Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
mCG-dieet ʼn oneffektiewe, potensieel gevaarlike middel vir gewigsverlies
Outeur: Hanél Sadie-Van Gijsen & Liske Kotze-Hörstmann
Gepubliseer: 17/11/2020

Die mCG-dieet, wat soms aggressief bemark word, is ʼn oneffektiewe, duur en potensieel gevaarlike middel vir gewigsverlies, skryf Drr Hanél Sadie-Van Gijsen & Liske Kotze-Hörstmann (Sentrum vir Kardio-metaboliese Navorsing in Afrika) in ʼn meningsartikel vir Timeslive (17 November 2020).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

​Vetsug (obesiteit) is 'n wêreldwye problem. Ongelukkig het Suid-Afrika dit nie vrygespring nie, en volgens die Nasionale Departement van Gesondheid is ongeveer 30% van Suid-Afrikaanse mans en 'n oorweldigende 68% van Suid-Afrikaanse vroue oorgewig. Behalwe vir al die komplekse oorsake van vetsug, word die problem vererger deur die feit dat ons nie effektiewe behandelings het wat vetsug kan aanspreek nie.

Selfs medikasie wat goedgekeur is om vetsug te behandel bied maar flouerige resultate, met gemiddelde gewigsverlies van slegs 3 – 5 kg, en hulle het dikwels aaklige newe-effekte. Dit veroorsaak 'n perfekte storm: 'n groot aantal mense wat desperaat is vir 'n oplossing tot hulle gewigsprobleme, en 'n groot aantal mense wat bereid is om hierdie desperaatheid uit te buit deur middel van kwakkery. Een so 'n “behandeling" wat bemark word deur gewigsverlies-klinieke en spa's is menslike chorioniese gonadotropien (mCG, in Engels hCG), ook bekend as die “swangerskapshormoon".

Die idee van mCG as 'n gewigsverliesmiddel het ontstaan uit die werk van dr Albert Simeons, wat oorspronklik in 1954 in die mediese joernaal Lancet gepubliseer is, en later ook in sy boek, “Pounds and Inches". Dr Simeons het daaglikse lae-dosis mCG inspuitings saam met 'n baie lae kalorie dieet (BLKD) aanbeveel vir gewigsverlies. Tot vandag word die mCG dieet, wat ook bekend staan as die “Simeons metode" of die lipolitiese/vetverbrandingsdieet, nog steeds bemark as die pad na fantastiese gewigsverlies. Advertensies vir hierdie program belowe radikale gewigsverlies (tot 1kg per dag!), die “hervorming" van jou liggaam om slegs “abnormale" vet soos middelvet te verbrand, onderdrukking van jou eetlus en 'n algemene gevoel van welwees en self-vertroue. Die mCG dieet word ook aanbeveel en bemark deur beroemde TV-dokters soos Doctor Oz.  

Maatskappye soos Slender Wonder bemark 'n mediese gewigsverliesprogram wat 'n BLKD program, aanvullings, mediese toesig en persoonlike ondersteuning insluit, tesame met vaag beskrewe inspuitings wat op nadere navraag blyk om mCG inspuitings te wees.  Op ander webtuistes kan jy mCG inspuitings en druppels blykbaar sonder 'n voorskrif aankoop, saam met instruksies vir die BLKD dieet. mCG produkte kan ook op algemene aanlyn inkopie-platforms soos Takealot bestel word. (Hierdie is geensins 'n volledige lys nie, slegs 'n paar voorbeelde wat opgeduik het na 'n vinnige Google soektog.) In een besonder verregaande voorbeeld adverteer 'n gekwalifiseerde mediese dokter met “estetiese" mediese praktyke in Rivonia en Sandton die Simeons metode asook homeopatiese mCG produkte, wat volgens die definisie vir die voorbereiding van homeopatiese produkte dus geen aktiewe mCG kan bevat nie. Hulle maak ook vele onwaar stellings op hul webtuiste, soos dat mCG teenwoordig is in elke weefsel in die menslike liggaam, insluitende in mans en in vroue wat nie swanger is nie.  

