Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Spesiale mense om studente se spesiale behoeftes te akkommodeer
Outeur: Heather Osborn and the Neurodiversity Centre, Franschhoek
Gepubliseer: 27/11/2020

​​​Die Universiteit Stellenbosch (US) se administratiewe en ondersteuningseenhede is bekend vir hulle professionaliteit, doeltreffendheid en uitstekende dienslewering. Vir my en my liefste dogters met neuro-ontwikkelingsbehoeftes staan een eenheid egter kop en skouers bo die ander uit. Dit is nie slegs vanweë die aard van daardie eenheid nie, maar ook weens die personeel se deernis, toewyding en gewilligheid om die ekstra myl te loop in die lewering van bystand aan studente – soos my kinders – met spesiale leerbehoeftes, en ook aan hulle gesinne. Dié eenheid is die Eenheid vir Gestremdhede met dr Marcia Lyner-Cleophas aan die stuur. 

Albei my dogters is op die outismespektrum.

Dis dikwels baie moeilik om outisme en die verskillende manifesterings daarvan te begryp en te ondersteun; nie slegs omdat ʼn mens outisme nie kan ‘sien’ nie, maar ook omdat elke persoon op die spektrum se behoeftes so verskillend en eie aan daardie persoon is. Ook is soveel werklike empatie nodig om die ervarings van jongmense met outismetoestande te verstaan. Iets waaroor ons as ouers nooit getwyfel het nie, is dat ons dogters deurlopend sekere toegewings en spesifieke soorte ondersteuning nodig het om hulle volle potensiaal te bereik en om werklik aan ons wêreld – die wêreld van mense sonder outisme – te kan deelneem. 

Die oorskakeling van hoërskool na universiteit is vir alle ouers en kinders in ʼn mate skrikaanjaend omdat die kinders meer onafhanklik word en die sprong na ʼn onbekende omgewing waag. Hierdie oorskakeling was vir my en my twee dogters veral besonder moeilik en senutergend omdat ek geweet het dat, weens die ongelooflike groot impak van hulle outisme, die kanse maar skraal was dat hulle sukses sou behaal in hulle studies sonder die regte soort ondersteuning, ongeag hulle intelligensievlakke. 

Tydens die eerste besoek aan die Eenheid vir Gestremdhede in 2016 is ek oorweldig deur die warmte, respek en professionaliteit waarmee ons verwelkom is. Ek het dr Lyner-Cleophas ontmoet om my oudste dogter se behoeftes te verduidelik, asook die hulp wat sy tydens haar studie aan die US sou benodig. Dr Lyner-Cleophas het aandagtig geluister en dit was duidelik dat sy wou verstaan wat my dogter se behoeftes en leerervaring was, en sy het sinvolle vrae gevra om te verseker dat sy my dogter op elke moontlike manier sou kon help.

ʼn Ontmoeting is voor die begin van die akademiese jaar vir my, my man en my oudste dogter gereël met dr Lyner-Cleophas, prof Slattery (die hoof van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap) en die kursussamesteller om uit te pluis watter soort spesiale bystand my dogter nodig sou hê om haar te ondersteun in die behaling van haar graad. 

Aangesien die ontmoeting plaasgevind het nog voordat die lesings begin het, was my dogter ten volle voorbereid vir haar eerste jaar op universiteit, en dit was uitsluitlik te danke aan die EG. Sy studeer nou reeds vir drie en ʼn halwe jaar, nadat sy 2019 afgeneem het om bykomende krediete van die Aktuariële Vereniging te verkry, en sy ontvang steeds ondersteuning wat in die ware sin van die woord uitsonderlik is. Nadat ek vir baie jare moes baklei om vir my dogters outentieke insluiting te verkry, was en is ek steeds verstom deur die werklike ondersteuning en inklusiwiteit wat hulle hier ervaar.

Ook het die Eenheid vir Gestremdhede ʼn afsonderlike oriënteringsvergadering gereël vir alle eerstejaars met spesiale leerbehoeftes, om die prosesse volledig te verduidelik wat hulle moet volg om te verseker dat hulle die spesifieke soort ondersteuning verkry wat hulle as individue nodig het, byvoorbeeld ekstra tyd tydens eksamens en toetse, of afsonderlike eksamenfasiliteite. 

Die volgende is ʼn paar van die steundienste wat die Eenheid vir Gestremdhede bied en waarvan my dogters gebruik gemaak het:

  • Dr Lyner-Cleophas volg ʼn oopdeurbeleid sodat daar altyd ʼn veilige plek is om heen te gaan wanneer nodig. My oudste dogter het hierdie veilige plek ʼn paar keer gebruik toe sy ʼn angsaanval gehad het of aan sensoriese oorlading gely het. 

  • Dr Lyner-Cleophas het altyd met groot geduld en konsekwentheid geskakel met my dogters se sielkundiges van buite die US. 

