Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die kuns om onuitgekendes weer te herken: Me Kathryn Smith
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 03/12/2020

​Nie baie kunstenaars is sommer gemaklik daarmee om toesprake te hou oor die politiek rondom die dood of nuwe protokolle wat die polisie kan gebruik by nadoodse ondersoeke om beendere van onbekende oorsprong te identifiseer nie. Nie alle kunstenaars vind ook sommer hul weg na 'n buitengewone wêreldkongres oor die bestudering van mummies nie, of na internasionale byeenkomste wat tegnieke bespreek word wat kan help om so akkuraat moontlik weer 'n gesig aan onbekende oorskot te gee nie. Hierdie is egter die wêreld van Kathryn Smith, 'n senior lektor aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Visuele Kunste, een waarin sy kuns met praktiese wetenskap kombineer.

Sy gebruik moderne 3D-beeldhousagteware en virtuele klei om virtuele gesigte te skep – alles in 'n poging om weer 'n naam en 'n geskiedenis te gee aan die oorskot van 'n ongeïdentifiseerde persoon.

In die tagtigerjare van die vorige eeu het televisiereekse soos die misdaadondersoekprogram “Police File" 'n onwaarskynlike volgeling gevind in 'n tiener van Durban wat uiteindelik 'n kunstenaar en akademikus sou word. Smith het haarself sedertdien nie bloot net by kunsuitstallings en museums bevind nie, maar ook in mediese navorsingslaboratoriums en konferensies wat onderwerpe aanraak wat sommige mense as donker, selfs makaber, kan beskou.

"Mense dink ek is 'n weirdo of Goth, of dat ek baie morbied is. Allesbehalwe! Ek's eintlik die vrolikste mens wat jy sal vind," vertel 'n opgeruimde Smith.

Smith is 'n voormalige wenner van die 2004 Standard Bank Young Artist-toekenning. Deesdae pas sy haar intellektuele belangstelling in forensiese estetika prakties toe as deel van werklike forensiese ondersoeke.

In 2018 het sy die beste plakkaataanbieding by die International Association for Identification se opvoedkundige konferensie in San Antonio in die VSA gelewer. Dis die oudste en grootste forensiese vereniging ter wêreld, en bring gewoonlik kundiges van alle vakgebiede bymekaar. Sy het al beurse ontvang om internasionale konferensies op die gebied by te woon, asook vanaf die Oppenheimer Gedenktrust, die Britse Chevening-beurs en die Nasionale Navorsingstigting.

Sy het onlangs 'n waardevolle bydrae gemaak tot die Sutherland-herbegrafnisinisiatief van die Universiteit van Kaapstad (UK). Die oorskot van nege individue, wat in die laat twintigerjare oneties deur die UK bekom is, is daardeur herbegrawe. Argiefrekords het die opspoor van lewende afstammelinge van hierdie individue vanuit die San- en Khoe-gemeenskappe van Sutherland in die Noord-Kaap, moontlik gemaak. Hulle het die span opdrag gegee oor watter wetenskaplike ontledings hulle gedoen wou hê, sodat hulle die lewens van hul voorouers beter kon begryp. Dit het ook gesigsrekonstruksies van skedels ingesluit, wat volgens hulle “'n pad na 'n groter verhaal" help bied het.

“Die werk omsluit die soort navorsings- en diensfokus wat ek hoop om in die toekoms selfs meer te kan lewer, binne sowel erfenis- as forensiese kontekste," het Smith gesê in 'n onlangse artikel oor die projek in Research @ Stellenbosch 2019. "Dit bied ook 'n ryke geleentheid vir onderrig in kuns en wetenskap, wat fundamenteel bevraagteken hoe kennis - en as uitbreiding daarvan ook ons geskiedenis – saamgestel is."

Smith het die beste deel van die afgelope vyf jaar studeer aan die Face Lab van die John Moores Universiteit van Liverpool, waar sy vanjaar haar PhD suksesvol voltooi het onder leiding van wêreldkundige prof. Caroline Wilkinson.

In Liverpool het sy as navorsings- en klasassistent gewerk, en bygedra tot Face Lab se argeologiese en forensiese ondersoeke, asook navorsings- en sosiale projekte. Smith het ook gehelp om die nagraadse program MA Kuns in Wetenskap-program aan dié Britse universiteit in 2016 bekend te stel.

In die Verenigde Koninkryk het sy toegang gehad tot tegnologie wat Wilkinson se span ontwikkel is. Hul digitale werkvloeiproses bevat 'n stelsel genaamd Geomagic Freeform, wat sogenaamde aanraak-terugvoer aan 'n gebruiker bied gedurende die skeppingsproses. Dit gee gebruikers deurlopend die gevoel dat hulle met 'n tasbare beeldhouwerk besig is, en nie maar net bloot virtueel en op 'n plat rekenaarskerm iets met 'n muis skep nie.

Danksy die sagteware tot haar beskikking rekonstrueer Smith eers gesigspiere, vet en individuele kenmerke met virtuele klei, en voeg ook 'n nek en skouers by. Daarna word 'n vellaag en verdere detail bygevoeg.

Smith begin enige gesigsheropbouproses met die noukeurige ontleding van 'n spesifieke skedel. Daarvoor kan die oorspronklike of 'n digitale 3D-weergawe daarvan gebruik word. Grondige anatomiese tegnieke word gebruik om ingeligte keuses oor die meeste gelaatstrekke te maak. Relevante foto's en verslae bied verdere hulp om hoogs spesifieke individuele fisiese kenmerke te kan aflei. Na 'n fyne ontleding van 'n skedel, insluitend die rekonstruksie van ontbrekende of beskadigde dele, word merkers van verskillende lengtes op spesifieke anatomiese punte geplaas wat ooreenstem met punte op 'n lewende gesig.