Dit is doodgewoon nie waar nie. mCG word slegs vervaardig deur die groeiende embrio tydens swangerskap, of deur sekere kankergewasse, en dus het ons nie normaalweg enige mCG in ons liggame nie. Dit is belangrik om te onthou dat mCG, net soos alle ander hormone, 'n groot impak het op hoe ons liggame funksioneer. In vroue kan mCG inspuitings ovulasie aanbring, en sulke inspuitings word dus algemeen gebruik as deel van vrugbaarheidsbehandeling. mCG is ook die oorsaak van oggendnaarheid tydens swangerskap. In mans stimuleer mCG inspuitings testosteroon-vlakke, en mCG is dus 'n verbode middel in manlike atlete volgens Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels (Wada). mCG variante wat teenwoordig is in kru mCG preparate kan ook die groei en verspreiding van vele tipes kanker aanwakker, wat natuurlik erg kommerwekkend is.

Behalwe vir hierdie potensieel gevaarlike gevolge van mCG, is dit ook al deeglik bewys dat die Simeons metode nie werk nie. Dosyne beheerde proewe, insluitend een wat in Suid-Afrika uitgevoer is, het al gewys dat mCG nie meer effektief is vir gewigsverlies as kalorie-beperking nie. 'n Studie van 1995 wat die resultate van 'n groot aantal studies gekombineer het, het bevind dat daar “geen wetenskaplike bewys is dat mCG effektief is vir die behandeling van vetsug nie. Dit bring nie gewigsverlies of die herverspreiding van liggaamsvet mee nie, dit verlaag ook nie eetlus nie en gee nie 'n gevoel van welwees of genoegdoening nie".

Dit is ook opmerklik dat die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-owerheid (FDA) so onlangs as Julie 2020 'n verbruikersnota gepubliseer het wat benadruk dat mCG nie goedgekeur is vir gewigsverlies nie, en dat daar geen bewyse is dat dit enigsins kan bydra tot gewigsverlies nie. Hulle waarsku ook dat die BLKD wat saam met die mCG inspuitings aanbeveel word kan aanleiding gee tot wanvoeding, galstene, elektroliet-wanbalanse en afwykings in hart-ritme.  

“Alternatiewe" vorms van mCG is nog 'n groter mors van geld. mCG is 'n proteïen-hormoon wat nie per mond as druppels of tablette geneem kan word nie, omdat dit eenvoudig verteer sal word deur die maagsure. Aangesien mCG 'n hormoon is, kan produkte wat geadverteer word as “hormoon-vrye mCG" per definisie geen aktiewe mCG bevat nie, en daar is ook geen bewyse dat kruie-konkoksies dieselfde effek as mCG kan hê nie.  

Volgens die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA, die voormalige Medisynebeheerraad), is mediese-gehalte mCG 'n Skedule 4 middel, en die aankoop en gebruik daarvan vereis dus 'n voorskrif van 'n goedgekeurde mediese praktisyn. Dit is dus onwettig om mCG produkte aanlyn te koop of verkoop sonder 'n voorskrif. Sekere maatskappye soos Slender Wonder noem wel op hul webtuiste dat mCG inspuitings slegs onder mediese toesig toegedien mag word, maar dit verander nie die feit dat sulke inspuitings nie werk vir gewigsverlies nie. Dus, ten beste is mCG produkte vir gewigsverlies (indien dit ooit enige aktiewe mCG bevat) 'n mors van geld, maar dit kan ook ernstige nagevolge hê. Hoe jy ook al daarna kyk, dis dit bloot nie werd nie.

En hier is iets anders om in gedagte te hou: die wetenskaplike studies en proewe wat hier genoem is, is almal op die hoë-gehalte Medline databasis van die Amerikaanse nasionale institute vir gesondheid  (NIH) gelys. Hierdie databasis is die hoogste standaard vir alle gepubliseerde biomediese navorsing, en opsommings van al hierdie studies is vrylik aanlyn beskikbaar. Daarmee saam is die ander bronne wat ek aangehaal het, soos die WADA, die FDA en selfs Wikipedia net 'n vinnige Google soektog ver.

Gekwalifiseerde en gelisensieerde mediese praktisyns behoort dus regtig beter te weet as om gewigsverliesprodukte te bemark wat nie werk nie en nie goedgekeur is vir daardie doel nie. Hulle kan ook nie beweer dat hulle nie bewus is van die feite rondom die mCG dieet nie. Maar terwyl hierdie kwaksalwers sal aanhou probeer om hulle “slang-olie" te smous, is dit jou eie plig as verbruiker om verantwoordelikheid te neem vir jou eie gesondheid en presies te verstaan waaraan jy jou liggaam blootstel.  

*Drs Hanél Sadie-Van Gijsen and Liske Kotze-Hörstmann is verbonde aan die Sentrum vir Kardio-metaboliese Navorsing in Afrika by die Universiteit Stellenbosch.