hulle onderskeie plaaslike gemeenskappe te speel.

Deur aan hierdie netwerk deel te neem, kombineer die US sy internasionale reikwydte met plaaslike impak tot voordeel van die gemeenskap van Stellenbosch en omgewing. 'Universiteit' en 'dorp' werk inderdaad nou veel beter saam danksy die US se internasionaliseringstrategie.

Vir verdere inligting, kontak anisakhan@sun.ac.za.

 

t&G.png 

t&g1.png 

Van die lede van die Universiteitsdorpnetwerk gedurende die aanlyn konferensie in Julie 2020.