Haar PhD-proefskrif, met die stewige titel Laws of the Face: Re-Staging Forensic Art as a counter-forensic device, is vergesel deur 'n aanlyn-kunswerk genaamd Speaking Likeness. Daarin word gekyk na kruiskulturele praktyke van nadoodse ondersoeke, en oorweeg die rol van forensiese kuns in die uitkenning van menslike oorskot.

"Dit neem dikwels lank voordat mense tot by die punt kom waar dit nodig raak om 'n gesig op te bou vanuit oorskot. Dit word heel dikwels slegs aangevra as alle ander pogings om 'n identifikasie te maak onsuksesvol was, of dalk nie beskikbaar is nie," vertel sy.

As deel van haar PhD-navorsing het Smith daarom ondersoek ingestel hoe lewensvatbaar dit mag wees om dié intervensie reeds veel vroeër te gebruik om 'n ongeïdentifiseerde se identiteit vas te stel.

Danksy haar dryfkrag sal die Universiteit Stellenbosch benewens vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS) se forensiese diens die enigste Freeform-stelsel in die land hê. Aan die US sal dit beskikbaar wees vir navorsing en nagraadse opleiding.

''Deur goeie anatomiese kennis, grondige artistieke tegniek en hierdie moderne stelsel te kombineer kan ons akkuraat wees tot en met 2 mm regoor die veloppervlak, met 70% algehele akkuraatheid. Dit is getoets deur gesigte van lewende mense te rekonstrueer met behulp van CT-skanderingsdata, sodat ons soort met soort kan vergelyk," verduidelik sy meer oor Freeform.

Smith sê daar is baie praktiese redes om in sulke tegnologie te belê: “Suid-Afrika beleef 'n krisis as dit kom by die uitkenning van die identiteitloses. Ons het meer mense nodig wat weet watter tegnieke om te gebruik om menslike oorskot te identifiseer."

Sy sê slegs twee forensiese kunstenaars in SAPS is al jare gelede opgelei deur Wilkinson se span opgelei om hierdie digitale rekonstruksiestelsel te gebruik. Voordat die tegnologie aan die einde van die negentigerjare beskikbaar was, is die werk met die hand gedoen.

“Op dié gebied vat Suid-Afrika in baie opsigte voor – 'n noodwendige respons op die hoeveelheid sake wat oor tyd heen oopgemaak moet word. Hierdie praktisyns is daarom ongelooflik vaardig en ervare. Hulle doen pragtige werk, maar dit is 'n taak van epidermiese proporsies, want hul saaklas is enorm. In wese is hulle verantwoordelik vir alle sake in Suid-Afrika, en die Wes-Kaap, waarin ongeïdentifiseerde mense of oorskot betrokke is."

Noudat sy na Suid-Afrika en Stellenbosch terugkeer, gaan sy 'n samewerkingsprojek koördineer met kollegas by UK en SAPS se Forensiese Patologiedienste. Dit sal verskillende metodes vir nadoodse identifikasie ondersoek, insluitend osteobiografie, stabiele isotope-analise en forensiese genetika, en hoe dit gebruik kan word in die gesigsuitkenningsprosesse.

Haar praktiese blootstelling aan forensiese wetenskap het in haar vierde jaar van kunsstudies aan die Universiteit van die Witwatersrand begin toe 'n vriend, wat regte studeer het, haar morele ondersteuning gevra het. Hy wou 'n keusemodule in forensiese regskwessies loop, maar het nie kans gesien om alleen die verpligte lykskouing wat deel was van die kursus by te woon nie.

Smith sê sy kom nie uit 'n familie van wetenskaplikes, kunstenaars of polisiebeamptes nie.

“Ek's half 'n enigma, want ek's die enigste kunstenaar in die familie en een van die eerstes wat universiteit toe gegaan het," vertel sy joviaal, voordat sy byvoeg dat haar oupa president was van die Chevra Kadisha, 'n Joodse gemeenskapsorganisasie wat die liggame van oorledenes voorberei op begrafnis. Haar ma, weer was eens 'n onderwyseres maar spesialiseer tans in palliatiewe sorg.

Smith het reeds twee meestersgrade voltooi - een in die geesteswetenskappe, die ander in die natuurwetenskappe. Die eerste, in Beeldende Kunste, is in 1999 aan Wits Universiteit voltooi. Daarin het sy gekyk hoedat die Amerikaanse kunstenaar, Joel-Peter Witkin, die dood as tema in sy werk gebruik.

Vir haar MSc in Forensiese Kuns aan die Universiteit van Dundee in 2013 (ook onder leiding van Wilkinson), het sy ondersoek hoedat die vorm daarvan bydrae tot die herkenbaarheid van gesigsrekonstruksies, en hoe dit die breër forensiese ontleding van gesigte beïnvloed.

Na universiteit het sy vir die Mail & Guardian-koerant en die aanlyn kunsblad Artthrob geskryf. Sedertdien het sy baie van haar werk self befonds deur uitstallings soos Poisoned Pasts (in 2016, oor die nalatenskap van die Suid-Afrikaanse chemiese en biologiese oorlogvoeringsprogram, vir The Nelson Mandela Foundation) byeen te bring. Meer onlangs het sy begin werk as 'n senior kurator by die A4 Arts Stigting in Kaapstad.

Vir meer inligting, besoek https://speakinglikeness.info/

 

Vir die volgende paar weke stel ons u voor aan navorsers van die US wat in die jongste uitgawe van Research at Stellenbosch University. verskyn.