Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US eer dosente met jaarlikse toekennings vir voortreflike onderrig
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 04/12/2020

“Daar is geen einde in uitnemendheid nie. By die Universiteit Stellenbosch is uitnemendheid prominent, dit is duidelik, maar dit is ook nie maklik om te bereik nie. Dit gaan daaroor om aan te hou. Die onderrig-portefeulje moet 'n dokument van nadenke wees. Nadenke oor wat ons geleer het deur aanhoudend harder te probeer om 'n goeie opvoeder te wees."

Dit was die boodskap van prof Arnold Schoonwinkel, uittredende Viserektor: Leer en Onderrig, by die jaarlikse Universiteit Stellenbosch (US) Toekennings vir Voortreflike Onderrig en Navorsing, wat vanjaar virtueel plaasgevind het.

Die US het die jaarlikse stelsel van institusionele toekennings vir voortreflike onderrig in 2017 ingestel. Die toekennings is ontwerp om voortreflike onderrig op institusionele vlak te erken en 'n geleentheid om waardering te toon vir onderrig wat nadenkend en kontekstueel bewus is.

Kandidate is deur hul fakulteite genomineer op grond van 'n onderrig-portefeulje, waarna die nominasies deur 'n institusionele keuringskomitee beoordeel is.

Schoonwinkel, wat die Toekennings vir Voortreflike Onderrig oorhandig het, het gesê die toekennings is belangrik vir die US, aangesien hulle die geleentheid geskep het om “uitstaande prestasies" te vier ondanks die ongunstige omstandighede wat baie van die US se akademiese personeel vanjaar weens die COVID-19-pandemie beleef het.

“Terwyl ons die COVID-19-pandemie beleef het, was dit was ongelooflik om die veerkragtigheid te aanskou waarmee almal by nood-afstandsonderrig, -leer en -assessering aangepas het. Hierdie veerkragtigheid by Stellenbosch, die bereidheid en gereedheid om enigiets aan te pak ten einde ons akademiese program se sukses te verseker, was uitmuntend en het die Universiteit gehelp om sy doelwit te bereik om die akademiese jaar te voltooi," het Schoonwinkel gesê.

In dieselfde konteks het prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, ook die akademiese personeel met hul onderrig en leer-prestasies gelukgewens. Hy het gesê daar “sou nie 'n universiteit sonder dosente en studente wees nie" en dat akademiese personeel 'n sleutelrol speel om aan studente die “transformerende ervaring" te bied waarna die US strewe.

“Toe die koronavirus ons vroeg in 2020 getref het, het ons al ons planne op net twee prioriteite gefokus – om die akademiese jaar te voltooi en om die US se volhoubaarheid te verseker. Ek dink die Universiteit het goed gevaar op albei gebiede, en dit was aandoenlik en inspirerend om te sien hoe die hele Universiteitsgemeenskap saamgestaan het in reaksie op die krisis, maar ek wil julle veral bedank vir jul bydrae in onderrig en leer, wat die sleutel tot ons sukses was," het De Villiers gesê.

Schoonwinkel het agt Toekennings vir Voortreflike Onderrig oorhandig. Hierdie toekennings gee in twee afdelings erkenning aan dosente, “Uitgelese Dosent" en “Ontluikende Dosent", op grond van hul ondervinding en leierskap in die vakkundigheid van onderrig en leer.

Deelnemers moes 'n portefeulje saamstel om hul nadenke oor en bewys van vier hoofonderdele te toon: konteks, studente, kennis en professionele groei. Hulle moes ook die lesse wat hulle geleer het op hul reis om uitstekende dosente te word, aandui.

Die volgende dosente het Toekennings vir Voortreflike Onderrig in die afdeling “Ontluikende Dosent" ontvang:

  • Dr Alexander Andrason (Departement Antieke Studies, Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe),
  • Dr Marenet Jordaan (Departement Joernalistiek, Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe),
  • Dr Tobi Louw (Departement Prosesingenieurswese, Fakulteit Ingenieurswese),
  • Mnr Juan Ontong (Skool vir Rekeningkunde, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe)
  • Dr Ilse Rootman-le Grange (Fakulteit Natuurwetenskappe),
  • Dr Martin Venter (Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese, Fakulteit Ingenieurswese), en
  • Dr Shantelle Weber (Departement Praktiese Teologie en Missiologie, Fakulteit Teologie).

Dr Mags Blackie (Departement Chemie en Polimeerwetenskap, Fakulteit Natuurwetenskappe) het Toekenning vir Voortreflike Onderrig in die afdeling “Uitgelese Dosent" ontvang.

Die US se Onderriggenote vir 2020/2021 is ook gedurende die virtuele geleentheid aangekondig. Die genootskapskema verskaf aan uitnemende dosente en vakkundiges in onderrig en leer die geleentheid om meer gereelde tydperke met verskillende vorme van ondersteuning deur te bring, om op aspekte van die vernuwing, verkenning en ontleding van goeie praktyke in departemente en fakulteit te fokus.

Die vier onderriggenote is:

  • Dr Taryn Bernard (Verlengde Graadprogram, Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe),
  • Prof Debby Blaine (Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese, Fakulteit Ingenieurswese),
  • Dr Gretha Steenkamp (Skool vir Rekeningkunde, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe), en
  • Prof Susan van Schalkwyk (Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe).

Vir meer inligting oor die Toekennings vir Voortreflike Onderrig en die Onderriggenote, kontak dr Karin Cattell-Holden by kcattell@sun.ac.za