  • Daar is aan my dogters kontaknommers gegee wat hulle enige tyd kon skakel as hulle oorweldig gevoel het of enige soort ondersteuning nodig gehad het. 

  • My oudste dogter sukkel met sensoriese oorlading in groot groepe mense en lesingsale, en dus dra sy tydens lesings kopfone wat geraas uitskakel. Die Eenheid het al haar dosente vroegtydig in kennis gestel dat daar ʼn student met kopfone in hulle klas sou wees, asook die rede daarvoor, sodat sy nie in die moeilikheid sou kom nie.​

  • Die Eenheid het gereël dat die voorsitter van my oudste dogter se privaat studenteorganisasie haar ontmoet om die oriënteringsprogram in detail met haar te bespreek. Sy het dus vooraf geweet watter sessies nie vir haar geskik sou wees om by te woon nie omdat daar groot groepe studente sou wees en die geraasvlakke vir haar ondraaglik sou wees. Om die waarheid te sê, het die voorsitter haar by ons huis kom sien (ons woon in Stellenbosch) en ook vir haar die kontakbesonderhede gegee van persone met wie sy gedurende oriëntering in aanraking kon kom, sowel as persone vir wie sy in haar eerste weke op universiteit kon kontak as sy op die kampus verdwaal het of enige bystand nodig gehad het.​​​​​

Die mees onlangse voorbeeld van die hulp wat die Eenheid vir Gestremdhede voorsien het, was gedurende die Covid-19-inperking. My oudste dogter was besonder angstig en het gesukkel om aan haar minitesis te werk en terselfdertyd met ʼn groot jaarmodule by te hou. Hulle het vir haar ʼn Skype-vergadering met haar kursussamesteller gereël om die projek in detail te verduidelik omdat haar uitvoerende disfunksie intense spanning veroorsaak het. Boonop het dr Lyner-Cleophas ʼn Zoom-vergadering met haar gehou om uit te vind hoe sy die pandemie se stressors hanteer, en sy het besef dat my dogter se angsvlak geweldig hoog was (wat dit basies vir persone op die outismespektrum onmoontlik maak om hoegenaamd op enige vlak te funksioneer). Gevolglik het sy voorgestel dat my dogter op haar minitesis konsentreer en dat sy ʼn deel van haar studies in haar tweede honneursjaar afhandel, en sy het haar vertel hoe om aansoek te doen vir die goedkeuring van hierdie verandering en die implementering daarvan. My dogter het na afloop van haar vergadering met dr Lyner-Cleophas gesê dat dit vir haar voel asof sy weer kan asemhaal. Ek is diep dankbaar vir die mate waarin dit my dogter meer optimisties gemaak het en haar weer hoop vir die toekoms gegee het. 

Verder het die skielike omgewingsverandering hoë spanningsvlakke by albei my dogters veroorsaak en die Eenheid vir Gestremdhede het finansiële hulp verleen sodat hulle elk twee intervensiesessies per week kon bywoon by die Neurodiversiteitsentrum, wat spesialiseer in neuropsigiatriese en neuro-ontwikkelingsgestremdhede en -toestande.

My jongste dogter se universiteitsloopbaan het in 2020 afgeskop, en sy het net soveel bystand as haar suster ontvang, maar met selfs nog meer begrip vir haar outisme omdat die Eenheid vir Gestremdhede nou al ʼn paar jaar meer se ondervinding daarvan het. ʼn Bykomende aspek waarmee die eenheid ons gehelp het, was om ʼn koshuis vir haar te kies. Hulle het ons ingelig oor watter koshuis kleiner en stiller is en waar dit dus vir ons jongste met haar ouditiewe oorlading die maklikste sou wees. 

Danksy die Eenheid se hulp hanteer albei my dogters dit goed om aanlyn te leer. Hulle ontvang vinnige reaksies en wonderlike ondersteuning wanneer hulle dit ook al nodig het.

Die Eenheid het ook spesiaal na my jongste dogter uitgereik om uit te vind of sy regkom met aanlyn leer sodat hulle haar kon ondersteun indien nodig. 

Laastens was die Eenheid uiters behulpsaam deur te reël dat my dogters beurse ontvang wat korporatiewe maatskappye spesifiek aan studente met spesiale leerbehoeftes toeken. 

Ek sê ʼn baie groot dankie aan al die wonderlike personeel van die Eenheid vir Gestremdhede. Mag julle altyd voortgaan om met sulke toewyding hulp en ondersteuning te verleen aan diegene wat dit nodig het. Hierdie is ʼn eenheid wat die taak waarvoor dit in die lewe geroep is, skitterend uitvoer en ek hoop van harte dat julle die erkenning sal kry wat julle so ryklik verdien. 

Met diepe dankbaarheid en respek. 

ʼn Dankbare moeder.​​